Kaapstad is nie net een van die mooiste stede ter wêreld nie. Kapenaars kan hulleself nou ook op die skouer klop dat dit een van die sexyste stede in die wêreld is en kort op die hakke is van Parys in Frankryk wanneer dit by seks kom.
Die Moederstad is aangewys as die vyfde sexyste stad in die wêreld gebaseer op ’n steekproef onder meer as 2,5 miljoen interaksies op ’n wêreldwye sosiale media-webwerf.
Kaapstad se seksuele aantrekkingskrag is selfs gewilder en meer aanloklik as stede soos Rio de Janeiro, New York en Amsterdam.
Volgens die Big 7 Travel-maatskappy is die Moederstad nie net die tuiste van die tweede-sexyste aksent ter wêreld en van die mees sexy mense op die planeet nie. Suid-Afrikaners is ewe aktief wanneer dit kom by soektogte op die internet na seksspeelgoed. Een van die studies toon dat Suid-Afrikaners wêreldwyd derde gekom het vir die hoogste aantal soektogte op Google wanneer daar na wulpse seksspeelgoed gesoek word. Slegs Amerika en Engeland se inwoners het die Suid-Afrikaners se soeke na dié speelgoed geklop.
Kaapstad staan kop en skouers bo die meeste ander stede uit wanneer dit kom by intieme avontuurtjies en romantiese bederfies.
Op een van die webwerwe wat die nuus versprei, Business Insider, word internasionale reisigers aangeraai om ’n eenrigtingkaartjie Kaapstad toe te bespreek as hulle op soek is na passie, romanse en sexy aksente.
Big 7 Travel het 50 van die wêreld se stede gerankskik in volgorde van stede wat onder andere die meeste seks het, die meeste seksspeelgoed aanlyn soek, die beste stede is vir enkellopers, die sexyste nasionaliteite in die wêreld het en die mees romantiese plekke in die wêreld het, volgens die menings van hulle 2,5 miljoen lesers.
Die romantiese plekke sluit in restaurante, laataand-kuierplekke en aktiwiteite wat die bloed vinniger laat klop en besoekers se passie aanwakker.
Kaapstad voldoen skynbaar aan al die vereistes. Die stad jaag nie net die bloeddruk op nie maar is propvol pragtige enkellopers op soek na romantiese pret. En dit is nie net die enkellopers wat Kaapstad onweerstaanbaar vind as dit by romanse kom nie. Selfs ou getroudes en diegene wat reeds hulle harte aan iemand anders beloof het, vind die stad hoogs verleidelik.
Daar word gesê dat Kaapstad maklik met die eerste prys sou kon wegstap as die mededinging nie so straf was nie.
- Die top tien stede in die wêreld wat as die sexyste stede gereken word, is van nommer tien tot een soos volg:
Buro: MvH10. Los Angeles, Kalifornië in Amerika
9. Liverpool in Engeland
8. Dublin in Ierland
7. Cap d’Agde in Frankryk
6. Zürich in Switserland
5. Kaapstad in Suid-Afrika
4. Kopenhagen in Denemarke
3. Denver, Colorado in Amerika
2. Parys in Frankryk
1. Miami, Florida in Amerika