Kaapstad Internasionale Lughawe is vir die sesde agtereenvolgende jaar aangewys as die beste en skoonste lughawe in Afrika.
Die lughawe is by die 2021-Skytrax World Airport Awards ook aangewys as die lughawe met die beste lughawepersoneel in Afrika.
Vyf van Suid-Afrika se lughawens tel onder die top-tien lughawens in Afrika. Durban se King Shaka-lughawe in KwaZulu-Natal was in die tweede plek en die OR Tambo-lughawe in Johannesburg derde.
Gqeberha (Port Elizabeth) se Dawid Stuurman Internasionale Lughawe en Bloemfontein se Bram Fischer-lughawe was onderskeidelik in die negende en tiende plek onder Afrika se top-tien lughawens.
@capetownint has done it again! The airport has won the Best Airport in Africa Award for the sixth consecutive year as well as the Best Airport Staff in Africa Award at the 2021 Skytrax World Airport Awards. #Winners #airports #Skytrax #travel @skytrax_uk pic.twitter.com/aZSm373KQT
— Cape Town Airport (@capetownint) August 10, 2021
Lughawens wat in aanmerking kom vir die toekenning word volgens Skytrax se amptelike webwerf aangewys deur passasiers en kliënte wat die lughawens besoek.
Skytrax, wat lughawens wêreldwyd reeds twee dekades lank evalueer, het die jongste wenners vroeër die maand bekendgemaak.
Wanneer daar egter na die breër globale prentjie gekyk word, is alles nie net maanskyn en rose vir Kaapstad nie. Ten spyte van die lughawe se goeie prestasie in Afrika het die lughawe se wêreldwye statuur tydens die COVID-19-pandemie skerp gedaal.
Internasionaal het Kaapstad tot die 33ste plek op die lys van die beste lughawens gedaal en bevind hom nou tussen Brisbane en Djakarta. Verlede jaar het Kaapstad globaal die 23ste plek beklee en is nou die laagste in tien jaar op die wêreldwye lys.
Johannesburg se OR Tambo-lughawe het nog verder teruggesak ten opsigte van internasionale gradering. Dié lughawe het 18 plekke teruggesak en is nou nommer 54 op die lys van die beste lughawens wêreldwyd.
Die Wes-Kaapse regering het in hulle reaksie gesê om die toekenning vir die beste lughawe in Afrika vir die sesde agtereenvolgende jaar te wen is selfs meer buitengewoon gegewe die uitdagings wat die reisbedryf die afgelope jaar ervaar het.
Die Wes-Kaapse regering sê in ’n verklaring hulle sal ten volle gereed wees om weer toeriste in Kaapstad en die res van die provinsie te verwelkom wanneer die toerisme- en reisbedrywe herstel, omdat dit van kritieke belang is vir die provinsie se strategie om werksgeleenthede te beskerm en die ekonomie op te bou.
Die provinsie se minister van finansies en ekonomiese aangeleenthede, David Maynier, sê die provinsie is geweldig trots op die span by Kaapstad Internasionale Lughawe wat hierdie konstante wêreldklas diens lewer aan diegene wat Kaapstad en die Wes-Kaap besoek.
1/2 Congratulations to @capetownint who have once again won the prestigious Skytrax World Airport Award for best airport in Africa for the 6th consecutive year.
Read full statement 👉https://t.co/ys3Mm7YuK6 https://t.co/FGPIksNwhz
— David Maynier (@DavidMaynier) August 10, 2021
Kaapstad Internasionaal is Afrika se derde grootste lughawe en hanteer jaarliks meer as tien miljoen passasiers volgens die lughawe se bedryfsmaatskappy, Airports Company South Africa (Acsa).
Sedert hulle in 1999 begin het om lughawens te evalueer, het Skytrax die kliëntediens en fasiliteite van meer as 500 lughawens beoordeel.
Hoewel die Kaapstad-Johannesburg-roete steeds die besigste binnelandse roete in Afrika is, het plaaslike passasiersgetalle tydens die pandemie met die helfte gedaal. Internasionale passasiers het met byna 90% gedaal volgens data wat deur Acsa ingesamel is.
Emirates-lugdiens het intussen aangekondig dat hulle vlugte na Kaapstad gaan hervat.
Kaapstad Internasionaal het op sy Facebook-blad gesê hy verwelkom Emirates terug ná ’n afwesigheid van 208 dae. “Ons is bly om meer internasionale lugrederye te sien terugkeer, wat ons toelaat om ons passasiers met meer internasionale bestemmings van Kaapstad Internasionale Lughawe te voorsien.” Emirates bied drie weeklikse aankomsvlugte na Kaapstad – elke Woensdag, Vrydag en Saterdag – en drie weeklikse vertrekvlugte – elke Donderdag, Saterdag en Sondag.