Kaapstad se treindienste deur brande gesaboteer

  • 0

Foto: http://capetowntrains.freeblog.site

Die skade wat brandstigters aan treine by die Kaapstadse stasie aangerig het waarin treinwaens die afgelope naweek uitgebrand het, beloop na raming sowat R30 miljoen.     

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) sê sewe waens is heeltemal vernietig in die brand, en dit is steeds onduidelik wie vir die skade verantwoordelik is.

Prasa het die sinlose vernietiging van sy treine Maandag ten sterkste op Metrorail se webwerf veroordeel (http://capetowntrains.freeblog.site).

Volgens Prasa het een trein volgens gerugte op platform 15 by die stasie opgedaag terwyl een van die waens reeds aan die brand was. Volgens Prasa beweer ander bronne egter dat die treinwa aan die brand gesteek is toe passasiers van die trein afgeklim het nadat die trein op die stasie stilgehou het.

Die brandende trein het langs platform 16 stilgehou, waar nog ’n stilstaande trein aan die brand geraak het. Altesaam sewe treinwaens, asook ander toerusting, is totaal verwoes.

Volgens Prasa se mediaverklaring is die brand deur drie tieners opgemerk wat die veiligheidswagte daarvan in kennis gestel het. Hulle het gepoog om die brand te blus, maar dit het vinnig na die aanliggende platform versprei, waar ’n tweede trein vlamgevat het.

Die voorsitter van Prasa se beheerraad, Khanyisile Kweyama, wou nie spekuleer oor die oorsaak van die brand nie. Sy het egter haar kommer uitgespreek oor die vlaag brande wat die afgelope tyd op Kaapse treine uitgebreek het.

Prasa se uitvoerende hoof, Sibusiso Sithole, sê hy het die Wes-Kaap ’n paar weke gelede besoek om vas te stel wat benodig word om die treindiens in die gebied te stabiliseer. Planne is reeds gemaak om nuwe waens na Kaapstad te stuur, maar as gevolg van die jongste brande word die planne nou heroorweeg.

Sithole sê dit is dalk nie wys om nuwe treine onder die huidige omstandighede na Kaapstad te stuur nie.

Hoewel dit steeds nie duidelik is wie vir die brande verantwoordelik is en hoe dit ontstaan het nie, word die moontlikheid van sabotasie ondersoek.

Sithole sê Prasa gaan ’n hoëvlakafvaardiging na Kaapstad stuur om die situasie te ondersoek en hopelik uit te vind wat presies daar gebeur het.

Kweyama sê hulle is besorg oor die toedrag van sake wat lyk soos ’n patroon van treinbrande wat die Wes-Kaap die afgelope tyd teister. Sy het bevestig dat Prasa die afgelope paar maande hard gewerk het om die treindienste in die Wes-Kaap, en spesifiek die sentrale lyn na Kaapstad, te normaliseer, maar sê die jongste brande het ’n demper op die hele operasie geplaas.

Sy sê as daar ’n element van kriminaliteit by die afgelope naweek se brande betrokke is, dit ’n sinlose daad is teen die enigste openbare vervoerstelsel wat bekostigbaar is vir die massas pendelaars wat daarop staatmaak.

Intussen het die nasionale vervoerunie Untu ’n beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, gedoen om ’n taakspan aan te stel om die vlaag brandstigtings op treine in die Moederstad te ondersoek. Die unie sê die afgelope naweek se brande was die vyfde so ‘n geval die afgelope maande.

Untu se sekretaris-generaal, Steve Harris, sê geen nuwe treine sal toegelaat word om op dié roetes in die Wes-Kaap diens te verskaf nie, tensy die treinroete sodanig beveilig word dat soortgelyke voorvalle gekeer word.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top