Kaapstad se hele spoorvervoerstelsel is op die rand van algehele ineenstorting as gevolg van volgehoue vandalisme en swak bestuur.
Die voorstedelike spoorvervoeragentskap Metrorail het Donderdag ’n dringende beroep op gemeenskappe in die Moederstad gedoen om die toenemende vandalisme van die stad se spoorwegstelsel onverwyld by die betrokke owerhede aan te meld.
Metrorail waarsku dat die toestand verder sal versleg as gemeenskappe nie help om vandalisme hok te slaan nie.
Metrorail will be unable to address the rise in vandalism against our railway infrastructure, which is endangering operations, without the assistance of our communities, otherwise, the situation will worsen.
All railway crimes should be reported. 0218187234/35— Metrorail W/Cape (@CapeTownTrains) October 14, 2021
Vandale het die afgelope aantal weke opnuut toegeslaan en miljoene rand se skade aan verskeie spoorlyne in en om Kaapstad aangerig.
In ’n ondersoek wat pas bekend gemaak is, het die DA bevind dat byna 70% van Kapenaars in gebiede wat voorheen toegang tot passasierstreindienste gehad het, geen toegang meer daartoe het nie.
Slegs sowat 36% van die stad se inwoners het tans toegang tot ’n doeltreffende funksionerende treinstasie in die gebied waar hulle woon.
Dit is veral die stad se armste inwoners wat die swaarste getref word. Meer as een miljoen mense woon in gebiede aangrensend aan die sentrale spoorlyn op die Kaapse Vlakte. Dit sluit gebiede soos Khayelitsha en Mitchells Plain in.
Volgens die DA se verslag het ’n skokkende 97,7% van hierdie mense nie meer toegang tot enige treinvervoer nie.
Vroeër die week het skade aan Metrorail se suidelike lyn in Kaapstad veroorsaak dat ’n gedeelte daarvan ook moontlik tot ’n week lank gesluit kan wees.
Metrorail het op Twitter erken treindienste in die Wes-Kaap is op die rand van ineenstorting en dat vandalisme buite beheer is.
#BeTrainSmart#StopVandalism#ProtectOurRailway#ActOnCrime#ItsYourStation
We cannot do this alone #TogetherStronger pic.twitter.com/tqVEV09BsH— Metrorail W/Cape (@CapeTownTrains) October 14, 2021
Die DA sê in ’n verklaring hulle ondersoek toon dat die omvang van die skade en ineenstorting veel groter is as wat algemeen bekend is.
Hulle lê die skuld daarvoor voor die deur van die nasionale regering.
Die DA sê net soos in die geval van beurtkrag en polisiëring sal die ANC-regering op nasionale vlak nooit in staat wees om Kaapstad se spoorwegstelsel tot sy volle kapasiteit te herstel nie, om nie eers te praat van uitbreiding daarvan om te voldoen aan die eise van ’n moderne integrale openbare vervoerstelsel nie.
Dit is waarom hulle alles in hulle vermoë sal doen om volle beheer oor Kaapstad se treindienste oor te neem. “Ons glo die grense van die Grondwet is nog nie ten volle getoets wat dit betref nie. Munisipale openbare vervoer is deel van plaaslike regering. Volgens die Grondwet het munisipaliteite die reg om beheer uit te oefen oor enige saak wat redelikerwys nodig is vir die effektiewe uitoefening van sy funksies,” sê Kaapstad se burgemeesterskandidaat vir die komende plaaslike verkiesing, Geordin Hill-Lewis.
Byna twee miljoen van Kaapstad se mense woon naby stasies, maar dekades se wanbestuur deur die nasionale regering, tesame met die afgelope byna twee jaar se inperkings, het die hele stad se spoorwegstelsel op sy knieë gedwing, sê Hill-Lewis. Die enigste oplossing vir die probleem is volgens hom om met die privaatsektor ’n vennootskap te sluit vir ’n toekomstige spoorvervoerstelsel wat deur private konsessies bedryf word.
Net soos in die geval van kragopwekking en die bestuur van die hawens besef die regering toenemend dat hulle nie meer geld oor het nie. Hulle is eenvoudig nie langer in staat is om die spoordienste te bedryf nie. Daarom is Transnet reeds besig om voelers na die privaatsektor uit te steek, het Hill-Lewis gesê.
- Beide foto's deur die DA aan die media gestuur.