Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kopiereghouer: Morné van Rooyen, met vergunning geplaas)
Die stryd teen COVID-19 in die Wes-Kaap het Woensdag ’n reusehupstoot gekry met die opening van een van die grootste massa-inentingsentrums in Afrika. Duisende mense sal elke dag by die sentrum ingeënt word.
Die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) was tydens die eerste fase van COVID-19 ook die grootste veldhospitaal in Afrika om pasiënte te behandel. Daar is Woensdag begin om die eerste inentings by die sentrum toe te dien.
📢 The CTICC Vaccination Centre of Hope officially opens today! This site will administer over 4 000 vaccinations per day when it is fully operational & will be one of the largest & most sophisticated vaccination sites in the country.
Read more here: https://t.co/stioo4SZfa pic.twitter.com/8eblTxtWJW
— Premier Alan Winde (@alanwinde) July 7, 2021
Die Sentrum van Hoop, soos wat Kiks tydens die pandemie bekend staan, hoop om elke dag meer as 4 000 mense in te ent wanneer dit ten volle operasioneel is. Dit is ook die mees gesofistikeerde inentingsentrum in die land.
Daar word geraam dat sowat 750 000 mense teen Desember by die sentrum ingeënt sal wees om hulle teen COVID-19 te beskerm.
ICYMI 👉 The CTICC Vaccination Centre of Hope opens today! This mass vaccination centre is a pioneering private/public sector collaboration that will see over 4 000 people vaccinated per day when it reaches its full operating capacity. Read more: https://t.co/ApSIjmDebG. pic.twitter.com/uyEt9NXvQ2
— Western Cape Gov (@WesternCapeGov) July 7, 2021
Die provinsie het reeds twee kleiner massa-inentingsentrums waar mense hulle kan laat ent. ’n Vierde een word in die Athlone-stadion beplan. Die ander twee is by die Parc du Cap-gebou by Tygervallei en Mutual Park in Pinelands.
Premier Alan Winde sê die Sentrum van Hoop toon pioniersamewerking tussen die openbare en privaatsektore.
Winde sê in ’n verklaring hy is trots om te sien hoe hierdie samewerking in die praktyk realiseer. Dit wys hoe daar kwaliteitdiens aan die provinsie se inwoners gelewer kan word wanneer die openbare en privaatsektore saamwerk. Winde het die hoop uitgespreek dat dit die begin is van vele sulke gesamentlike projekte by Kiks.
Mense wat hulle wil laat ent, kan dit by die sentrum doen ongeag of hulle aan ’n mediese fonds behoort of nie. Winde sê niemand sal weggewys word nie, omdat elke lewe tel.
Die sentrum word deur die Wes-Kaapse regering in samewerking met Discovery Health bedryf. Die provinsie sal verantwoordelik wees vir die oorhoofse koördinasie, die voorsiening van entstof en die bestuur daarvan.
Discovery Health is verantwoordelik die kliëntediens, verskeie aspekte rakende die tegnologiese bedryf van die sentrum en ook die administratiewe funksies.
Discovery se uitvoerende hoof, Ryan Noach, sê hierdie sentrum is ’n welkome hupstoot vir die land se inentingsprogram.
“Die sentrum sal ’n groot bydrae lewer in die bereiking van die nasionale mikpunt om toegang te bied vir mense wat hulle wil laat ent sodat die sowat 41,7 miljoen volwasse Suid-Afrikaners kudde-immuniteit kan bereik om nuwe infeksies hok te slaan en om verdere golwe van die infeksie te voorkom,” sê Noach.
Die burgemeester, Dan Plato, sê ook die bykomende ruimte gaan ’n groot bydrae lewer tot die landwye inentingsveldtog. Plato sê baie meer entstof is egter nodig om die meerderheid van die bevolking in te ent sodat besighede weer veilig kan heropen. Plato het die regering gevra om alles in sy vermoë te doen om soveel entstof as moontlik vir die land te bekom.
Die sentrum beskik oor gesofistikeerde toerusting en verkoelingseenhede wat dit moontlik maak om beide die Pfizer-BioNTech-dubbeldosisse en die Johnson & Johnson-enkeldosis-entstof te hanteer.
Persone ouer as 50 kan van dié week af ook in die tou staan om ingeënt te word. Instapbesoekers sal ook gehelp word om op die perseel te registreer. Volgens Winde sal instapbesoekers egter waarskynlik langer moet wag, aangesien mense ouer as 60 steeds voorkeur sal geniet.
Daar is 50 inentstasies in die sentrum waar besoekers bygestaan sal word met hulle registrasie. By elk van die 50 punte sal daar daagliks tussen 50 en 70 mense ingeënt kan word.
Mense wat nog nie geregistreer het om ingeënt te word nie, kan die woord REGISTER WhatsApp na 0600 123 456 of hulle kan die volgende nommer skakel op hulle selfoon: *134*832*ID number# indien hulle nie internettoegang het om te registreer nie.
Die volgende webwerf kan ook besoek word vir meer inligting oor registrasie: https://vaccine.enroll.health.gov.za.
Lees ook:
Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie