Die jongste aankondiging van beurtkrag die afgelope week het Kaapstad vasbeslote gemaak om die eerste stad in die land te word wat heeltemal onafhanklik is van Eskom vir sy kragvoorsiening.
Die Moederstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê in ’n verklaring dit het vir die Stad Kaapstad duidelik geword dat hulle reg in eie hande moet neem as hulle die skade wil stuit wat deur Eskom se monopolie oor elektrisiteitsopwekking veroorsaak word.
Eskom het vandeesweek fase 2-beurtkrag aangekondig. Dit volg op die maatskappy se uitvoerende hoof, André de Ruyter, se waarskuwing dat die pad na Eskom se operasionele herstel en volhoubaarheid lank en moeilik sal wees. Dit kom ook nadat die land in November verlede jaar een van sy mees intensiewe tydperke van beurtkrag ervaar het.
Hill-Lewis sê die enigste manier waarop die stad betroubare en bekostigbare elektrisiteit aan sy inwoners kan verskaf, is om dit van elders te verkry.
Loadshedding economic crisis: Cape Town to procure power from independent power producers.
Statement by Mayor @geordinhl
In the next two weeks, the City will publish documents detailing our upcoming procurement of power from IPPs.
Read more: https://t.co/RqrY1G6Ao0#CTNews pic.twitter.com/beFkUJB2UK
— City of Cape Town (@CityofCT) February 2, 2022
Hy sê Kaapstad sal in die volgende twee weke dokumente publiseer wat komende kragverkryging van onafhanklike kragprodusente (OKP’s) sal uiteensit. Dit sal die aankondiging van tenders vir die aankoop van elektrisiteit van OKP’s en tydlyne insluit om OKP-gegenereerde elektrisiteit na die stad se toevoernetwerk te bring.
Die dringendheid van die saak kan volgens Hill-Lewis nie oorbeklemtoon word in die lig van Eskom se besluit om fase 2-beurtkrag vanaf Woensdag 11h00 tot 05h00 volgende Maandagoggend te implementeer nie.
Kaapstad beskerm reeds sy inwoners tot ’n mate teen beurtkrag en pas elke keer een fase minder beurtkrag toe as die res van die land.
Die stadsvaders sê terwyl hulle trots is om die stad se elektrisiteitsklante te kan beskerm teen een stadium van beurtkrag, daar onthou moet word dat enige beurtkrag ’n aansienlike koste vir Suid-Afrikaners meebring.
“Beurtkrag beteken besighede misluk. Beurtkrag beteken dat werksgeleenthede verlore gaan. Beurtkrag maak die moontlikheid van betekenisvolle ekonomiese herstel al hoe minder moontlik,” sê die burgemeester in sy verklaring.
Hy sê ten spyte van die ekonomiese verwoesting wat deur beurtkrag en die onbetroubaarheid van sy kragvoorsiening veroorsaak is, hou Eskom vol met ’n aansoek aan Nersa om die prys van elektrisiteit vanaf 1 April 2022 met 20,5% te verhoog.
“Ek het dit duidelik aan Eskom en aan Nersa gestel dat hierdie beplande verhoging onregverdig, ongeregverdig en onbekostigbaar is. Meer as 30 000 Kapenaars het in die loop van een naweek ’n petisie onderteken waarin hulle gevra word om die verhoging te weier.”
Kaapstad sê om OKP’s deur middel van ’n tenderproses aan boord te kry om krag aan die Moederstad te voorsien, is ’n deurslaggewende stap om beurtkrag met verloop van tyd te beëindig.
“Die ekonomiese uitwerking van betroubare kragvoorsiening in Kaapstad sal meer winsgewende ondernemings en meer werksgeleenthede beteken. Elke Kapenaar sal baat vind.”
Hill-Lewis sê hy hoop dat ander regeringsfere die stad se grondwetlike mandaat sal respekteer om elektrisiteit aan sy inwoners te lewer, en nie in hulle pad sal staan om Kaapstad die eerste beurtkragvrye munisipaliteit in Suid-Afrika te maak nie.
Die DA sê in ’n afsonderlike verklaring hulle sal aan president Cyril Ramaphosa en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, skryf en ’n dringende kommissie van ondersoek na Eskom en die kwessie van elektrisiteitsopwekking en -voorsiening versoek.
“Die tyd het aangebreek om die pleister van hierdie seer af te ruk en die aanbevelings van beproefde en betroubare kundiges te implementeer – nie kaderontplooiers of politieke aanstellings nie. Enige versuim om dringend op te tree sal beteken daar word voortgegaan om die lewensbloed van die ekonomie verder in gevaar te stel.”
Die DA sê in die lig van die waarskynlikheid dat die risiko van ontwrigting vir die komende drie tot vier jaar sal voortduur en die voortdurende uitdagings – finansieel, operasioneel en krimineel – wat lewens, lewensbestaan, besighede en die algemene toestand van die ekonomie op ’n onbewustelike wyse beïnvloed, is dit tyd om ernstig op te tree.