Kaartdiewe steel Suid-Afrikaners bankrot

  • 0

Suid-Afrikaners word rot en kaal besteel deur slinkse diewe wat elke jaar miljoene rand van mense se swaarverdiende geld steel deur middel van kaartbedrog.

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het misdadigers verlede jaar hulle sakke met meer as R870 miljoen se gesteelde geld volgeprop wat deur middel van kaartbedrog gesteel is.

Sabric het sy kommer uitgespreek oor die toename in kaartbedrog en sê kriminele maak van elke moontlike geleentheid gebruik om hulle hande op bankkliënte se geld te lê.

Daar was die afgelope jaar ’n toename van ongeveer 18% se bankkaarbedrog in die land. Dit behels ’n totale bedrag van R872 394 351. Die bedrog wat met Suid-Afrikaans uitgereikte kredietkaarte gepleeg word, het met 18,4% gestyg en dié met debietkaarte met 17,5%. 

Sabric se uitvoerende hoof, Kalyani Pillay, sê daar was ’n skerp toename in sogenaamd vishing-insidente waar diewe kliënte van ’n bank skakel en voorgee dit is die bank wat sekere inligting wil bekom. Die kliënte word dan met allerlei slim taktiek oorreed om van hulle persoonlike en vertroulike inligting bekend te maak, wat hulle op die ou end duur te staan kom. “’n Bank sal jou nooit skakel om sulke inligting  te kry nie. As jy so ’n oproep ontvang moet jy dadelik die telefoon neersit,” sê Pillay.

Bedrog deur middel van verlore en gesteelde debietkaarte beloop 42,5% van alle debietkaartbedrog, terwyl kliënte steeds in die strik trap vir bedrog wat by OTM’s gepleeg word. Die boosdoeners nader die slagoffers onder die voorwendsel dat hulle wil help. Hulle doen hulle dikwels voor as bankamptenare. Hulle steel dan die kliënt se kaart en bekom die PIN op ’n slinkse manier. Sabric sê mense moet nooit hulp van ’n vreemdeling by ’n OTM aanvaar nie, ongeag hoe vriendelik so ’n persoon voorkom.

Verlede jaar was daar 23 466 voorvalle van aanlyn bedrog met aanlyn en selfoontransaksies wat tot ’n verlies van R262 826 888 gelei het. Dit is veral kommerwekkend dat hierdie tipe misdaad met 75,3% gestyg het. Mobiele banktransaksies het met 100% toegeneem en ’n verlies van R28 941 040 tot gevolg gehad, terwyl aanlyn transaksies met 37,5% toegeneem het, en ’n verlies van R129 002 523 is gely. Gevalle waar van banktoepassings gebruik gemaak is, het met 55,4% toegeneem en daar was ’n verlies van R104 883 325 in dieselfde periode. SIM-ruilings in die mobiele bankwese het met meer as 200% toegeneem tot 11 077 gevalle.

Sabric sê die diewe is uiters vindingryk en uitgeslape. Hulle maak van allerhande sielkundige en ander taktiek gebruik om mense se goedgelowigheid uit te buit ten einde vertroulike inligting soos hulle PIN en wagwoorde te bekom.

Die publiek word ook ernstig gewaarsku teen vals e-pos-boodskappe waarop mense moet klik wat kwansuis van hulle bank afkomstig is. Dit neem die gebruiker na webwerwe wat hulle persoonlike inligting bekom en kliënte moet nooit op sulke skakels klik nie, sê Pillay.

Die positiewe nuus is dat transito-rowe met 22% persent afgeneem het van 376 voorvalle in 2017 tot 292 voorvalle verlede jaar. Sabric sê hulle sal voortgaan om met wetstoepassers en ander vennote  saam te werk om die probleem aan te spreek en verder hok te slaan.

Pillay sê hulle het die samewerking van die banke, kliënte en al die wetstoepassingsagente nodig om ’n daadwerklike afname in hierdie soort boewery te bewerkstellig.

  • Daar is verskeie wenke wat die publiek kan volg om die risiko dat hulle geld op dié manier gesteel word, te verminder wat hier op Sabric se webwerf gevind kan word.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top