Kabinet finaliseer volgende week se begroting

  • 0

Dit wil voorkom of die RNE hul verskille opsy gesit het om ’n werkbare begroting te finaliseer, wat moontlik ’n kompromis insluit om belastingverhogings te vermy of te beperk.

Volgens die jongste berigte is daar ná verlede maand se begrotingsdebakel ’n hersiene begroting goedgekeur wat volgende Woensdag (12 Maart) aan die parlement voorgelê sal word.

Die kabinet het Maandag vir die tweede keer ’n spesiale vergadering gehou om oor die begroting te beraadslaag. Die nasionale tesourie finaliseer dit nou voordat dit in  die parlement ter tafel gelê sal word.

Dit volg nadat die begrotingsrede in Februarie uitgestel is weens meningsverskille, veral oor die voorgestelde BTW-verhoging.

Luidens ’n verklaring wat Maandagaand (3 Maart) deur die ministerie in die presidensie uitgereik is, het die kabinet vroeër die dag sy spesiale vergadering gehou en verskeie opsies oorweeg wat deur ’n span onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile ter tafel gelê is.

“Die kabinet het die minister van finansies opdrag gegee om uit die bespreekte opsies te kies en die begroting te finansier,” lui die verklaring, sonder om te sê wat die opsies is. 

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, moet nou ’n opsie kies wat die fiskale beperkings van die land in ag neem, wat ekonomiese groei ondersteun en wat "die impak op die arm en middel-inkomste-huishoudings versag".

Een van die hoofpunte van onenigheid was ’n voorstel om BTW met twee persent te verhoog. Hierdie voorstel is in die kabinet sterk teengestaan deur partye soos die DA, Vryheidsfront Plus en sommige van die kleiner partye.

In die ANC was daar ook nie eenstemmigheid oor die voorgestelde verhoging van BTW nie. Godongwana is gedwing om terug te gaan na die tekenbord en ’n nuwe begroting te onderhandel.

Die uitstel is deur sommige beskou as ’n positiewe teken wat op ’n ernstige benadering tot die begroting dui, maar dit bring ook die harde werklikheid van Suid-Afrika se finansiële situasie na vore: ’n tekort aan kontant as gevolg van verkwisting, hoë salariskoste, steun aan staatsentiteite, lae ekonomiese groei en stygende skuldlas.

Die strategiese reserwe is reeds in 2024 uitgeput, en die voorstel om BTW te verhoog is deur sommige in die regering as ’n "maklike maar belastende" opsie gesien. Kenners en kommentators, soos die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Navorsing, het gesê dit sal ’n "skrikwekkende taak" wees om voor 12 Maart ’n nuwe begroting op te stel wat al die RNE-partye tevrede stel.

Die besonderhede van enige ooreenkoms sal eers volgende week Woensdag bekend word wanneer Godongwana sy begrotingsrede om 14:00 lewer.

Die DA het die afgelope naweek in ’n verklaring gesê hulle staan vas dat daar geen BTW-verhogings moet wees nie. Dit volg na berigte dat die ANC dit glo oorweeg het om die begroting met die hulp van die EFF deur te voer indien die DA weier om die hersiene begroting te steun.

Die DA se woordvoerder oor finansies, Mark Burke, LP, het in ’n verklaring gesê die DA weier om gyselaar gehou of geïntimideer te word deur die ANC se blatante dreigement om die EFF te nader om hierdie BTW-gebaseerde begroting deur te voer. “Dit is nie verantwoordelike of samewerkende bestuur nie, dit is roekeloos en plaas verdere druk op die ekonomie.”

Burke sê ondoeltreffendheid van die regering is nie moeilik om te vind of uit te skakel nie. Die nasionale tesourie is reeds bewus van baie gebiede. In die aanvullende begroting van 2020 het die tesourie reeds tydelik opgehou om hulpbronne aan programme met ’n geskiedenis van swak prestasie toe te wys om ’n nasionale noodgeval aan te spreek. Anders as wat die ANC se valse narratief verkondig, het ons nie ’n inkomsteprobleem nie; dis ’n probleem van politieke wil, het Burke gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top