Cyril Ramaphosa en sy kabinet is onder groot druk dat koppe moet rol nadat ’n paneel kundiges bevind het sy regering was vas aan die slaap toe die land verlede jaar ná Jacob Zuma se inhegtenisname byna in vlamme opgegaan het.
Opposisiepartye eis die kop van ten minste die omstrede minister van polisie, Bheki Cele. Hy is een van diegene wat skerp gekritiseer word in die verdoemende verslag wat die afgelope week deur Ramaphosa vir openbare insae bekendgemaak is.
Die DA-leier John Steenhuisen sê Ramaphosa het nou konkrete bewyse om Bheki Cele en die destydse minister van intelligensie, Ayanda Dlodlo, af te dank.
Die EFF het in hulle reaksie ook gesê die blaam vir verlede jaar se onluste rus vierkantig op die skouers van Ramaphosa en sy regering.
EFF Statement on the Ramaphosa appointed expert panel report into July Civil Unrest pic.twitter.com/mbEF6Zz013
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 8, 2022
’n Deskundige paneel wat aangestel is om die dodelike Julie 2021-onluste te ondersoek, het bevind dat die polisie se reaksie ontoereikend was.
Ramaphosa het die paneel opdrag gegee om ’n deeglike en kritiese oorsig van die veiligheidsdienste se paraatheid vir die Julie-gebeure te lei. Die paneel moes alle aspekte van die sekuriteitsreaksie ondersoek en aanbevelings maak hoe om die land se sekuriteitsvermoëns te versterk.
Die lede van die paneel was Sandy Africa as voorsitter, Mojanku Gumbi en Silumko Sokupa.
Die President het die verslag Vrydag 4 Februarie 2022 tydens ’n vergadering van die Nasionale Veiligheidsraad ter tafel gelê; hy het dit egter reeds verlede jaar ontvang.
PRESIDENT RELEASES REPORT OF EXPERT PANEL ON JULY 2021 UNREST
President @CyrilRamaphosa has authorised the release to the public of the report of the expert panel appointed in August 2021 to review government’s response to the July 2021 unrest.
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) February 7, 2022
Die presidensie sê in ’n verklaring Ramaphosa sal Donderdag 10 Februarie in sy staatsrede die eerste stappe aankondig wat die regering sal doen in reaksie op die bevindings en aanbevelings van die verslag.
Die onluste wat na Zuma se inhegtenisneming uitgebreek het, word beskryf as ’n orgie van vernietiging en plundering waar meer as 354 mense dood is, van wie sommige se oorskot vasgevang gebly het in die fabrieke in KwaZulu-Natal (KZN), en duisende mense beseer is.
Volgens die verslag was daar ’n gevoel van diepe verbystering oor die afwesigheid van die polisie in ’n tyd toe gemeenskappe hulle die nodigste gehad het. In die meeste gebiede het die polisie toeskouers geword terwyl die een winkelsentrum na die ander vernietig is en die een na die ander vragmotor aan die brand gesteek is, lui die bevindings. Mense het dag na dag teruggekeer om alles wat die vorige dag oorgebly het, verder te plunder.
Die Minister van Polisie en die nasionale kommissaris was glo pole uitmekaar in hul interpretasie van hoe die gebeure van Julie bestuur kon word, indien enigsins.
John Steenhuisen sê in sy verklaring hierdie verdoemende verslag bevestig wat die DA heeltyd gesê het, naamlik dat ANC-faksies die leidende rol in die onrus gespeel het. Hy sê die ANC is ’n ernstige bedreiging vir nasionale veiligheid en dit is ’n kwessie wat dringend aangespreek moet word.
President Ramaphosa now has concrete evidence to fire Ministers Bheki Cele and Ayanda Dlodlo.
The expert panel’s report on the July 2021 riots confirms what the DA has said all along, that ANC factionalism played a role in the unrest.
Heads must roll!https://t.co/wggUz5YMng
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) February 7, 2022
Ten minste Bheki Cele en Ayanda Dlodlo moet onmiddellik en heeltemal uit die kabinet gesit word, sê die DA.
In ’n funksionele demokrasie sou hul koppe, volgens die party, lankal gerol het. “In plaas daarvan het president Ramaphosa Cele behou, ten spyte van die verlamming in die SAPD, en Dlodlo herontplooi na die sleutelposisie van minister van staatsdiens en administrasie.”
Ramaphosa het volgens die DA nie daarin geslaag om sy party van selfdienende individue te suiwer nie.
“Skokkend genoeg het hy ook die destydse minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa Nqakula, herontplooi na die pos van speaker van die parlement.
Steenhuisen sê die reaksie deur SAPD en Intelligensie was skokkend stadig, onvanpas en onvoldoende. “Hulle het versuim om hul fundamentele rol uit te voer, naamlik om lewe en eiendom te beskerm.”
Hierdie onvermoë is volgens Steenhuisen die onvermydelike gevolg van die ANC se dekades lange beleid van kaderontplooiing, waaroor die DA nou al twee dekades gewaarsku het.
Die paneel het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ’n beduidende intelligensieversuim was om die geweld te antisipeer of te voorkom.
“Daar was ambivalensie en huiwering aan die kant van die intelligensiedienste oor of hulle inligting moet insamel oor persone met ’n politieke profiel, uit vrees dat hulle gekasty sou word vir inmenging in die politiek.”
Die volledige verslag kan hier op die presidensie se webwerf gelees word, of by .