Kaggelvuur en pannekoekweer is hier

  • 0

Suid-Afrikaners kan maar die kaggelvure stook en hulle pannekoek- en sopresepte uithaal, want die winter is in alle erns hier.

Die winter het sy tande reeds die naweek behoorlik gewys en die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê daar is nog koue fronte op pad en sneeu word oor die hoogliggende dele van die land verwag.

’n Koue front het Maandag oor die Vrystaat en noordwestelike deel van Noordwes beweeg op pad Gauteng toe, waar kouer temperature vir die volgende paar dae voorspel word.

Die koue fronte van die afgelope weke het ook welkome verligting gebring vir die winterreënvalstreke wat onder ’n knellende droogte gebuk gaan.

Hoewel die vooruitsig vir nog reën in die Kaap verwelkom word, voorspel die weerdiens nie baie groot neerslae nie. Die verwagte reën sal redelik konserwatief wees. Koue en wind het Kapenaars die afgelope naweek binnenshuis gehou en sal vir die res van die week voortduur. Die droë windtoestande oor die sentrale en oostelike gebiede het ook die gevaar van wegholbrande verhoog.

Die koue nat toestande het die naweek oor die res van die land versprei. Hoewel die dagtemperature steeds matig is, raak veral die nagte en oggende in die binneland bitter koud.

Die weerdiens sê die korttermynweervooruitsigte voorspel ’n voortsetting van die koue fronte wat vanuit die suide van die land sal toesak wat die geboorteplek is vir Suid-Afrika se wintertoestande.

Die middelwintermaande van Junie en Julie is gewoonlik die tyd van die jaar wanneer mens kan verwag dat daar meer intense kouefronte oor die land sal spoel, met ’n potensiaal vir sneeu en ysige koue wat daarop volg, asook goeie reënval in die Kaapse winterreëngebiede.

Die weerdiens het op Twitter voorspel dat die meeste sneeu oor die Drakensberge in die Oos-Kaap by Rhodes, Elliot en Barkly-Oos sou val.

Maksimumtemperature van onder 20 grade C word vir die volgende paar dae ook in Johannesburg, Pretoria en Vereeniging verwag.

Gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap het na goeie reënval verder gestyg. ’n Woordvoerder van die ministerie van plaaslike regering, James Brent-Styan, sê damvlakke in die provinsie staan tans op 39 persent, terwyl damme wat water aan die Kaapstadse metro verskaf, 52 persent vol is. Styan sê hulle is bemoedig deur die reënval wat vir die komende wintermaande voorspel word. Hy sê inwoners van die provinsie moet egter voortgaan om water spaarsaam te gebruik.

Damme wat die Kaapse metro van water voorsien, het sedert die begin van die winter die halfpadmerk verbygesteek en is vir die eerste keer in ’n lang tyd meer as 50 persent vol. Die Theewaterskloof-dam in die Wes-Kaap wat in Augustus verlede jaar 43 persent vol was, is nou reeds 54 persent vol.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top