Ek is toevallig gebore in die jaar toe Jack Kerouac, bekende Amerikaanse skrywer en digter, sy boek On the road in 1957 gepubliseer het. Vir duisende in Amerika sou dit die padkaart word in die laat 1950’s vir die “beat generation”. Die beweging het gesentreer rondom ’n groep skrywers wat hoofstroom waardes verwerp het en vryheid, spontaanheid en ’n soeke na dieper geestelikheid gesoek het. Dit het alles die weg voorberei vir die hippies en die “counterculture revolution” van die 1960’s en 1970’s. Dis gedurende hierdie tyd dat ek en my ou vriend Freddie Strauss (nou dr Strauss) mekaar in 1972 ontmoet het.
Ons was uit die staanspoor dik pelle en het gou die gewoonte ontwikkel om orals in Suid-Afrika te ryloop. Op pad het ons oor alles gepraat en gestry en dan vir ure nie gepraat nie – maar oor een ding het ons altyd saamgestem: musiek. Saam het ons vir Dylan, Hendrix, Led Zeppelin, Deep Purple, die Rolling Stones, Cream en later die bluesmusikante soos Howlin Wolf, Willie Dixon, BB King et al ontdek. Dit was ons aanwysers, deur universiteit, die weermag en later toe ons onwillig “volwassenes” geword het. Na universiteit het ons het soort van kontak behou, want dit was ’n tyd voor selfone, Facebook/FaceTime en WhatsApp. In die 2000’s verhuis Fred na Smithers in Kanada (waar hy homself as mediese dokter in ’n praktyk vestig) en ek is toe reeds ’n paar jaar in Engeland (waar ek as kredietrisiko-ontleder werk). Ons ontmoet mekaar weer in 2019 in Kaapstad en behou sedertdien gereeld kontak.
Fast forward na 2025 en ek besluit om vir Fred te gaan kuier. Dis ’n sweterige 30 grade Celsius in Augustus toe ek in Smithers land. Na ’n heerlike ete met oondgebraaide skaapblad en oorvloedige glase rooiwyn, besluit ons om vir ’n paar dae na die Kanadese Rockies te vertrek.

Mount Robson Park, Brits-Columbië
Die 6.6l GMC-kampeerder se enjin grom diep toe ons die oggend uit Smithers vertrek na Jasper Nasionale Park. Niks kan jou voorberei vir Kanada se natuurskoon nie. Dis ’n land met verbluffend mooi berge, riviere, mere en woude. Naas Rusland is Kanada die tweede grootste land in die wêreld, en spog met 9,98 miljoen km2. Brits-Columbië alleen is byna so groot soos die hele Suid-Afrika. Voeg daarby dat ongeveer 20% van die wêreld se varswaterbronne in Kanada geleë is en jy kry ’n beter prentjie van die land. Die meeste van hierdie water is in Kanada se mere, riviere, gletsers en grondwaterbronne. Inderwaarheid het Kanada meer mere as die res van die planeet saam – byna twee miljoen van hulle!
Met Mount Robson wat bo ons uittoring, blêr die hippievolkslied van 1968, Canned Heat se “Going up the country”, oor die motor se klankstelsel. Ons probeer saamsing met “Blind owl” Wilson se falsetto stem. Ek weet nie hoe ons klink nie, maar gelukkig kan niemand ons hoor nie. Ons is weer 15 jaar oud en die wêreld is ’n mooi plek. Net so mooi soos die dag in standerd 8 toe ons buite Van Rhynsdorp onder ’n doringboom sit en wag het vir ’n geleentheid na Calvinia. Ek was so opgewonde toe ’n bakkie uiteindelik stop om ons op te laai, ek’t skoon my Aviators in die boom waar ek dit opgehang het terwyl ek ’n slapie vang, vergeet.
Die pad kronkel deur die majestueuse berge met hul wit mussies. Die groen woude en blougrys rotsformasies is vir my oog ’n nuwe ervaring. Ek soek gedurig die bruin van Karoobossies en stofpaaie, maar hier word mens oorweldig deur groen en turkoois. Die Whistlers-kampeerterrein is vir my ook iets heel anders as wat ek verwag het.
Die Athabasca-rivier naby die Whistlers-kampeerterrein
Ons kry ’n bespreekte staanplek naby die ablusies, en ’n vrag braaihout is ingesluit in die prys. Ek ontvang ’n aangename verrassing vroeg die volgende oggend op pad na die badkamer: ’n Trop Kanadese elande (“elks”) loop langsaam deur die kampeerterrein. Dis so stil ek hoor die geluid van hulle hoewe op die gruis en teerpad. By die storte wag nog ’n verrassing op my: Met die intree merk ek ’n lang ry selfone op ’n rak. By nadere ondersoek besef ek die fone is oornag hier gelos om herlaai te word. Ja regtig, hier in BC (soos die Kanadese Brits-Columbië noem) word niks toegesluit nie. Fred het sy huis net so oop gelos toe ons vertrek; motorfietse en motors staan met hul sleutels in, oop in die motorhuis.
In elk geval, die riviere en mere kry hul besonderse blou/turkoois kleur van die water uit smeltende gletsers. Die gletsers verweer die rotswande waarteen dit skuur en daardeur vorm ’n baie fyn poeier van rotsdeeltjies wat bekend staan as rotsmeel (“rock flour”). Hierdie rotsmeel is baie lig en dryf vir lang tye in die water sonder om na die bodem te sak. Wanneer sonlig op die water skyn, absorbeer hierdie rotsdeeltjies die lig en weerkaats net die blou en groen golflengtes en skep gevolglik hierdie treffende turkoois tint.
Ons hang vir ’n dag rond in Jasper, die internasionaal bekende ski-oord wat verlede jaar byna deur ’n erge bosbrand verwoes is. Oor middagete swaai die gesprek na ’n taamlik stormagtige jaar in beide van ons lewens. In 1974 en standerd 9 begin ons onsself stelselmatig losmaak van die versmorende dissipline van die hoërskool. Een aand steel ons my pa se Volkswagen-stasiewa en ry deur na die Rotunda Hotel in Kampsbaai om The Bats te gaan kyk. Parow was nou nie juis een van die opwindendste voorstede van Kaapstad nie! Op pad terug breek een van ons pelle die handrem van die motor. Dit kos ons om in sy pa se motorhuis te stop en met flitsligte as lig die ding reg te maak tot in die vroeë oggendure. Dis gedurende hierdie tyd dat ons ’n smaak vir Chesterfield “plains” ontwikkel het, maar dis ’n storie vir ’n ander tyd.
Die Athabasca-gletser
Lake Louise is ons volgende bestemming, maar op pad stop ons by die Athabasca-gletser. Die gletser is geleë in die Jasper Nasionale Park, Alberta. Dit word gevoed deur die Columbië-ysveld, is 6 km lank en trek al die afgelope 125 jaar terug. Dit het reeds ongeveer 1,5 km korter geword.
Dis ’n toeristemekka, met busse, motors en motorfietse. Die restaurant bied die gewone buffet-etes aan, met borde wat herinner aan Amerikaanse diners. Een ding is seker: Die Kanadese kan nie koffie maak nie. Die flou vloeistof staan op ’n verhitter en jy moet self skink met “half and half” melk. Dis nou helfte room en helfte volroommelk. Ek besluit op ’n “volroom” Coke.
Mens kan met ’n bus ry tot by die voet van die gletser en dan met ’n kleiner bussie tot op die gletser. Ons albei dink dit is ’n gruwelike idee om daardie ongerepte ysoppervlak aan menslike voetspore bloot te stel.
Iets wat voor die tyd deur my kop gemaal het: Wat gebeur wanneer jy twee ou bachelors vir twee weke saam in ’n kampeerwa gooi? Hoe gaan ons oor die weg kom in so ’n beknopte spasie? Hoe gaan ons mekaar se gewoontes verwerk wat oor jare aangeleer is? Eetgewoontes? Drinkgewoontes!? Politieke verskille?
Máár, hier is die ding: Goeie vriendskappe wat ’n mens in jou jeugjare vorm, verloor byna nooit daardie magiese vonk nie. Dis soos ’n eerste liefde. Verwydering bring nie verandering en verbrokkeling mee nie. Inteendeel, dit bring al die clichés in die boek terug – “Voel of ons net vir ’n naweek weg was”; “Jy’s nog net so stadig soos altyd”; “Bliksem, jy’t nog niks verander nie”; en “Gaan jy regtig nog ’n bottel wyn oopmaak?” Daai band wat al daardie jare gelede gevorm is, is steeds daar. Die res is alles bysaak.
Lake Louise
Lake Louise is nog ’n hoogtepunt – geen wonder dat koningin Elizabeth hierdie meer besoek het nie, en so ook verskeie ander lede van die koninklike familie. Dis werklik ’n asemrowende gesig om te aanskou. Die probleem is, derduisende ander toeriste dink ook so. Die dag toe ons daar was, is ons gewaarsku dat die pad na die meer tydelik gesluit is weens erge verkeer. Gelukkig hou ons kop en gaan later die middag en vind ’n parkeerplek binne spoegafstand van die meer. Almal neem foto’s en daar is ’n lang tou mense wat wag om ’n kano te huur. Ons gaan sit onder ’n koelteboom, elk met ’n roomys en neem alles in.
Ons kampeer die aand in Protection Mountain Campground in die Banff Nasionale Park, eet biefstuk met aartappelslaai, en drink genoeg Stellas om ons lewers vir ’n hele paar dae besig te hou. Fred meld dat bier sekere voordele vir die menslike liggaam inhou. Ek glo hom, hy’s ’n dokter …
Dis tyd om ons voorrade aan te vul en ook saam met die uitgebreide familie en vriende te kuier. Dit doen ons via Prins George, ’n dorp vier ure se ry van Smithers af met ’n baie vriendelike Suid-Afrikaanse apteker wat my met my kontaklense help.
Ons reislus is egter nog ver van versadig en ’n paar dae later vertrek ons na die suide van Alaska. Dié keer ry ons met ’n 4X4-bakkie. Die idee is om die Salmon-gletser te besoek en hopelik op pad ook ’n paar bere te sien.
Ripley Creek Inn, Stewart
Stewart, BC is ons basis vir hierdie besoek. Dis ’n myndorp net suid van die Alaska-grens. Stewart het sy ontstaan gehad in die vroeë 1900’s met die ontdekking van veral goud en silwer. Gedurende die hoogtepunt van ontginning in 1918 het die dorp gespog met 10 000 inwoners. Vandag is daar minder as 500.
Ons het plek bespreek in die Ripley Creek Inn. Dis eintlik ’n plek waar motorfietsryers kom uitspan. Hier het tyd stil gaan staan. Houthuise orals langs die hoofstraat laat dit soos iets uit ’n cowboyfliek lyk.
Net ’n paar kilometer verder en aan die oorkant van die Alaska-grens is die dorpie Hyder. Alhoewel dit deel van Alaska is, is dit baie geïsoleerd en slegs deur Stewart toeganklik. Die dorpie het sy ontstaan in 1920 gehad te danke aan die Riverside-myn. Met die 2020-sensus was daar 48 inwoners in die dorp. Die twee dorpe deel ’n geskiedenis en is baie nou verwant aan mekaar. Hyder gebruik dieselfde streekkode as Stewart, alhoewel dit in ’n ander land geleë is.
Die dorp staan bekend as die “friendliest ghost town in Alaska” omdat daar steeds mense woon, maar dit terselfdertyd so ver afgeleë is.
Die mense hier praat van om “Hyderized” te word volgens die plaaslike tradisie. ’n Kroeg, The Glacier Inn, reik ’n sertifikaat uit vir klante wat ’n sopie neem van die baie sterk Everclear-drankie (blykbaar 95% alkohol).
Hyder, Alaska
Vandag is die dorpie deel van langafstandmotorfietsreise en alles wat daarmee gepaard gaan. Die afgelope dekade het beide dorpe ook ’n herlewing in goud-, silwer- en kopermyne ondervind soos nuwe mynboumetodes dit weer moontlik maak om die erts te ontgin.
Ons sien swart en bruin bere, maar dis net in die verbygaan, wat effens teleurstellend is, maar die eintlike rede vir ons reis is om die indrukwekkende Salmon-gletser te besoek. Die gletser se uitkykpunt is ongeveer 37 km vanaf Stewart en ’n groot gedeelte is grondpad. Dit is een van die grootste padtoeganklike gletsers in Noord-Amerika. Die gletser is gevorm ongeveer 14 000 jaar gelede gedurende die laaste groot gletserperiode in die streek. Dit word gevoed deur die Summit-meer aan sy bokant. Elke jaar gedurende Julie kan die meer se ysdam breek en water vloei dan onder die gletser deur na die naby geleë Salmonrivier.
Salmongletser, Alaska
Die gletser is ongeveer 12 km lank, tot 2,5 km breed en tussen 490 m en 730 m diep. Die gewig van die gletser kan ook net geskat word, maar dit sal min of meer gelykstaande wees aan 90 000 vliegdekskepe!
Die bakkie se tenk is vol en ons pak die terugtog aan met ’n mengsel van blues en folk in ons ore. Naby Smithers ry ons ’n rookwolk binne wat oor die hele streek hang. In Kanada word veldbrande toegelaat om uit te brand tensy dit mense se lewens bedreig. Dis deel van die natuur en niks word ook daarna aan die gebrande veld of woud gedoen nie. Die natuur moet bloot sy gang gaan.
Die aand voor my vertrek staan ons op Fred se stoep, elk met ’n Smithers Last Cast Lager in die hand en kyk uit oor ’n sonsondergang wat ’n byna onnatuurlike pienk-oranje gloed oor die vallei veroorsaak. Ons kyk vir mekaar en sonder ’n woord besef ons die deur na ons jeugjare was eintlik nooit toe nie. Die jare het verbygegaan, maar hier vind ons mekaar weer – ons lag steeds vir dieselfde grappe, ons stry steeds oor dieselfde kwessies, en ons verwonder ons steeds aan die natuur. Ek besef om oud te word beteken nooit om te laat gaan wie jy eens was nie; dit beteken eerder om dit vorentoe te dra, soos ons. Na al die paaie en ompaaie wat ons gestap het, bly ons steeds net twee laaities van Parow, en Bob Dylan se “Forever young” sweef saggies as ’n seëning deur die lug:
May you hands always be busy
May your feet always be swift
May you have a strong foundation
When the winds of changes shift
May your heart always be joyful
May your song always be sung
May you stay forever young …
- Teks en foto’s: Stephen Fourie





