Kapenaars berei hulle voor vir Dag Zero

  • 0

Inwoners in die Wes-Kaap gaan gebuk onder die ergste droogte in 100 jaar. Kaapstad, wat een van Suid-Afrika se grootste toerisme-aantreklikhede is, sal waarskynlik oor minder as drie maande geen water in die krane hê as dit nie baie gou reën nie.

Die provinsie se reënseisoen begin eers in April en die damme in die streek is slegs ’n kwart vol. Die provinsie se minister van plaaslike bestuur, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, waarsku dat die Wes-Kaap net ’n geskatte 16% drinkwater in sy damme oor het omdat die laaste 10% water gewoonlik onbruikbaar is.

Die waternood in die Kaapse metropool is so ernstig dat die stadsraad voorbereidings tref vir “Dag Zero”, wanneer daar nie genoeg water sal wees om in die stad se normale behoefte te voorsien nie.

Indien die provinsie se inwoners nie daarin slaag om genoeg water te bespaar voordat dit begin reën nie, sal alle watertoevoer na huishoudings op Dag Zero gestaak word en sal daar geen water in die krane wees nie. Noodplanne is vir Dag Zero in werking gestel. Inwoners sal by ’n aantal vasgestelde punte wat deur die stadsraad bepaal word, moet aanmeld om ’n beperkte watervoorraad vir hulle daaglikse noodsaaklike waterbehoeftes te gaan haal.

Op Dag Zero sal inwoners slegs 25 liter water per persoon per dag kan bekom by  200 versamelpunte in die stad. Dié hoeveelheid is gebaseer op die minimumvereistes vir mense om gesondheid en higiëne te handhaaf volgens die aanbeveling van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Die vraag is nie meer of Dag Zero gaan aanbreek nie, maar wanneer. Daar word gevrees dit kan reeds in April ’n werklikheid word. Die situasie is op die oomblik so ernstig dat die munisipale water in Kaapstad selfs in Maart vanjaar kan opdroog as daar nie genoeg water bespaar word voordat dit begin reën nie.

Kaapstad se gemiddelde damvlak het die afgelope week tot 28,37% gedaal. Oor die afgelope week het die gemiddelde vlak van al die provinsie se damme van 27,69% tot 26,56% gedaal. Verlede jaar was die gemiddelde damvlak in die provinsie in die ooreenstemmende tyd 41,36%.

Benewens Kaapstad sluit die dele van die Wes-Kaap wat die ergste deur die droogte geraak word, Beaufort-Wes, Prins Albert, Kannaland, Laingsburg en die Mazikamma-streek aan die Weskus in. In Beaufort-Wes is gebeurlikheidsplanne in werking gestel indien die krane opdroog.

Kapenaars word al maande lank nie toegelaat om hulle tuine nat te lei nie. Mense met swembaddens mag ook nie hulle swembaddens opvul nie. Verskeie munisipale swembaddens het hulle deure gesluit in ’n poging van die stadsraad om water te bespaar. Slegs ’n sekere aantal munisipale swembaddens word oopgehou waar Kapenaars in die versengende somerhitte kan gaan afkoel.

Volgens die Wes-Kaapse rampbestuursentrum word gebeurlikheidsplanne deurlopend hersien ingeval die krane opdroog. Die planne maak daarvoor voorsiening dat geen gemeenskap sonder water sal sit as die krane opdroog nie. Noodplanne is in werking om seker te maak dat noodsaaklike instellings soos hospitale genoeg water sal hê.

Inwoners in die streek word intussen aangemoedig om die volgende paar maande aan te hou om water te bespaar om Dag Zero te probeer verhoed. Daar bestaan ook ernstige brandgevare hierdie tyd van die jaar in die provinsie en wegholveldbrande kan die situasie vererger indien daar weer sulke groot brande soos verlede jaar sou ontstaan.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top