Kapenaars se steun vir ’n onafhanklike Wes-Kaap gaan Woensdag, Vryheidsdag, getoets word wanneer verskeie groepe wat onafhanklikheid vir die Wes-Kaap voorstaan, saam ’n optog deur Kaapstad se strate hou.
Die optog vind plaas onder leiding van die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) wat in 2020 gestig is om mense en organisasies wat vir Kaapse onafhanklikheid werk te koördineer en te ondersteun. Die groep se primêre doelwit is om ’n referendum in die Wes-Kaap te bewerkstellig, met die einddoel afskeiding van Suid-Afrika en die vorming van ’n nuwe soewereine staat, met ’n regering wat volgens hulle die mense van die Kaap die Goeie Hoop beter sal verteenwoordig.
Politieke partye wat Woensdag se optog steun, sluit in die Vryheidsfront Plus, CapeXit en die Cape Independent Party. Die DA, wat tans die regerende party in die provinsie is, ondersteun nie afskeiding van die res van die land nie, maar wel groter magte vir provinsies en federalisme.
The #CapeRepublic should be a country where decentralized, efficient & accountable governance ensures that services are delivered at the highest standard, where our diverse people are valued not for their skin colour but for their effort and their ethics. #CapeIndependenceParty pic.twitter.com/c1jODmgXBg
— Cape Independence Party (@capeparty) April 25, 2022
Nie een van die politieke partye wat hulle vir ’n onafhanklike Wes-Kaap beywer, kon tot dus dusver by die stembus hond haaraf maak onder Kapenaars nie en geniet weinig steun in die provinsie.
Met Woensdag se optog hoop die groep om deur bewusmaking meer steun te werf onder die Moederstad se inwoners en hulle ondersteuningsbasis te verbreed.
LEST WE FORGET
This was a glimpse of your future - a state where governance and law and order have broken down
Choose a different reality, chose a first-world country, choose prosperity, choose #CapeIndependence
March with us on Wednesday https://t.co/Dc2D3ehQIX
— Cape Independence Advocacy Group (@LetsFreeTheCape) April 25, 2022
’n Woordvoerder van die groep, Phil Craig, het op sosiale media gesê hulle het goedkeuring vir 2 000 optoggangers wat by die Parade sal vergader, maar enigiets meer as 1 000 mense sal as ’n goeie opkoms beskou word.
1/ 'FREE THE CAPE' MARCH UPDATE:
Preparations for the 'Free the Cape' march are going extremely well.
Numbers are looking strong, and we are expecting a diverse crowd with all of the Cape's cultural groups represented.
Local and international journalists have confirmed ....
— Phil Craig (@philcraig2) April 25, 2022
Die groep sê hulle is daartoe verbind om, demokraties, wettig en vreedsaam, onafhanklikheid vir die gesamentlike volke van die Kaap te verkry.
“Wil jy in ’n Wes-Kaap woon wat vry is van armoede en werkloosheid? Vry van wetteloosheid? Vry van rassisme en rasgebaseerde beleid? Vry van ANC-korrupsie en onbevoegdheid? Vry van die risiko van ’n ANC/EFF-koalisieregering?” lui ’n petisie wat hulle die afgelope weke rondgestuur het.
“Staan dan saam met ons om 11h00 op Vryheidsdag (27 April) by die Groot Parade in Kaapstad en saam sal ons ons reg laat geld om ons eie toekoms te bepaal,” lui die uitnodiging verder.
Die optoggangers sal 3,6 km deur die middestad, verby die provinsiale wetgewer, parlement en die Distrik 6-museum stap voordat hulle ’n petisie wat aan die Wes-Kaap se premier, Alan Winde, gerig is, sal oorhandig. Die petisie vra onder meer vir ’n provinsiale referendum waarin Wes-Kaapse kiesers gevra sal word of hulle Kaapse onafhanklikheid wil hê.
Net ’n rapsie meer as 3 000 mense het tot dusver die petisie onderteken.
Petition signed by 3333 people (that's exactly how it fell) which will be handed over to @alanwinde tomorrow during the 'Free The Cape' March in CT supporting @Our_DA's decision to fix the referendum legislation and call a referendum which includes a question on #CapeIndependence pic.twitter.com/4v1xbrTk8P
— Cape Independence Advocacy Group (@LetsFreeTheCape) April 26, 2022
Die groep wil die DA versoek om ’n wetsontwerp van private lede in die parlement ter tafel te lê wat dit moontlik sal maak om referendums op provinsiale vlak te hou. Dit sal volgens hulle die weg baan vir ’n amptelike referendum oor die saak vir die Wes-Kaap, wat volgens die voorstanders van onafhanklikheid ’n groot stap is om die provinsie in ’n afsonderlike land te omskep.
Navorsing van die internasionale marknavorsingsmaatskappy Victory Research wat verlede jaar bekendgemaak is, toon glo ’n duidelike toename in steun vir ’n onafhanklike Wes-Kaap en dat die meeste Wes-Kapenaars nou ten gunste daarvan is, het die Vryheidsfront Plus vroeër in ’n verklaring gesê.
Een van die party se parlementslede, Corné Mulder, sê dit toon dat die groei ter ondersteuning van ’n referendum oor onafhanklikheid beduidend toegeneem het met ’n sterk 11,4% sedert ’n soortgelyke vorige peiling wat in 2020 gedoen is.
Hy sê dit beteken voorts dat 58% van die inwoners in die Wes-Kaap nou ten gunste van ’n referendum is.
“Hierdie uitslag maak dit baie duidelik dat die aandrang om selfbeskikking en vryheid vir die Wes-Kaap ’n al hoe sterker groeiende werklikheid word. Die VF Plus sal van sy kant alles in die stryd werp om op politieke gebied die leiding te neem om hierdie ideaal te verwesenlik,” het Mulder verlede jaar gesê nadat die meningspeiling bekendgemaak is.