Kaapstad se stadsvaders het hulle planne laat vaar om sonaanbidders wat op die Moederstad se strande vloek te beboet of tronk toe te stuur.
In Augustus verlede jaar het Kapenaars in hulle wyn gestik toe hulle in die koerant lees dat hulle ’n kwaai boete, en selfs tronkstraf, in die gesig staar as hulle gekruide taal op die strand sou gebruik.
Hulle het aanvanklik gedink dit is ’n grap en kwaai geswets toe hulle besef die stadsraad is ernstig. Die Kaapse metroraad wou ’n stel regulasies uitvaardig, waaronder ’n verbod op “aanstootlike of vloektaal”.
Die regulasies, waarop die publiek kon kommentaar lewer, het 17 bladsye beslaan. Onder die regulasies was die vloekverbod op strande. ’n Boete en/of tronkstraf van maksimum twee jaar was deel van die voorgenome regulasies. Daar is egter nie aangedui hoe erg mens moet swets voordat dit jou agter tralies sou laat beland nie.
In 2012 het die stadsvaders Kapenaars ewe vies gemaak toe hulle ’n regulasie uitvaardig ingevolge waarvan honde-eienaars beboet sou word as hulle honde vir meer as ses minute in ’n uur blaf.
Daar het verlede jaar ’n publieke koor van verontwaardiging opgegaan toe die stadsraad ’n stokkie wou steek voor die geswets op die strande. ’n ANC-woordvoerder, Dennis Cruywagen, het destyds aan Die Son gesê die voorgestelde regulasie slaan hulle dronk. “’n Mens sou dink dat die Stad Kaapstad belangriker kwessies het om aan aandag te gee, soos die bou van huise, die beëindiging van apartheid se ruimtelike beplanning, die herstel van paaie en om meer verkeersbeamptes aan te stel.
“So ’n regulasie kom neer op die beperking van vryheid van spraak,” het hy gesê.
Die stadsraad se argument was dat hulle die kuslyn beter wou beskerm en bestuur en dat die vloekverbod slegs een van verskeie regulasies is. Die publiek het tot 2 September verlede jaar geleentheid gehad om op die voorgestelde regulasies kommentaar te lewer en het glo in massas protesteer. Netwerk24 berig dat die stadsraad na talle vertoë van die publiek besluit het om die verbod op kru taal op strande te laat vaar.
Een van die besware was glo dat dit baie onduidelik is presies wat kru taal is. Van diegene wat kommentaar gelewer het, wou weet wie gaan besluit watter woorde is vloek, wat van vloekwoorde in verskillende tale, en hoe dit rym met vryheid van spraak.
Amptenare wat die nuwe regulasies saamgestel het, het volgens Netwerk24 gesê die plan was nie om vloekers te straf nie. Dit was glo eerder om te keer dat kinders daaraan blootgestel word.
Nadat die publiek se kommentaar oorweeg is, en omdat dit in konflik is met die grondwetlike reg van spraakvryheid, is daar besluit om die voorgestelde klousule terug te trek.
Dit beteken nie mense kan nou maak wat hulle wil en hulle wangedra op strande nie. Daar is steeds verskeie ander regulasies wat ongepoetste gedrag of wangedrag reguleer.
Harold Struwig het op Netweerk24 se kommentaarblad gesê party mense kan nie meer praat sonder om vloekwoorde te gebruik nie. “Volgens hulle is ’n taal te arm aan woorde om te beskryf hoe jy voel of as iemand jou kwaad maak omdat hulle nie saamstem met jou standpunt nie.”
Iemand het daarop reageer en gesê dan vloek party mense blykbaar ook nie as hulle met die hamer op die duim kap pleks die spyker, of as hulle ’n parkeerkaartjie kry wanneer hulle vyf minute langer as die toelaatbare tyd parkeer nie.
Kobus de Kock het gesê hy hoop inniglik die agbare raadslede bemoei hulle in die toekoms met belangriker sake, soos vullisverwydering en sanitasie.
Ander was van mening dat mens Kapenaars met al die wil in die wêreld nie sal kan laat ophou vloek nie.
Antoinette Malan stem saam en sê die mense in die noorde se bekke hang behoorlik oop as hulle na die Kapenaars luister, en dan lag hulle agterna tog te lekker daaroor.
Buro: MvH