As jy op Vrydagaand 9 Februarie 2018 kort duskant middernag by die ongevalle-afdeling van die Jeroen Bosch-Ziekenhuis (JBZ) in ’s-Hertogenbosch ingeloop het, was die kanse groot dat jy sou gedink het jy is besig om te hallusineer. Die hele ontvangslokaal was vol mense in kleurvolle kostuums: party onherkenbaar “geschminkt” met uitspattige grimering terwyl ander kleurvol aangetrek was in ’n amptelike Oeteldonkse uniform.
Hoewel die karnaval eintlik eers op Sondag begin en op Woensdag eindig, as jy jou as-kruisie tydens ’n spesiale mis in die kerk kry, bars die fees al eeue lank op Vrydagaand los. En teen middernag daag die eerste slagoffers al by ongevalle op. Wanneer ’n mens ’n ongeval het, gaan trek jy nie eers ordentlike klere vir die hospitaal aan nie; nee, jy gaan sommer so in jou Oeteldonkse karnavalpak. Verlede jaar het daar na die drie amptelike dae van karnaval 40 pasiënte met alkoholvergiftiging in die JBZ beland, maar daar beland natuurlik ook baie mense met ander karnavalverwante beserings by ongevalle.
Oeteldonk is die naam van Den Bosch se amptelike karnaval, ’n fees wat die stad al 550 jaar lank vier. Die meeste dorpe en stede in die suide van Nederland, “benede de Maasrivier”, wat Katoliek georiënteerd is, eerder as Protestants, vier nog steeds elke jaar karnaval. Die fees begin drie dae voor die 40 dae vastyd tot Paasfees. Omdat Paasfees se datum wissel, val die karnaval altyd tussen 1 Februarie en 7 Maart. In Brabant verander van die kleinste gehuggie tot die grootste stad se naam. Eindhoven word Lampegat, Bergen op Zoom is Krabbegat, Breda is Kielegat en ons woon in Dwergonië. ’n Egte Oeteldonker dra ’n rooi, wit en geel serp en ’n blou jassie vol wapens, opgestopte “kikkers” en goue epoulette wat enige diktator se uitrusting troef. Die driekleur van die Oeteldonkse vlag is die eerste keer opgeteken in Pieter Brueghel se skildery De strijd tussen carnaval en de vasten uit die 16de eeu. Op Maandag vind die groot optog in Den Bosch plaas en dan kan man en muis, dronk en nugter, hulle verkneukel aan die sosiale kommentaar wat met die sierwaens uitgebeeld word.
Nog verder suid, in Limburg, word karnavaltyd “Vastelavond” genoem. Limburgers roem hulle op hulle tradisies, pragtige volksang en asemrowende kostuums. By karnaval hoort ’n prins, twee adjudante en soms ook ’n raad van sewe. Die afgelope week is daar ’n hartroerende dokumentêre program uitgesaai oor die eer wat dit in ’n plaaslike gemeenskap vir ’n jong man is om tot Prins Karnaval verkies te word. Lede van karnavalverenigings werk van kindsbeen af in die vereniging met die hoop om ’n keer ’n prins of ’n adjudant te word. Nog ’n tradisie is vir ’n karnavalvereniging wat sy jubileum vier, om ’n boerebruilof te hou. Hiervoor word ’n troue op die trappe van die gemeentehuis opgevoer, gewoonlik in tradisionele drag.
Nie alle Nederlanders is ewe positief oor karnaval nie. In die Randstad is daar maar min begrip vir die fees wat geassosieer word met onnodige vakansie, alkoholmisbruik en “vreemdgaan”. Volgens die karnavalondersoek van 2017 drink die gemiddelde karnavalganger tot 20 glase bier per dag, spandeer hy ongeveer 70 euro per dag en gee sowat 50% nie om om ’n keer oor die tou te trap nie. Ten spyte van hulle afkeer, stroom daar jaarliks duisende gaste die suide in om saam jolyt te hou. Teen Woensdag sal meer as 100 000 besoekers ’n draai in Oeteldonk maak.
Musiek speel ook ’n groot rol tydens karnaval en elke lid van elke harmonievereniging word opgekommandeer om in die optog saam te speel. Elke jaar word daar nuwe karnavaltreffers bekendgestel, maar gewoonlik kom die liedjie wat by almal vashaak (’n sogenaamde oorwurm) uit ’n totaal onverwagte hoek. Vanjaar is dit weer die geval: dit is ’n liedjie wat ene Juffrouw Ank in ’n nuwe TV-reeks, De Luizenmoeder, sing. Waar jy ook al kom: op die bus of in die trein of by jou plaaslike “feestcentrum”, weerklink Juffrouw Ank se lied, maar dan met ’n ekstra ritme daarby:
Buro: IG