………..
“Dit wil voorkom of die skerp kritiek dié slag nie, soos gewoonlik, op dowe ore val by al die ANC se leiers nie en dat daar kommer in die party bestaan oor hul tanende beeld by die publiek.”
………..
Die ANC is die afgelope week uit verskeie oorde deur keelvol Suid-Afrikaners aangesê om te voertsek.
Selfs koerantredakteurs het hulle die afgelope twee weke al hoe skerper in die media, maar ook persoonlik, teenoor die ANC uitgespreek.
Die ANC-moet-voertsek-veldtog het veral op Twitter die tonge los gehad. Dit was nadat die ANC in ’n WhatsApp-boodskap aan sy ondersteuners gevra het om die party te help om wat hulle genoem het die “aanval” teen die ANC te help bestry. Hulle het hul ondersteuners gevra om hulle solidariteit teenoor die party op sosiale media soos Twitter uit te spreek deur middel van massaboodskappe ter ondersteuning van die ANC.
Foto: Pixabay.com
Die poging het egter die teenoorgestelde reaksie uitgelok. Talle Suid-Afrikaners het in massas daarop reageer met die hutsmerk #voertsekANC wat op Twitter gegons het. Die party is onder andere daarvan beskuldig dat van sy kaders miljarde rand gesteel het wat veronderstel was om armes, en diegene wat werkloos is en besig is om dood te gaan van die honger, te help.
ANC cadres steal billions of rands meant to provide relief to disadvantaged citizens, many of whom are now jobless and dying of hanger.
Young people in the ANC: the ANC is UNDER ATTACK. Let’s post ANC flags.
What the actual... 😳#ANCFriday #VoetsekANC pic.twitter.com/zHl5a0ptn5
— Mbulelo Mabuya 🇿🇦 (@mbulelo_mango) July 31, 2020
Dit is veral die onlangse nuus oor korrupsie ten opsigte van COVID-19-verwante tenders wat die land se inwoners warm onder die kraag het.
Patients sleep on the floor. #VoetsekANC pic.twitter.com/aZlFaUuw34
— fortune Boshomane (@fortuneBoshoman) July 31, 2020
Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, het reeds twee weke gelede in sy koerant geskryf vir so lank as wat Ramaphosa en die ANC nie die party se groteske wanregering, korrupsie, magsmisbruik en wanbestuur van die ekonomie sedert 1994, maar veral die afgelope dekade, kan erken nie, hulle die land nie kan help om uit die huidige gemors te kom nie.
“Om die verlede en die 8%-minderheid vir al ons kwale te blameer, kan net beteken daar is geen selfondersoek nie, en daarsonder kan geen plan om ons ekonomie en ons gemeenskappe uit die moeras te red, slaag nie,” het Du Preez geskryf.
Beeld se redakteur, Barnard Beukman, het ’n spotprent in sy koerant geplaas van ANC-lede wat toustaan om finansieel bevoordeel te word deur korrupte tenders tydens COVID-19. Hy het die spotprent ook op sy persoonlike Facebook-blad geplaas en daarby geskryf: “Sou daar nog enige etiese grondslag wees vir enige persoon om lid van die ANC te wees?”
Sou daar nog enige etiese grondslag wees vir enige persoon om lid van die ANC te wees?
Posted by Barnard Beukman on Sunday, 2 August 2020
Dit wil voorkom of die skerp kritiek dié slag nie, soos gewoonlik, op dowe ore val by al die ANC se leiers nie en dat daar kommer in die party bestaan oor hul tanende beeld by die publiek.
Die ANC het op Twitter ’n boodskap geplaas wat lui dat die party duur lesse geleer het oor selfsugtigheid wat besig om pos te vat en sê die party moes vinniger en meer effektief daarteen opgetree het.
#ANCFriday #WeLoveANC pic.twitter.com/fMzcme5gaD
— African National Congress (@MYANC) July 31, 2020
City Press het die afgelope Sondag ook berig dat die ANC se ondervoorsitter in Gauteng, Panyaza Lesufi, lang trane gehuil het oor die “pyn” wat sy party moet verduur oor die gespot op sosiale media dat die ANC moet voertsek.
Lesufi het tydens die begrafnis van die ANC-veteraan Andrew Mlangeni sy ongemak uitgespreek oor die wyse waarop die ANC afwyk van die waardes waarvoor mense soos Mlangeni en leiers van sy geslag gestaan het.
Lesufi het gesê dit is moeilik om te glo dat die ANC so wyd gekritiseer en gespot word. “Toe ek jare gelede by die ANC aangesluit het, het niemand die party gespot nie. Ons het gelag oor die tuislandleiers soos Lucas Mangope, Patrick Mphephu en die Matanzimas. Dit het nooit by my opgekom dat daar eendag ook so oor ons leiers grappe gemaak sal word nie. Wie sou ooit lag vir mense soos Nelson Mandela of Walter Sisulu?” het Lesufi gevra.
Lesufi het egter min simpatie op sosiale media gekry. Daar is onder andere gesê hy speel net ’n politieke spel en wil die guns van die publiek wen.
#VoetsekLesufi #VoertsekANC Lesufi is playing the political game. He is scared the anc is going down the drain and he wants to be a real minister. Now he is trying to gain the goodwil of the general public. Pathetic https://t.co/jS1IdDDHEe
— Tharina du Plessis (@TharinaVanVoll1) August 2, 2020
Die ANC het die afgelope naweek tydens hulle Nasionale Uitvoerende Komitee- (NUK-) vergadering ook hard probeer om verlore aansien te herwin. Die NUK sê in ’n verklaring die ANC “hang sy kop in skaamte” omdat van sy leiersfigure geïmpliseer word in tenderbedrog tydens die COVID-19-pandemie.
Die verklaring is voorgelees deur die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat self onder ernstige verdenking is van korrupsie. Sy seuns word ook betrek by die jongste ongerymdhede oor die toekenning van COVID-19-tenders. Die ANC erken in hul verklaring dat die NUK-vergadering baie “robuust” was, en dit is duidelik dat daar steeds groot verdeeldheid in die ANC se binnekring bestaan.
Buro: NM