Keelvol vir moord en doodslag

  • 0

Suid-Afrikaners is keelvol vir misdaad en die ongekende aantal moorde wat die land teister, en dring al hoe meer daarop aan dat die internasionale gemeenskap moet ingryp.

Die jongste oproep in dié verband kom van ’n voormalige spioen van die ANC se ondergrondse militêre vleuel, Umkhonto weSizwe, Brad Steyn.

Steyn se swaer, die 61-jarige John Bosman, is vroeër die maand op sy aarbeiplaas buite Nelspruit in Mpumalanga vermoor.

Steyn het ’n roerende video op YouTube gedeel waarin hy ’n beroep op almal doen om druk op regerings regoor die wêreld uit te oefen om die vlaag van geweld in Suid-Afrika te help hokslaan. Hy woon deesdae in Los Angeles en was op besoek aan Suid-Afrika tydens sy swaer se moord.

In die video vertel hy hoedat sy swaer en dié se vrou deur drie mans oorval is. Bosman het vir sy vrou geskreeu om haar te gaan toesluit en die polisie te bel terwyl hy die aanvallers probeer afweer het.  Hulle het hom geskiet en verskeie keer met messe gesteek voordat hy beswyk het.

Bron: Facebook

Steyn doen in die video ’n emosionele beroep op almal wat dit sien om hul regerings bewus te maak van die misdaadgolf in Suid-Afrika en die video verder te versprei. “John Bosman kan nie net nóg ’n statistiek wees nie,” sê ’n aangedane Steyn in die video.

“Die internasionale gemeenskap en hulle regerings moet bewus gemaak word van die krisis. Dis nie ’n witmens-kwessie nie, dis ’n Suid-Afrika-probleem. Dit gebeur op plase, op die Kaapse Vlakte, in gemeenskappe ...,” sê Steyn in die video.

Tydens die aanval op sy familielede was hy in Suid-Afrika vir die vervaardiging van sy dokumentêr Reconciliation wat deur die Oscar-bekroonde Kevin Costner vervaardig word.

In die dokumentêr word vertel van Steyn se vroeë lewensverhaal en sy betrokkenheid later jare by die ANC. As 17-jarige seun was hy op Strijdomplein in Kerkstraat toe die Wit Wolf Barend Strydom met ’n 9 mm-pistool voor die voet op swart mense losgebrand en agt mense doodgeskiet het. ’n Swart man wat ook raakgeskiet is, het aan Steyn skuiling gebied in die koeëlreën. 

Steyn sê daar is ’n groot probleem in “sy eie party”, die ANC. Hy sê daar is soveel binnegevegte in die ANC dat hulle nie eers kan voorsien in landsburgers se basiese behoefte aan veiligheid nie.

Hy sê misdaadintelligensie stort in duie omdat die regte en gekwalifiseerde mense nie aangestel word nie. Hoewel hy vertroue het in Cyril Ramaphosa, vrees hy die president is so besig om die interne konflik in die ANC te hanteer dat hy nie by sy prioriteite kan uitkom nie. Die spanning tussen wit en swart is volgens Steyn tans op ’n mespunt.

Volgens die jongste misdaadstatistiek is die moordsyfer in Suid-Afrika skrikwekkend hoog en het die afgelope boekjaar met byna sewe persent toegeneem.

Die jongste misdaadsyfers wat verlede maand in die parlement bekend gemaak is, skets ’n donker prentjie van Suid-Afrika se misdaadsituasie. Daar word gemiddeld 57 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor en die moordsyfer het die afgelope jaar met 1 320 moorde toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het tydens die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek in die parlement toegegee die moordsyfer in Suid-Afrika is skrikwekkend hoog.

Cele het gesê die polisie sal hard moet werk om die moordsyfer in Suid-Afrika te laat daal. Die moordsyfer vir 2017/218 het met 6,9% tot meer as 20 000 gestyg, van wie 19% vroue en kinders is.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top