Keelvol Zondo laat Zuma krimineel aankla

  • 0

Die voorsitter van die Zondo-kommissie wat ondersoek instel na staatskaping, regter Raymond Zondo, het genoeg gehad van Jacob Zuma se kat-en-muis-speletjies met die kommissie. Zondo het Maandag ’n streep in die sand getrek en gesê Zuma moet krimineel aangekla word oor sy minagting van die kommissie.

Dit volg nadat Zuma hom verlede week afgevee het aan die kommissie en sonder toestemming spore gemaak het toe hy verder moes getuig nadat Zondo beslis het dat hy hom nie as voorsitter gaan verskoon soos wat Zuma versoek het nie.  

Zondo het dit Maandag met die aanvang van die kommissie se verrigting opnuut beklemtoon dat Zuma se optrede verlede week ’n strafregtelike oortreding is.

Zondo het geen doekies omgedraai toe hy hom Maandag uitgelaat het oor Zuma se optrede nie. Hy sê Zuma se besluit om die kommissie verlede Donderdag sonder toestemming te verlaat moet in ’n ernstige lig beskou word.

“Oudpresident Zuma was nie geregtig om hom eensydig van die kommissie te verskoon terwyl die dagvaarding wat teen hom uitgereik was, steeds geldig is nie,” het Zondo gesê.

Zondo sê daar kon geen twyfel by Zuma gewees het dat hy toestemming nodig gehad het as hy die kommissie wou verlaat nie, aangesien hy nog enkele dae tevore toestemming gevra het om van verlede Woensdag se verrigtinge verskoon te word weens ’n familiebegrafnis wat hy wou bywoon.

Behalwe die kriminele klagte wat nou teen Zuma gelê gaan word, het Zondo ook aangekondig dat hy ’n dringende aansoek by die Konstitusionele Hof gaan indien wat Zuma sal verplig om die dagvaarding wat in sy naam uitgereik, is te gehoorsaam en voor die kommissie te verskyn.

Zondo het verskeie stappe aangekondig om Zuma se volgende verskyning voor die kommissie uiteen te sit. Dit behels onder andere die bepaling van die nuwe datums wanneer Zuma moet verskyn, die uitreik van ’n nuwe dagvaarding vir sy volgende verskyning, en die bediening daarvan op Zuma.

Zondo sê hoofstuk 6 van die Wet op Kommissies van 1947 maak dit baie duidelik dat enige persoon wat gedagvaar word om voor ’n kommissie te verskyn en dit nie doen nie, hom skuldig maak aan ’n oortreding.

Zondo sê die land se Grondwet stel dit baie duidelik dat almal in die land gelyk is voor die reg. Hy sê dit ’n fundamentele beginsel van die reg en kan nie net vir sekere mense geld nie.

Zondo sê daar moet ook in gedagte gehou word dat die sake wat deur die kommissie ondersoek word, hoofsaaklik handel oor gebeure wat plaasgevind het terwyl Zuma president was van die land. Daarom het Zuma ’n besondere verantwoordelikheid om rekenskap te gee van die dinge wat na bewering gedurende sy termyn as president gebeur het.

Zondo sê Zuma se optrede kan maklik deur ander gesien word as ’n verskoning om ook nie voor die kommissie te getuig as hulle gevra word om te verskyn nie. Dit sal die indruk skep dat mense wat moet getuig, kan kom en gaan soos wat hulle wil. Daarom is dit belangrik dat daar ewewigtig opgetree word, sodat elkeen kan sien almal in die land is gelyk voor die reg. Die erns van Zuma se optrede moet besef word sodat die kommissie ongehinderd met sy werksaamhede kan voortgaan, het Zondo gesê.

Tot dusver het Zondo spesiaal moeite gedoen om Zuma tegemoet te kom. Hy het vroeër selfs aangebied dat Zuma deur middel van ’n videoverbinding getuig weens die COVID-19-gevare.

Sedert 2018 toe die kommissie met sy werk begin het, is Zuma al 26 keer skriftelik genooi om te getuig om sy kant te stel en by herhaling om ’n geskikte tyd te bepaal wanneer dit hom sou pas om te getuig. Dit lyk egter of Zondo se geduld nou breekpunt bereik het en dat hy Zuma by die letter van die wet gaan hou.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top