Kenners sê MK-party soek vis op droë grond vir verkiesingsbedrog

  • 0

Jacob Zuma en sy MK-party (MKP) se kanse om die Wêreldhof te oortuig dat die afgelope verkiesing ’n bedrogspul was, is volgens regsgeleerdes en politieke kenners ’n ronde nul.

Die MKP beskuldig die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die Konstitusionele Hof daarvan dat hulle bewyse verontagsaam wat verskaf is om hul bewerings van ’n bedrogspul te ondersteun.

Die MKP het reeds die Kieshof genader in sy poging om die onlangse verkiesingsuitslae tersyde te stel.

Die MKP wil egter ook internasionale howe oor die beweerde bedrog nader.

Zuma sê die MKP het sy regspanne opdrag gegee om enige stappe, binne en buite Suid-Afrika, te doen “om te verseker dat geregtigheid geskied”.

Verskeie kommentators het in hulle reaksies aan die media gesê daar bestaan geen kans dat die MKP se aansoeke sal slaag nie.

Die OVK het op 2 Junie die algemene verkiesing van 2024 vry en regverdig verklaar.

Die MKP kon tot dusver geen bewyse vir hulle bewerings lewer nie. Die party hou egter vol dat hulle wel konkrete bewyse aan die OVK voorgelê het wat wydverspreide onreëlmatighede in die stemproses en die stemstelsel toon. Hulle sê egter niemand het geluister nie.

Zuma het tydens sy party se nuuskonferensie die afgelope Sondag op Jeugdag in Johannesburg gesê: “UMkhonto we Sizwe is van mening dat die 2024-verkiesing bedrog is en dat die uitslae wat deur die OVK aangekondig is, nie ’n ware weerspieëling van die wil van die mense is nie. Voor en ná die resultate het ons konkrete bewyse aan die OVK voorgelê wat wydverspreide onreëlmatighede in die stemproses en die stemstelsel toon. Niemand het egter geluister nie.”

Niemand weer egter wat die sogenaamde bewyse is waarna daar verwys word nie.

Bewerings dat die verkiesings gemanipuleer is, was algemeen op sosiale media nadat mense opgemerk het dat nasionale getalle skielik vir sommige partye, insluitend die ANC, op die OVK se webwerf verdubbel het.

Die OVK sê egter al wat gebeur het, is dat die streekstembriewe by die nasionale getalle gevoeg is, vandaar die skielike verandering op die telbord waaroor almal so gepraat het.

Die OVK het in ’n verklaring op X die bywerking van die verkiesingsuitslae verduidelik.

Zuma het Sondag gesê volgens hulle regsadvies was die Suid-Afrikaanse regters se uitsprake oor die verkiesingsdispute tot dusver nie op feite gebaseer nie. Daarom wil hulle na die Wêreldhof gaan, omdat dit nie Suid-Afrikaanse regters het nie.

“Ons sal dit nie deur die Suid-Afrikaanse regters laat doen nie, regters wat kwaad word en jou vonnis omdat hulle jou haat. Ons gaan na die regters wat na dinge kyk en na kwessies kyk. Ons gaan soontoe,” het Zuma Maandag gesê.

Die algemene gevoel onder politieke waarnemers en regskenners is egter dat die MKP geen bewyse van “stemfoefies” kon voorlê nie.

Selfs in regsdokumente wat die party ingedien het om te vra dat verlede Vrydag se Nasionale Vergadering uitgestel word, het die MKP geweier om enige bewyse te verskaf om te staaf wat hulle sê, ten spyte van baie geleenthede om dit te doen.

Die enigste gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, is volgens Daily Maverick dat die MKP geen bewyse het vir hulle bewerings nie, dat die getuienis nie bestaan ​​nie en dat hulle doelbewus lieg.

Gevolglik sal Zuma se aansprake dat hulle na internasionale howe gaan, ook plat val, meen die koerant.

Hierdie siening is ook deur verskeie kenners met Netwerk24 gedeel. Mense soos regter Leona Theron, die Grondwetkenner Koos Malan, die strafregkenner Llewelyn Curlewis en die politieke ontleder Theo Neethling meen almal Zuma en sy party soek vis op droë grond en dat die MKP se regsadvies baie swak is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top