Kerk besluit mans is nie meer vroue se baas nie

  • 0

Die Hervormde Kerk het met ’n groot meerderheid op sy algemene kerkvergadering in Pretoria besluit om die kerk se huweliksformulier so te wysig dat vroue nie meer as die man se mindere beskou word nie.

Volgens die amendement op die huweliksformulier wat met 322 stemme teenoor 27 aanvaar is, het God die man en vrou as gelykes geskape en is daar geen hiërargie nie, omdat alle mense in die oë van God kosbaar is.

Voorheen is daar van vroue verwag om te beloof om hulle mans te gehoorsaam en dat vroue nie oor hulle mans sal “baasspeel” nie.

“Na die sondeval was God se opdrag aan Eva dat sy haar met die wil van haar man moet vereenselwig en dit geld vandag nog vir elke vrou,” het die huweliksformulier voorheen gelui.

Die kerk se besluit dat vroue en mans as gelykes in die huweliksformulier beskou word, het wye reaksie van lidmate en belangstellendes uitgelok.

Vroulike afgevaardigdes wat sowat ’n kwart van die kerkvergadering in Pretoria uitmaak, was volgens Netwerk24 verheug oor die wysiging.

“Die vergadering – en die mans hier – het vroue se harte gehoor,” het een van die afgevaardigdes, Jeanine Manders van die gemeente Witfontein aan Netwerk24 gesê.

..............

“’n Vorige moderator van die Hervormde Kerk, Daan van Wyk, het gesê die drie vorige formuliere was nie in pas met ’n gesonde huweliksbeskouing nie. Van Wyk sê man én vrou moet uit eerbied aan mekáár onderdanig wees.”

..............

Op sosiale media het daar egter ’n woordestryd losgebars omdat die kerk besluit het vroue hoef nie meer te beloof om aan hulle mans onderdanig te wees wanneer hulle trou nie.

Sommige het die kerk se besluit dat mans en vroue gelyk is selfs as kettery beskou. “Ons kan maar net kyk wat die Woord van God sê,” het Jannie Odendal op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf en Efesiërs 5:22-23 aangehaal wat lui, “Vroue, wees aan julle eie mans ONDERDANIG, soos aan die Here. Want die man is die HOOF van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vrou dit ook in alles aan hul eie mans wees.”

Van die afgevaardigdes op die sinode meen egter die kern van geweld teen vroue lê in die patriargie. Annelie Botha van Mafikeng het volgens Netwerk24 gesê die Bybel is ’n patriargale teks. “Die teks is patriargaal, want dit is hoe die tekste is waarmee ons werk. Maar dit is nie hoe Jesus dit verstaan het nie.”

Iemand anders het op die koerant se blad geskryf sy vrou sal altyd onderdanig wees aan hom, anders kry sy wat die Bybel voorskryf.

.............. 

“Sommige mense was egter verstom dat die kerk nou eers besluit vroue en mans is gelyk. ‘Wow! En dit na net ’n skamele paar millennia! Nou gaan die hel los wees. Vroue hoef nie meer onderdanig te wees nie ... Bummer!’ was Eugene Basson se mening.”

..............

’n Vorige moderator van die Hervormde Kerk, Daan van Wyk, het gesê die drie vorige formuliere was nie in pas met ’n gesonde huweliksbeskouing nie. Van Wyk sê man én vrou moet uit eerbied aan mekáár onderdanig wees.

Volgens Netwerk24 is Cassie Aucamp van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ook glad nie beïndruk met die Hervormde Kerk se besluit nie. Volgens hom gaan daar in die besluit baie verlore van wat die Woord oor die huwelik sê.

Sommige mense was egter verstom dat die kerk nou eers besluit vroue en mans is gelyk. “Wow! En dit na net ’n skamele paar millennia! Nou gaan die hel los wees. Vroue hoef nie meer onderdanig te wees nie ... Bummer!” was Eugene Basson se mening.

Die Hervormde Kerk het op sy Facebook-blad geskryf die kerk onderstreep die gelykheid van mans en vroue met die aanvaarding van ’n nuwe huweliksformulier. “Die klassieke formuliere gaan nie meer gebruik word nie, weens die manier waarop vroue daarin voorgestel word.”

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top