Kernkrag se toekoms in Suid-Afrika wek vrae

  • 0

Die positiewe moontlikhede wat kernkrag inhou ten spyt, is Suid-Afrika nie meer in ’n posisie om daaruit voordeel te trek nie.

So sê Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus. Dit volg na aanleiding van die voortdurende probleme wat veral by Koeberg se Eenheid 2 ondervind word en wat die afgelope week bygedra het tot die herinstelling van beurtkrag.

Koeberg se problematiese Eenheid 2 het Saterdagoggend gestruikel, minder as ’n maand nadat dit deur meganiese probleme geteister is en ’n vertraagde terugkeer na diens tot gevolg gehad het.

Eskom het in ’n verklaring gesê kort nadat dit in bedryf gekom het ná die deurmekaar poging om Eenheid 2 se stoomopwekkers te vervang, het die reaktor weer uitgeskop, blykbaar weens ’n beheerstaaf wat in die reaktorkern geval het.

Dié onnodige geknoei by Koeberg het volgens Eskom daartoe gelei dat daar weer beurtkrag ingestel moes word.

Eenheid 2 is op 18 Januarie 2022 afgeskakel en was veronderstel om in Junie 2022 weer in bedryf te kom. Eenheid 1 sou dan deur dieselfde proses gaan, wat in Oktober sou begin het.

Dinge het egter verkeerd geloop. Die kritieke stoomgeneratorvervanging is uitgestel na 2023. Die volle redes is nie amptelik bekendgemaak nie, maar daar was geen ontkenning van berigte dat die stoorfasiliteite vir die ou, en nou radioaktief besmette, stoomopwekkers nie gereed was nie.

Die vertraging om Koeberg Eenheid 2 volgens skedule aan die gang te kry het gelei tot ’n bykomende 900 MW-tekort tydens Suid-Afrika se mees onlangse ernstige kragonderbrekings in die middel van die winter.

Die webjoernaal The Conversation berig dat dit alles gelei het tot bespiegeling dat die Koeberg-lewensverlengingsprogram in die moeilikheid is. Op sy beurt skep dit twyfel oor die kapasiteit van Suid-Afrika se kernkragsektor, en sal dit waarskynlik die hoogs ambisieuse voorstelle wat steeds binne die sektor bepleit word om nuwe kernaanlegte te bou, ter sprake bring.

Koeberg is Suid-Afrika se enigste kernkragsentrale en was vanjaar telkens om die verkeerde redes gereeld in die nuus.

Sy bedryfslisensie verval in 2024, en die voortgesette werking daarna hang af van kritieke opknappings en opgraderings. Die werk wat uiteindelik in Januarie vanjaar begin het, het dadelik probleme opgelewer wat aansienlike vertragings afgedwing het.

Koeberg verskaf net die helfte van sy krag terwyl die werk aan die gang is. Dit vererger elke keer die verlammende kragtekorte wat Suid-Afrika ervaar nóg verder.

Hierdie stand van sake, waar die land effektief 3% minder opwekkingskrag beskikbaar het as wat dit andersins sou hê, sal na verwagting vir die grootste deel van die volgende twee jaar voortduur, berig The Conversation.

Eenheid 2 het uiteindelik weer op 7 Augustus begin werk, amper twee maande later as wat geprojekteer is. Nog ’n onderbreking, wat net so lank gaan duur, word steeds in 2023 vereis.

Boshoff sê in ’n verklaring kernkrag kan ’n belangrike bydrae lewer om ’n betroubare basislading te verskaf. Die groot voorwaarde is egter dat ’n land wat kernkrag wil gebruik, die kundigheid moet hê om dit veilig te kan doen.

“Suid-Afrika se rekord op dié gebied was tot onlangs baie goed. Sedert die korrelbedkernreaktorprojek beëindig is, het al hoe meer deskundiges egter die land verlaat,” sê Boshoff.

Hy wys daarop dat Suid-Afrikaners nie die fiasko rondom oudpresident Jacob Zuma se beplande Russiese kerntransaksie vergeet het nie. “Die bewese onreëlmatighede in dié verband help nie om skeptici gerus te stel nie. Ook nie die voortslepende krisis by Koeberg nie,” sê hy.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top