Kersfees sonder strenger inperkings

  • 0

Suid-Afrika kan volgende week Kersfees hou sonder die vrees dat hulle verder ingeperk gaan word as gevolg van die koronavirus.

Die hele land het Donderdag ’n sug van verligting geslaak toe die Minister van Gesondheid aangekondig het dat geen bykomende inperkingsregulasies gedurende die Kersfeestyd oorweeg word nie.

Dit is veral die toerisme- en drankbedryf wat gevrees het die Omikron-variant kan hulle finansiële ondergang beteken.

Suid-Afrika ervaar vanjaar die vierde golf van die COVID-19-pandemie tydens die feestyd. COVID-19-infeksies neem daagliks toe na die ontdekking van die Omikron-variant, wat as meer aansteeklik as die vorige variante beskou word.

Die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het Donderdag gesê die nasionale COVID-19-bevelsraad het besluit om die land vir nou op die aangepaste vlak 1 van inperkingsregulasies te hou. Die bevelsraad het Dinsdagaand vergader. Phaahla sê die raad het opdrag gegee dat die styging in koronavirusgevalle, hospitaliserings, sterftes en die herstelkoers gemonitor moet word. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het die voorafgaande 24 uur 26 976 nuwe gevalle en 54 sterftes aangeteken.

Phaahla het ’n beroep op landsburgers gedoen om alle COVID-19-protokolle gedurende die feestyd na te kom. Die vierde vlaag van infeksies word deur die Omikron-variant aangedryf.

Hy sê die nasionale bevelsraad het die afgelope week besin oor die huidige COVID-19-situasie en aanbevelings gemaak wat deur die Departement van Gesondheid ter tafel gelê is om ’n moontlike styging in COVID-19-infeksies gedurende die feestyd te voorkom.

Die aanbevelings fokus onder andere daarop dat sosiale byeenkomste soos partytjies en troues, wat "superverspreider"-geleenthede kan wees en ’n groot risiko vir die oordrag van die virus inhou, op ’n verantwoordelike wyse moet plaasvind.

Volgens wetenskaplike studies versprei hierdie virus vinniger as in vorige vlae, maar die koers van hospitalisasie en sterftes bly relatief laag.

"Daarom is dit in ons hande om ’n veiliger en vreugdevolle Kersfees en voorspoedige Nuwejaarsvieringe te hê," het die minister gesê.

"Ons doen ’n beroep op alle reisigers, veral diegene wat nie ingeënt of gedeeltelik ingeënt is nie, om ingeënt te word voordat hulle die paaie aandurf om sodoende hul families en vriende te beskerm wat hulle sal besoek gedurende hierdie tydperk."

Die regering het Donderdag tydens ’n afsonderlike mediakonferensie van die land se veiligheidskomitee gesê entstowwe bly die beste verdediging teen COVID-19 deur die risiko van ernstige siekte, hospitalisasie of selfs dood te verminder. Statistieke het getoon dat die meeste van die mense wat met die virus besmet is wat in hospitale opgeneem word, nie ingeënt is nie.

Mense word aangeraai om groot byeenkomste soos feeste of partytjies te vermy, en slegs in klein groepies in goed geventileerde areas bymekaar te kom.

Die regering het opnuut ’n beroep op mense gedoen om hulself en hul geliefdes hierdie feestyd veilig te hou deur te verseker dat al hulle gesinslede ouer as 12 die COVID-19-entstof kry, wat gratis by enige van die inentingsplekke regoor die land beskikbaar is.

"Maak seker jy kry jou inenting voordat jy hierdie Desember kuier, familie besoek of met vakansie gaan," lui die regering se verklaring.

Nog 24 785 nuwe COVID-19-gevalle en 36 sterftes is in die afgelope 24 uur in Suid-Afrika bevestig. Dit bring die toetspositiwiteitskoers op 30,9% te staan. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes kom die meeste gevalle steeds in Gauteng voor, naamlik 6 744. Die getalle in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap het intussen skerp gestyg tot onderskeidelik 5 821 en 4 599. Meer as 210 000 mense in die land het tans COVID-19 onder lede.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top