Dis nou wel nie Kersvader op ’n slee wat deur takbokke getrek word nie, maar Kersvader die rob het Kapenaars Woensdag na hulle kameras laat gryp toe sy die stad se verkeer op ’n besige snelweg tot stilstand gedwing het.
Motoriste kon hulle oë nie glo toe ’n Kaapse pelsrob doodluiters uit die bloute haar verskyning op die snelweg gemaak het nie. Die vreemde toneel het hom op die besige Jakes Gerwel-rylaan oorkant die Vangate Mall in Athlone afgespeel.
Niemand weet hoe die rob daar beland het en of sy net op pad was om haar laaste kersinkopies te gaan doen nie, maar motoriste en verbygangers kon hulle oë nie glo toe die rob sowat 15 kilometer van die naaste strand besig is om die snelweg oor te steek nie.
Die besige kruising by Klipfontein het vinnig tot stilstand gekom sodat die rob veilig die pad kon kruis.
Terwyl die rob nonchalant oor die besige snelweg gewaggel het, het lede van die stad Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes opgedaag en die gebied beveilig, terwyl hulle gewag het op die DBV se koms wat die rob in ’n krat gelaai en terug see toe geneem het.
Met hulle aankoms by die toneel het DBV-hoofinspekteur Jaco Pieterse en inspekteur Lwazi Ntungele die groot volwasse Kaapse pelsrobwyfie gevind wat in die verkeer rondgedwaal het, terwyl ’n skare verwarde toeskouers toegekyk het. Die Kaap die Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging (DBV) het foto’s en video’s van die rob op hulle webwerf geplaas wat deur lede van die publiek geneem is.
Die DBV sê op hulle webwerf dit blyk nie eens Kaapstad se natuurlewe is immuun teen die Kersfeesgees nie. In ’n tyd van die jaar wanneer die winkels stampvol is en maatskappye met allerhande foefies om die publiek se aandag meeding om die nuutste gier te verkoop, is ’n mens nogal gewoond daaraan om vreemde goed by die winkelsentrums te sien, maar toe die Kaap die Goeie Hoop DBV Natuurlewe-afdeling Woensdag ’n oproep ontvang van ’n Kaapse pelsrob wat die besige Jakes Gerwel-rylaan oorkant die Vangate Mall in Athlone oorsteek, het selfs hulle gewonder of dit waar kan wees, skryf die DBV op hulle webwerf.
Athlone: Seal Rescued from Busy Intersection!
It seems not even Cape Town’s wildlife is immune to the Christmas spirit!
Click here to view the full story with photos and videos of this happy ending:- https://t.co/6KwQByTan6#SPCA #Seal #CapeTown #Rescue @CityofCT pic.twitter.com/w7Mkd4cew4
— Cape of Good Hope SPCA (@capespca) December 21, 2022
Hoe ’n rob in die eerste plek so ver van die see tot daar gekom het, sal volgens die DBV ’n raaisel bly. Een teorie is dat dit in ’n kanaal ingeswem het en verder weggespoel is deur sterk strome, of dat dit bedoel was om ’n ongewone Kersgeskenk vir iemand se skoonma te wees, maar net so gelos is toe die ontvoerder die prys van vis sien en besef hoe duur dit gaan wees om die arme dier te onderhou.
They found a seal in Bonteheuwel, which is about 30 minutes drive from the sea. He really has lost his sense of home since Heidi left him. pic.twitter.com/dY4D7bSk6d
— Yaaseen Barnes (@Ya_a_seen_Him) December 21, 2022
Nadat seker gemaak is die rob is gesond, is sy na die naaste strand geneem en weer in die see vrygelaat. Of enige van die ander robbe haar sal glo as sy hulle van haar beproewing en wedervarings vertel, is te betwyfel.
Die DBV het ook ’n video op YouTube geplaas van die rob se vrylating in die see deur die DBV se beamptes.
Die DBV herinner mense om nie enige wilde dier te nader nie, veral Kaapse pelsrobbe, wat redelik aggressief kan wees en nie sal skroom om te byt wanneer hulle in ’n hoek gedruk word of bedreig voel nie. Dit is veiliger om die DBV se Natuurlewe-afdeling te kontak by 021 700 4158/9 of 083 326 1604, sodat opgeleide spanlede die wilde dier in nood kan bystaan.
Die Kaapse pelsrob word net rondom die plaaslike waters aangetref en is een van die sterkste en mees gespierde robbe. Wanneer dit uitgelok word, kan dit ernstige beserings veroorsaak as dit iemand byt.