Suid-Afrikaners word geteiken deur KI-gedrewe swendelary waar bedrieërs bankamptenare naboots, vals toepassings skep en sosiale media manipuleer om geld te steel.
So waarsku die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) in ’n verklaring na aanleiding van toenemende KI-swendelary in die land.
Met vals video’s, stemkloning en KI-gedrewe kletsbotte kan misdadigers nou presies soos regte bankverteenwoordigers klink en lyk.
Volgens onlangse berigte ervaar groot banke soos Standard Bank, FNB en Absa ’n styging in bedrog via banktoepassings. Swendelaars benut die toenemende afhanklikheid van digitale bankdienste, veral sedert die grendeltyd.
’n Onlangse Standard Bank-waarskuwing het ’n bedrieglike WhatsApp-groep uitgewys wat SBG SI Trader bevorder, ’n vals beleggingsprogram wat ontwerp is om persoonlike data en geld te steel.
SBG SI Trader is een van die bedrieglike beleggingsprogramme wat valslik aanspraak maak op affiliasie met Standard Bank en SBG Securities, wat in ’n WhatsApp-groep gebruik word om persoonlike data te steel.
Benewens SBG SI Trader is daar ook ander gevalle waar swendelaars platforms soos JSE Trading of Crypto Wealth namaak en belowe om groot winste te lewer, maar uiteindelik slagoffers se geld steel.
Sabric, wat hulle daarop toespits om finansiële misdaad te bekamp en Suid-Afrikaners veilig te hou, sê hulle het gewaarsku dat so iets moontlik is, en nou is dit hier.
In een geval is ’n individu mislei om meer as R6 miljoen in ’n bedrogspul te belê onder die voorwendsel om op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) te verhandel. Die bedrogspul is georkestreer deur individue wat hulle as bankwerknemers voorgedoen het. Die verdagtes het ’n vals toepassing gebruik en digitale kommunikasiekanale gemanipuleer om die slagoffer se vertroue te wen en die bedrieglike transaksies te vergemaklik.
Hierdie tipe KI-gedrewe swendelary is glo deel van ’n groter golf van bankverwante bedrog in Suid-Afrika
AI Scammers Are Impersonating Your Bank – Can You Tell the Difference?
Imagine receiving a WhatsApp message that looks exactly like it’s from your bank.
for more info click here: https://t.co/i0QXzl7Tpv pic.twitter.com/ayecYoiS2L— SABRIC (@Sabric) March 18, 2025
In ’n ander geval het ’n individu meer as R100 000 verloor weens vertroue in ’n bedrieglike makelaar. Die swendelaars het ’n professionele webwerf geskep en maatskaplikemanipulasietegnieke gebruik om die slagoffer te mislei om aansienlike finansiële beleggings by hierdie vals makelaar te maak. Ten spyte van die versekering dat hy sy fondse enige tyd kan onttrek, het die slagoffer al sy geld verloor.
“Stel jou voor dat jy ’n WhatsApp-boodskap ontvang wat presies lyk asof dit van jou bank af kom. Die logo is korrek, die bewoording is professioneel, en die persoon aan die ander kant beweer dat hy ’n bankbeampte is wat ’n winsgewende beleggingstransaksie aanbied. Hulle stuur selfs ’n oortuigende skakel om ’n toepassing af te laai. Maar dit is alles vals.”
En dit hou nie daar op nie, waarsku Sabric. Swendelaars skep nie net vals banktoepassings nie, hulle gebruik ook die volgende metodes:
- Hulle boots bankamptenare op sosiale media na.
- Hulle plaas vals resensies en bekragtigings.
- Hulle genereer vals nuusartikels om slagoffers te mislei.
Hierdie swendelary voel eg, en volgens Sabric is dit waarom hulle so gevaarlik is.
Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van Sabric, sê dat misdadigers KI gebruik om selfs die versigtigste individue te mislei.
“KI-gedrewe swendelary is nou so gevorderd dat selfs die waaksaamste persoon geflous kan word met stemme, e-posse en selfs hele toepassings. Die enigste manier om veilig te bly is om te verifieer voordat jy vertrou.”
As iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik nie waar nie, waarsku Mewalall. “Wees versigtig vir aanbiedinge wat ‘gewaarborgde’ finansiële opbrengste belowe.”
Nog raad wat hy het, is om nooit programme af te laai vanaf skakels wat via WhatsApp, SMS of e-pos gestuur word nie. Gebruik altyd amptelike toepassingwinkels.
Verifieer voordat jy vertrou. As iemand beweer dat hy van jou bank is, lui af en bel die amptelike nommer.
Banke sal nooit vir jou PIN-, OTP- of bankwagwoorde vra nie. Banke se uitvoerende hoofde verkoop of bevorder ook nie beleggings aan die publiek nie.
Rapporteer verdagte aktiwiteite onmiddellik. As jy bedrog vermoed, kontak jou bank en rapporteer dit.
Hierdie swendelary teiken nie net ’n paar mense nie, dit raak alle Suid-Afrikaners, steel mense se spaargeld wat hulle oor hul hele lewe opgebou het, en erodeer vertroue in digitale bankdienste, sê Sabric.
Vir meer wenke oor hoe om veilig te bly, besoek www.sabric.co.za.