Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n bloutjie in die hof geloop in hulle poging om die omstrede lied “Kill the Boer, kill the farmer” as haatspraak verklaar te kry.
Die Gelykheidshof het Donderdag beslis dit sou vryheid van spraak inperk as die lied “Dubula Ibhunu” as haatspraak verklaar sou word. Regter Edwin Molahlehi het ook gelas dat AfriForum die koste betaal.
AfriForum het kort na die uitspraak aangedui dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer. Volgens Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, skep die uitspraak ’n baie gevaarlike presedent.
Hy sê in ’n verklaring die boodskap wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie. Die EFF het die uitspraak verwelkom.
AfriForum is ready to file an appeal against the #KillTheBoer judgement. Here is why.@afriforum pic.twitter.com/NLtq8YbU7s
— Ernst Roets (@ErnstRoets) August 25, 2022
AfriForum wou ook hê dat die leier van die EFF, Julius Malema, en die EFF-parlementslid Mbuyiseni Ndlozi R500 000 aan ’n liefdadigheidsorganisasie moes betaal vir die sing van die opruiende liedjies. Hulle het ook geëis dat die twee om verskoning moet vra dat hulle die liedjies gesing het.
Regter Molahlehi het egter gesê AfriForum kon nie daarin slaag om hul saak oortuigend te stel nie. Volgens die Gelykheidshof kon daar nie voldoende bewys word dat die sing van die lied op haatspraak neerkom nie.
AfriForum het die betrokke klag in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat EFF-ondersteuners “Kill the Boer, Kill the farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die gruwelmoord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.
Ernst Roets het vroeër gesê dat die sukses in hierdie saak van kardinale belang is sodat ’n boodskap gestuur word dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n groep gebaseer op hul identiteit onaanvaarbaar is en nie geduld gaan word nie.
EFF-ondersteuners het na die uitspraak uitbundig in die hof gejuig en ook weer die omstrede lied buite die hof gesing.
♦️Must Watch♦️
The court has ruled that declaring the song Dubula Ibhunu as hate speech would curtail freedom of expression. Therefore, the court dismissed that the song constitutes hate speech and that Afriforum must pay the costs #EFFBeatsAfriforum pic.twitter.com/41Kkeudwiq
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 25, 2022
Die EFF sê in ’n verklaring hulle verwelkom die uitspraak teen die “rassistiese AfriForum” se aansoek. Die EFF sê die uitspraak bevestig Malema se standpunt dat die sing van vryheidsliedere nie letterlik geïnterpreteer moet word nie, maar deel is van die stryd teen onderdrukking.
“Hierdie waterskeidinguitspraak moet deur alle progressiewe magte verwelkom word as ’n oorwinning teen rassiste wat die apartheidsvlag wil wapper en die lied van verdrukking, naamlik ‘Die Stem’, as deel van die land se volkslied wil sing. Dit is ’n oorwinning teen skynheiliges wat die vryheidstryd se geskiedenis probeer uitvee en ’n geskiedenis van dominasie wil propageer deur rassistiese standbeelde, liedere en vlae,” sê die EFF in hulle verklaring.
EFF Welcomes The Judgement Of The South Gauteng High Court To Dismiss Racist Afriforum Attempt To Sanction EFF For Singing Dubula Ibhunu pic.twitter.com/8hrOK3v69L
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 25, 2022
Malema het vroeër vanjaar tydens sy getuienis in die hof die party se weergawe van die gesang "kiss the Boer" verdedig. Hy het gesê dit is deel van Suid-Afrika se geskiedenis en speel geen rol in plaasaanvalle nie.
Tydens die slotbetoë in Junie het Malema se regsverteenwoordiger ook aan die hof gesê dat die lied nie letterlik opgeneem moet word nie, en beklemtoon dat dit nie ’n opdrag is nie, en die woord "Boer" verwys nie na ’n individu nie, maar verteenwoordig ’n onderdrukkende stelsel.
AfriForum het na Donderdag se uitspraak gesê hulle werk konstant met die slagoffers van plaasaanvalle, asook die families van vermoordes in hierdie grusame misdade. “Ons begryp die pyn en trauma wat hierdie slagoffers en oorlewendes mee moet saamleef. Ons is dus diep teleurgesteld met die uitspraak. Daar is geen plek in die samelewing vir liedere wat die moord van mense gebaseer op hul identiteit aanmoedig nie,” het Roets gesê.
Volgens Roets bewys die uitspraak hoe die politieke bestel in Suid-Afrika besig is om te radikaliseer, veral teen minderhede. Hy sê ’n politieke bestel waar die aanhitsing en romantisering van geweld teen minderhede deur die regbank goedgekeur word, is nie ’n vrye, demokratiese bestel nie, maar ’n onderdrukkende bestel.
AfriForum sê hulle gaan dringend met hul regspan vergader om die appellering van hierdie uitspraak te bespreek.