Die omstrede strydlied “Kill the boer, kill the farmer” het opnuut internasionale sowel as plaaslike reaksie uitgelok nadat dit tydens Menseregtedag op 21 Maart deur die EFF onder leiding van Julius Malema gesing is.
EFF leader Julius Malema singing the controversial song "Kill the Boer" on Human Rights Day, March 21, 2025. pic.twitter.com/znUpO9f6xL
— MDN NEWS (@MDNnewss) March 21, 2025
Die burgerregteorganisasie AfriForum het president Cyril Ramaphosa vroeër dié week skriftelik versoek om ’n onboetvaardige standpunt teen “veragtelike dreunsange” soos “Kill the Boer” in te neem en dit openlik ten sterkste te veroordeel, terwyl dit ook in die VSA opslae gemaak het.
AfriForum beweer in hulle brief aan Ramaphosa dié dreunsang teiken uitdruklik sekere mense, naamlik die wit minderheid en boere.
.@afriforum dring by Ramaphosa aan op openlike veroordeling van veragtelike “Kill the Boer”-dreunsang https://t.co/Ui7X2ZQg65
— AfriForum (@afriforum) March 25, 2025
Hulle sê in ’n verklaring indien die President rasseverhoudinge wil verbeter, wil toesien dat alle burgers van die land veilig voel en niemand uitdruklik geteiken of geïgnoreer word nie, sal die veroordeling van hierdie “gewelddadige dreunsang” ’n deurslaggewende stap in die regte rigting wees.
Die kwessie het ook internasionale aandag getrek toe die Amerikaanse president, Donald Trump, en Elon Musk, wat in Suid-Afrika gebore is, op sosiale media hierop gereageer het. Trump het op 23 Maart ’n plasing van Musk op Truth Social gedeel waarin Musk die lied as ’n oproep tot geweld teen wit mense beskryf het, gekoppel aan Suid-Afrika se Onteieningswet en Swart Ekonomiese Bemagtiging.
Dit volg op ’n besoek deur AfriForum en Solidariteit se verteenwoordigers aan die VSA, waar hulle met Trump se administrasie gepraat het oor druk op die ANC.
Marco Rubio, die VSA se minister van buitelandse sake, het op 24 Maart 2025 ook ’n duidelike standpunt ingeneem oor “Kill the Boer”. In ’n plasing op X het hy gesê “Kill the Boer” is ’n lied wat geweld aanhits en dat Suid-Afrika se leiers en politici moet optree om Afrikaners en ander benadeelde minderhede te beskerm.
“Kill the Boer” is a chant that incites violence. South Africa’s leaders and politicians must take action to protect Afrikaner and other disfavored minorities. The United States is proud to offer those individuals who qualify for admission to our nation amid this continued…
— Secretary Marco Rubio (@SecRubio) March 24, 2025
Rubio se reaksie is deel van ’n breër Amerikaanse beleid onder president Donald Trump wat onlangs finansiering aan Suid-Afrika opgeskort het en asiel aan Afrikaners aangebied het deur middel van ’n uitvoerende bevel. Sy uitspraak kom ook ná die uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur, Ebrahim Rasool, op 17 Maart 2025 weens Rasool se kritiek op Trump se beleid as “wit oorheersing”.
Rubio sien die lied as ’n direkte bedreiging vir Afrikaners, veral boere, en glo dit dra by tot geweld teen hulle. Dit strook met sy standpunt teen wat hy as anti-VSA- of antiminderheidsentimente beskou, soos gesien in sy boikot van die G20-vergadering in Suid-Afrika vroeër in Februarie vanjaar.
Plaaslike sentiment is verdeeld. Sommige, soos die EFF, verdedig die lied as ’n simbool van die stryd teen apartheid, terwyl ander, insluitend AfriForum, dit as ’n direkte dreigement sien, veral met 42 plaasmoorde in 2025 tot dusver, meer as een per week. Die debat word verder aangevuur deur die breër konteks van plaasaanvalle en die regering se stilswye, wat kritici as onverskilligheid beskou.
So Prof Lesiba Tefu have problem with EFF leader Julius Malema for singing struggle song "kill the farmer, kill the boer" but don't see anything wrong with Orania, Afriforum and Solidarity union for flying apartheid flags during their protests. pic.twitter.com/GmVBEokIIP
— Mahero Sankara Sekgala (@MaheroSekgala) March 26, 2025
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, versterk Ramaphosa se stilswye oor “Kill the Boer” die idee dat hy meer besorgd is daaroor om nie die EFF te ontstel nie as wat hy daaroor is om gerusstelling te bied aan minderheidsgemeenskappe wat legitieme kommer en vrese het om geteiken en as die sondebok voorgehou te word.
“Die regering het reeds jare lank die boere van die land die rug toegekeer en hom blind gehou vir die uitermatige geweld wat boere in die vorm van wreedaardige plaasaanvalle en -moorde raak. Die regering het ook nog nooit dreunsange soos ‘Kill the Boer’ wat boere teiken, veroordeel nie. Dit moet verander en die huidige krisis is die ideale geleentheid daarvoor,” het Van Zyl gesê.