Kinderbeskermingsweek skop af met gids teen kuberboelies

  • 0

’n Kuberboeliegids wat bewusmaking skep oor die gevare van tegnologie, sosiale media, seksskrywery (sexting) en kinderpornografie, is Maandag op die eerste dag van die inwerkingtreding van die Nasionale Kinderbeskermingsweek bekendgestel.

Die doel van hierdie gids is om ouers, onderwysers en leerders te bemagtig om #SkermSlim te wees. Die gids is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, die polisie se reeks- en elektroniesemisdaadeenheid (SECI), die Universiteit van Johannesburg en Unisa saamgestel.

Wêreldwyd lê Suid-Afrika vierde hoogste wat kuberboeliery betref. Volgens marknavorsing deur die maatskappy Ipsos in 2018 het meer as die helfte (54%) van Suid-Afrikaanse ouers gesê dat hul kinders, of kinders in hul gemeenskap, slagoffers van kuberboeliery is.

Hierdie statistiek kan egter veel hoër wees, aangesien ouers nie altyd weet of hul kinders geboelie word nie. Sosiale media veroorsaak soms dat die boelie saam met die slagoffer huis toe gaan; boeliery is dus konstant, sê die opstellers van die gids.

Unisa se Jeugnavorsingseenheid (YRU), wat onder die Kommunikasie- en Gedragsnavorsingsafdeling van die Buro vir Marknavorsing (BMR) funksioneer, het reeds in 2017 ’n opname gedoen oor die voorkomssyfers van afknouery onder ’n verteenwoordigende leerdersteekproef van 17 sekondêre skole in Gauteng.

Die navorsing se bevindinge het getoon dat die tradisionele vorme van afknouery (fisieke en emosionele afknouery) algemeen onder leerders voorkom. Emosionele afknouery kom veral (66,7%) onder hoërskoolleerders voor, gevolg deur kuberafknouery (31,2%), wat aan die toeneem is in vergelyking met die 2012-navorsingsbevindinge (16,9%).

“Boeliery, wat vroeër net op die skoolterrein, of op skoolbus plaasgevind het, het nou na sosiale media uitgekring in die vorm van kuberboeliery. Die gids bespreek die erns van kuberboeliery, kinderpornografie en seksskrywery. Dit lig ouers en onderwysers in oor die gevare van die internet en sosialemediaplatforms. Ouers en onderwysers word ook gewys hoe om proaktief op te tree wanneer hul uitvind dat leerders onder kuberboeliery gebuk gaan, hoe om dit te hanteer en te voorkom,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, in ’n verklaring.

Veronica Banks van die SAPD se Gautengse eenheid vir elektroniese misdaad sê bewusmaking oor die gevare van sosiale media moet met leerders bespreek word, aangesien al hoe meer leerders daardeur geraak word.

“Leerders weet nie noodwendig watter gevare en trauma dit vir hulself kan inhou nie, veral nie wat die deel van naakfoto’s betref nie. Ons wil leerders help om sosiale media beter te verstaan, en hoe om boeliegedrag aan te meld. Hierdie gids bevat ’n tabel met verskeie slimfoontoepassings wat onder leerders gewild is, en watter gevare elke toepassing inhou. Ons moedig ouers aan om hulself goed van hierdie toepassings te vergewis en hoe dit werk, sodat hulle hul kinders beter kan beskerm,” sê Banks.

Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê ondervinding wys dat die President, die Minister van Justisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die howe slegs lippediens doen oor geslagsgebaseerde geweld en seksuele oortredings teenoor minderjariges.

Opvoeders word daagliks gekonfronteer met van uiteenlopende soorte voorvalle wat die toepassing van die reg in skole noodsaak. Kuberboeliery is die algemeenste en waarskynlik die moeilikste om te hanteer.

Die enigste doeltreffende wyse om daarop te reageer is volgens Vorster om te verseker dat die reg voorspelbaar is, om sodoende as afskrikmiddel te dien. Die gids fokus op die Wet op Kubermisdade 19 van 2020 en  die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996.

’n Standvastige vertrouensverhouding tussen kind en ouer is ’n voorvereiste om ongemaklike gesprekke oor sosiale media en ander onderwerpe te hê, het Vorster gesê. Sy sê daarom moet ouers deurgaans hard werk aan hulle verhouding met hulle kinders deur gehaltetyd met hulle te spandeer.

“Hierdie gids leer ouers en onderwysers hoe om situasies te hanteer wanneer hul kind met kuberboelies, kinderpornografie en seksskrywery te doen kry,” sê Yolandi Singleton, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum.

“Ons is vinnig besig om die kubergenerasie te word. Die doel van die bewusmaking van kubersekuriteit is om alle gebruikers – ouers, leerders en opvoeders – daaroor in te lig. Ons glo hierdie gids sal die publiek meer bewus maak van kubersekuriteit. Leerders kan enige plek digitaal afgeknou word. Dit kan 24 uur, sewe dae per week gebeur – en baie keer weet die ouers nie dat hul kind(ers) geïntimideer word nie,” sê Elmarie Kritzinger van Unisa.

“Ouers, grootouers, onderwysers en almal wat in enige tipe gesagsposisie is, moet die boodskap duidelik help oordra. As jy op enige wyse aan kuberboeliery deelneem, kan jy vir die res van jou lewe ’n misdaadrekord hê,” sê Basie von Solms van die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit.

Die teenboeliegids kan hier afgelaai word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top