The end of the world in our usual bed in a night full of rain was die wonderlike titel van ’n Lina Wertmüller-rolprent van die 1980’s. Dis hoe dit voel vir my kinders in Wallis, waar dit nou al sedert November aanhoudend reën, met net “patches of sun”. My skoonseun ry steeds per fiets werk toe om die verkeersknope en oorstromings te ontduik, maar dan moet hy met ’n nat bas vergadering hou by sy instituut.
Klimaatsverandering, natuurlik. En soos ons, sit hulle en wag hulle vir die eerste gevalle van die koronavirus. In Afrika waarsku regerings oor minstens drie reusagtige swerms sprinkane wat hele provinsies se oeste gaan opvreet. Dit voel soos die endtye. Of is dit maar net hoe die Antroposeen vorentoe gaan lyk?
Die Antroposene era, sê die meeste definisies, het begin toe die mens se ingrype in die natuur so oorweldigend begin raak het dat die veranderinge geologiese dimensies kry. Maar dis ’n moeilike begrip, wat blyk uit die probleme wat opduik wanneer ’n mens dit wil toepas op ’n ander stel syfers wat hulself dié week tussen al die globale kwessies kom deursmokkel het: In Suid-Afrika word elke dag drie kinders doodgemaak. Elke dag. Drie. Kinders.
Daar was Tazne van Wyk, wie se dood in ’n mediasirkus ontaard het. Waar lees ’n mens van die res? vra die digter Corné Coetzee, my vrou. Sekerlik word met “kind” bedoel ook pubers en tieners wat mekaar met messe steek, maar die vraag geld steeds: Hoe gebeur dit dat die magtige mens nie sy kinders kan beskerm nie?
Die “Antroposene” het gewoonlik negatiewe konnotasies: dis die mens wat buitenatuurlike skade aan die natuur doen. Hierdie buitenatuurlikheid behels tegnologie, industrie, ingenieurswese ens wat op ’n liniêre wetenskapsmasjien loop, en wat nêrens anders gedupliseer word nie, en waarvan die ingrype grootskaalse veranderinge aan die aarde se ekologie aanbring.
......
“In Suid-Afrika word elke dag drie kinders doodgemaak. Elke dag. Drie. Kinders.”
......
Maar waar is die grens tussen natuur en mens? Neem die koronavirus. In ’n wetenskaplike ondersoek is ontdek dat Ötzi, die Switserse ysman wat hom 5 000 jaar gelede doodgeval het in die Alpe, mikrobes het wat van Sardinië af gekom het. In Sardinië weer is ontdek dat die mikrobes se geenpoel kleiner gebly het oor millennia heen omdat die mense daar nie eintlik gereis het nie. Het die dood van Ötzi dus ’n pandemie gekeer en so die geskiedenis van die mens verander?
Die waarheid is dat virusse ouer as die berge is. In ’n enkele druppel seewater is daar miljarde. Die teorie bestaan dat virusse die sleuteloomblikke in die evolusie van alle wesens groter as hulle veroorsaak het en intiem saam met hulle bly leef het. Met die koronavirus is groot gewag gemaak van globalisering en hoe dit daardeur versprei is, maar as hierdie teorie waar is, beteken dit nie dis maar net die normale gang van die natuur nie?
Maar wat is die normale gang van die natuur? Daar is die romantiese siening dat die natuur altyd in ’n ekologiese ekwilibrium is, en vir haarself sal sorg, en ons moet net weer ons wortels in hierdie harmonieuse “Gouelokkies”-bestaan vind. Ons weet nou ons is besig om die aarde op te foeter, nou moet ons dit net regmaak deur te begin bome plant dat dit klap.
Dis eenvoudig nie so nie. Dit begin reeds op kwantumvlak, waar dinge ontstaan alleen as fluktuerende konglomerasies van moontlikhede wat tot bepaalde punte kom: Daar is geen voorspelbaarheid nie – nie eens die tyd kan vaspen wat aangaan nie. Volgens een teorie is daar ’n evolusionêre proses aan die gang, in die sin van Darwin se “survival of the fittest”, wat “the survival of the fittingest” word. Kom daar ’n kosmiese insident waarin ons maar nog net geringe insig het, word alles weer uitmekaar geruk.
Eweneens is daar geen liniêre logika in die natuur nie. Op ons skaal gesien, word die ekwilibrium gedurig versteur: Ons bots met ons eie maan; ’n asteroïde krap die dinosourusse so deurmekaar dat hulle in kuikens verander; die atmosfeer is ’n bol statiese elektrisiteit sonder enige rigting of doel. Bevolkings van lewende wesens ruk gedurig hande uit; jakkalse, spreeus, seekatte. Die tien plae was al met ons van lank voor die farao’s, lank voor die eerste amfibiese wesens op die Karoo se strande uitgekruip het.
Om kinders dood te maak is alledaags in die natuur: Leeus doen dit, wolwe, die arend op Walter Sisulu-park se kranse voor die wêreld se kameras. ’n Terugkeer na die natuur wil ons dus nie eintlik nie, want as ons werklik glo sy sal vir ons die ekwilibrium bring waartoe ons nie in staat is nie, sal ons moet begin dink aan die stelselmatige uitdelging van miljarde mense.
......
“Dit is moontlik dat hierdie diepgesetelde teenstrydighede eendag opgelos sal word eers as die eerste menslike robot met onaardse denkvaardighede aan beheer van sake kom. Miskien is ons dan eers by die volledige Antroposene era. Robotte het ten minste nie kinders wat hulle wil doodmaak nie.”
......
As ek en my hond gaan stap, is dit ’n gedurige stryd om hom kans te gee om die koerant van reuke in die straat te laat lees, maar ook weg te hou van die advertensies, al die KFC-beentjies, die McDonald’s-korsies, die ribbetjies van Steers van die Antroposene era. Sy motto is, eet eers en laat sy eienaar dan wonder hoeveel dit gaan kos as hy siek word.
Sy en ander diere se bekke is verleng gelaat deur evolusie, en hulle doen feitlik alles met die sterk tande daarin en die fyningestelde neus, veel nader aan die molekules as ons. Dit kos net ’n impuls om enigiets te vreet, ook sy lewensmaat se welpies, as hy die wolf gebly het wat hy lank terug was.
Die mens, daarenteen, se sentrale instrumente is sy hande en sy stem. Hy kan beide beheer, met sy geopponeerde duime en sy unieke asemhaling, in noue integrasie met virtuele instrumente in sy brein: idees. Maar dis ook nie waar die verskil lê nie – hou jou hond dop en jy sal sien hy het ook idees.
Die verskil lê in daardie beheer: Ons kan ons idees vorm gee in onnatuurlike skeppings. Dis waarom sommige filosowe glo die Antroposene era het nie begin met die eerste alfabet of selfs spraak deur hominiede nie, maar die dag toe die mense volle beheer kon toepas op die mees basiese vlak: die kern van die atoom. Dit was op 16 Julie 1945, in die Jorna del Muerto-berge in Nieu-Meksiko, met die eerste kernontploffing.
Daarom is die kommerwekkendste nuus van die week dalk die aankondiging deur Donald Trump dat hy meer geld aan nuwe kernwapens wil bewillig. Trump, wat sy vingers gebruik vir impulsiewe twiets en om vrouens op Antroposene maniere te gryp. Beheersing is inderdaad die probleem. Is dit die natuur met sy instinkte, insluitende doodinstinkte, of die Antroposene mens met sy apokaliptiese idees oor soms bonatuurlike beheersing wat ons tot op die rand van selfuitdelging gebring het?
Dit is moontlik dat hierdie diepgesetelde teenstrydighede eendag opgelos sal word eers as die eerste menslike robot met onaardse denkvaardighede aan beheer van sake kom. Miskien is ons dan eers by die volledige Antroposene era. Robotte het ten minste nie kinders wat hulle wil doodmaak nie.
Buro: MvH