Vanaand, terwyl die kort hand om die agt draai
Sit ek in stilte in hierdie Voorvadersland.
Stilte vir ’n oorlog wat ’n wêreld nie voor gevra het nie.
Stilte vir dié wat nooit hulle stories sou kon vertel.
Stilte vir dié wat dit altyd sal onthou.
En stilte vir dié wie se name ek nooit sal weet nie.
75 jaar van Vryheid nou sonder Vryheid met die mooiste beelde van respek, rou en hartseer herdenk.
Dodelike stilte val oor hierdie Voorvadersland vanaand, terwyl die kort hand om die agt draai.
Liam Hugo is ’n aspirantskrywer en kunstenaar. Hy woon in Nederland en is tans besig met die laaste jaar van sy BMus-studies deur Unisa en neem vanaf Junie operalesse in Amsterdam. Hy gesels met Cliffordene Norton.
Wanneer het jy Nederland toe getrek? Waarom het jy daarheen getrek en hoe lank woon jy al daar?
Ek woon al vir die afgelope ses maande in Nederland. Ek het 19 Januarie op Schiphol geland. Ek het Nederland toe getrek omdat ek die kultuur van Europa wou beleef, maar deur steeds te doen waarvoor ek lief is. Klassieke musiek, kuns en skryfwerk vorm ’n groot deel van my lewe en in Nederland is daar soveel geleenthede om dit te kan beleef en jou kennis en liefde vir die kunste te laat groei.
Ek vind Nederland se kultuur en taal ook al van ’n jong ouderdom af baie interessant.
Hoe is die atmosfeer in Nederland? Stem inwoners saam met die stappe wat ingestel is om die virus te beveg?
Vandat die eerste reëls ingestel is om die virus te beveg, het die meerderheid van die inwoners dit gehoorsaam. Daar was wel ongelukkigheid, maar die mense het verstaan dat die reëls ingestel is om hulle teen ’n onbekende krisis te beskerm.
Watter gevolge is daar vir mense wat nie die regulasies nakom nie?
Die gevolge daarvan om “social distancing” en ander COVID-19-regulasies te oortree word in die vorm van boetes ondervind.
Wat is jou mening oor hoe die krisis deur die Nederlandse regering hanteer word?
Vandat die eerste reëls en regulasies bekend gemaak is, en met die stelselmatige terugkeer na ’n nuwe vorm van normaal vind ek dat die Nederlandse regering die krisis briljant hanteer het.
Die Nederlande regering het dadelik opgetree om die virus onder beheer te kry sodat hulle kwesbare groepe kan beskerm en seker te maak dat mediese dienste die druk van die virus kan hanteer.
Watse werk doen jy en word jou werk deur die pandemie beïnvloed?
Ek werk tans as ’n au pair, en agv die pandemie was skole vir byna twee maande gesluit. Deur die pandemie het ek meer tyd saam met die kinders en my gasheerfamilie kon spandeer, wat vir my fantasties was, en ek sal nie daai tyd vir die wêreld verruil nie.
Wat doen jy om jouself besig te hou tydens lockdown, wanneer jy nie werk nie?
Om myself besig te hou lees ek vreeslik baie. Gedurende die lockdown het ek al seker sewe of agt boeke klaar gelees en is tans besig met die volgende een. Ek lees tans De brief voor de koning deur Tonke Dragt.
Ek spandeer ook baie tyd aan my skryfwerk, nie net gedigte nie, maar ek toonset die meeste van my gedigte en musikale verwerkings. Af en toe sal ek ook kyk wat nuut is op Netflix.
Van die wêreld afgesluit
Met my neus in ’n boek,
En koffie op die tafel,
Wat meer kan jy soek.Met die salige stilte
En die skrywer se woorde
Met Mozart se simfonieë
En sagte akkoordeVerdwaal ek alewig
In ’n stad of ’n woud
In hierdie storie
In ’n wêreld van oud.Van my wêreld afgesluit
Met my neus steeds in die boek,
Met koue koffie op die tafel
Wat meer kan jy soek.
Watter invloed het die pandemie op jou lewe?
Die pandemie het my gewys hoe kwesbaar die mens is vir die onbekende en het my gewys dat jy moet waardeer wat jy het, want alles om jou kan in ’n oogwink verander.
Dit was ook ’n aanpassing om in ’n vreemde land ver van jou vriende en familie so iets te moet beleef, maar gelukkig het ek ’n fantastiese gasheerfamilie wat my tuis en veilig laat voel.
Wat is jou grootste vrese en bekommernisse oor hierdie globale krisis?
Waaroor ek vrees, is dat die wêreld nie sal terugkeer na normaal toe nie. ’n Nuwe vorm van normaal sal oorneem as die krisis verby is.
Gedurende die pandemie het mense vir mekaar bang geword, want jy weet nie waar die ander persoon was nie, of met wie het hy/sy kontak gehad voordat hy/sy jou raakgeloop het nie.
Die woorde “Kan jy asseblief vêrder weg staan?” het normaal geword, so dit voel asof die wêreld soveel kouer en onpersoonlik geword het.
Musiek en kultuur, wat vir my soos brood en botter is, het tot stilstand gekom en ek vrees dat dit moeilik vir kunstenaars sal wees om te herstel.
Ek bekommer my ook oor die mense wat baie verloor het gedurende die tyd, en hoe hulle weer kan terugkry wat hul verloor het.
Hoe beïnvloed hierdie krisis jou emosioneel; hoe bly jy positief?
Emosioneel het die krisis my nie veel geraak nie, omdat ek elke dag waardeer wat ek het. Elke dag as ek opstaan, is dit nog steeds ’n onbekende dag met ’n avontuur wat onder jou neus lê en wag, en dit was vir my om te besluit hoe ek dit my gaan laat beïnvloed.
Ek bevind my vanaand op ’n skoon doek ...
Met nie ’n idee wat om te skryf nie ...
Ek staar na hierdie wit woestyn wat voor my lê ...
Met gedagtes wat soos wolke deur die son weggevee word ...Ek probeer die duine uitklim op soek na woorde ...
Woorde wat die dors in my siel sal les ...
Maar die oase wat êrens in die woestyn van wit lê en wag, is nêrens in sig nie ...
Hier is niks op hierdie kaal landskap te vind nie ...So ek dwaal op hierdie wit doek ...
Op soek na woorde ...
Met ’n pen in die hand ...
Maar niks om oor te skryf nie ...
- Foto’s: verskaf