Klimaatsaktiviste in Johannesburg deur polisie verwyder

  • 0

Die polisie moes Maandag ’n groep klimaatsaktiviste uit Standard Bank se gebou in Johannesburg verwyder.

Die groep aktiviste van Extinction Rebellion wou die ingang na die lokaal waar die direksie vergader, versper.

Die bank se direksie was besig met hulle jaarvergadering toe die aktiviste die ingang probeer versper het. Hulle eis dat die bank ophou om geld in fossielbrandstof te belê.

’n Woordvoerder van die aktiviste, Malik Dasoo, het aan die SAUK gesê indien banke en multinasionale maatskappye voortgaan om geld in projekte te belê wat skadelik is vir die omgewing, gaan daar binnekort nie meer ’n planeet bestaan nie.

Meer as 1 500 betogers van Extinction Rebellion is verlede maand deur die polisie in Nederland in hegtenis geneem nadat hulle ’n groot snelweg in Den Haag versper het.

Tydens die betoging in Nederland het aktiviste op die A12-hoofweg gestap en geëis dat subsidies vir fossielbrandstof beëindig word.

Die polisie het waterkanonne gebruik om die skares uiteen te probeer jaag, maar baie het voorbereid in reënjasse en swemklere gekom.

Die organisasie sê op hulle webwerf die wêreld is in die middel van ’n klimaat- en ekologiese ineenstorting. Hulle voer aan die wêreld is in ’n krisis en lewe self word bedreig.

Verlede Maandag het Extinction Rebellion ’n protesoptrede in Kaapstad gehou ter viering van Wêreldomgewingsdag om hulle misnoeë aan die Suid-Afrikaanse regering en ander Antarktiese Verdrag- konsulterende partye ten toon te stel en ’n permanente verbod op die eksplorasie en ontginning van fossielbrandstowwe in Antarktika te eis.

Vroeër vanjaar het hulle ook voor Standard Bank se gebou in Kaapstad betoog. Dit was in solidariteit met die aktiviste in Uganda en Tanzanië wat die bou van ’n 1 443 km lange ruoliepypleiding (bekend as #EACOP) deur hul lande teen te staan.

Hulle sê talle mense is as gevolg daarvan van hulle woonplekke ontneem en verneder terwyl vleilande in die slag bly en biodiversiteitbrandpunte skade ly.

Tydens die betoging in Kaapstad het die betogers onder die groot Standard Bank-logo buite die Heerengracht Boulevard-tak gaan sit en nagemaakte olie oor hulle koppe gegooi om te demonstreer dat die bank se finansiële steun van #EACOP ’n “vuil en vernietigende belegging” is.

“Ons moes onsself letterlik van die grond af skil, want die nagemaakte olie het gestol en die betogers teen die grond vasgegom. Ons het water saamgebring om die vloer skoon te maak, maar het nie die praktiese aspekte van hoe ons dit sou doen deurdink nie (nota aan onsself: bring volgende keer ’n mop),” het een van die betogers tydens daardie geleentheid op Facebook geskryf.

Die groep eis op hulle Suid-Afrikaanse webwerf dat die regering saam met ander instellings die waarheid vertel oor klimaatsverandering en ’n klimaat- en ekologiese noodtoestand verklaar om die dringendheid daarvan te kommunikeer.

Hulle sê daar moet nou opgetree word om die verlies aan biodiversiteit te stuit en kweekhuisgasvrystellings teen 2025 tot netto nul te verminder.

“Dit is nie nou die tyd om die kwessies te ignoreer nie; dit is nou die tyd om op te tree en die waarheid in die oë te kyk. Die wetenskap is duidelik. Ons is in die middel van ’n massa-uitwissing weens ons eie toedoen en ons regerings doen nie genoeg om hul burgers, ons hulpbronne, ons biodiversiteit, ons planeet en ons toekoms te beskerm nie.”

Die aktiviste sê hierdie krisis ken geen grense, ras of etnisiteit nie, en hoewel rykdom dalk ’n mate van beskerming bied, is dit tydelik. “Die horlosie tik, en as ons nie daarin slaag om te verenig om ons planeet te beskerm nie, sal almal geraak word – jy, jou gesin, almal en alles wat vir jou dierbaar is,” sê die groep.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top