Koalisiebestuur in Suid-Afrika weer onder die vergrootglas

  • 0

Suid-Afrika berei hom al hoe meer voor op die moontlikheid van koalisieregerings na afloop van volgende jaar se algemene verkiesing.

Selfs al slaag die opposisiepartye nie daarin om die ANC op nasionale vlak uit die kussings te lig nie, bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat sekere provinsies wel deur ’n koalisie regeer sal word.

Die oë is veral op Gauteng en KwaZulu-Natal gerig, waar die ANC gevaar loop om die beheer te verloor. Gauteng oorheers die Suid-Afrikaanse ekonomie in elke groot sektor behalwe landbou, terwyl die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal (KZN) ook van die land se drie rykste provinsies is.

Die Sentrum vir Goeie Regering in Afrika sê in ’n verklaring die 2024 Suid-Afrikaanse verkiesing, wat waarskynlik in Julie of Augustus gehou sal word, sal ’n aansienlik ander politieke en regeringslandskap in Suid-Afrika skep.

Dit sal ’n eksponensiële impak op alle Suid-Afrikaanse burgers en alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing en sfere van regering hê.

Die Sentrum vir Goeie Regering in Afrika is ’n afdeling van die Skool vir Maatskaplike Innovasie by die Hugenotekollege in Wellington. Hulle hou op 5 en 6 Desember in vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat ’n konferensie en werkswinkels oor koalisieregering in Suid-Afrika by die Andrew Murray-sentrum in Wellington.

Onlangs was koalisieregerings ook die onderwerp van bespreking tydens ’n beraad oor ’n raamwerk vir koalisies wat vroeg in Augustus deur adjunkpresident Paul Mashatile belê is, asook tydens die beraadslagings wat gelei het tot die veelpartyhandves vir Suid-Afrika wat later in Augustus deur William Gumede gefasiliteer is.

Tydens die komende beraad sal kenners en deelnemers koalisiebestuur in Suid-Afrika ontleed met die fokus op die kompleksiteite en probleme wat met koalisiebestuur geassosieer word. Die spanning wat met sulke regerings gepaard gaan, magsdinamika en beleidsimplementeringsuitdagings wat in koalisiebestuurscenario’s ontstaan, is van die sake wat ter sprake sal wees.

Erwin Schwella van die Skool vir Maatskaplike Innovasie sê die uitdagings van regering in Suid-Afrika is ’n voortdurende bekommernis. Hy sê in onlangse jare het die ontstaan van koalisieregerings beide geleenthede en kompleksiteite in die regering en politieke landskap van die land gebied.

“Aangesien Suid-Afrika ’n pad van doeltreffende bestuur met integriteit wil inslaan, is dit noodsaaklik om die verwikkeldheid van koalisiebestuursreëlings te verken en maniere te vind om die hindernisse te oorkom.”

Schwella sê soos wat die land besig is om komplekse politieke landskappe te navigeer, is dit van kardinale belang om die potensiaal van koalisies te ondersoek, asook lewensvatbare oplossings om bestuur te verbeter deur effektiewe en integriteitgebaseerde koalisiebestuur.

Die #integritasza-2023-konferensie en werkswinkels het ten doel om lig te werp op die probleme wat met koalisiebestuur geassosieer word.

Kundiges sal die deelnemers deur middel van interaktiewe werkswinkels en netwerksessies help om vernuwende strategieë vir effektiewe koalisiebestuur met integriteit te ontwikkel.

Die konferensie sal begin met ’n indringende verkenning van die unieke koalisiebestuursuitdagings wat die land in die gesig staar

Deelnemers sal ook insig kry in die kompleksiteite en slaggate van koalisieregerings. Beide internasionale en plaaslike gevallestudies sal tydens die werkswinkels die spesifieke uitdagings beklemtoon wat ontstaan wanneer verskillende partye kragte saamsnoer in bestuur.

Die identifisering van meganismes vir samewerking, konflikoplossing en beleidsimplementering sal aan die voorpunt van koalisiegesprekke wees.

Belanghebbendes sal ervarings, insigte en navorsingsbevindinge deel wat ’n omvattende begrip van die voordele en slaggate van koalisiebestuur in Suid-Afrika bevorder.

Die konferensie sal ’n platform bied vir deelnemers om saam praktiese oplossings, beleidsaanbevelings en beste praktyke te skep om koalisiebestuur te verbeter, politieke stabiliteit te versterk en effektiewe dienslewering met integriteit te verseker.

Die konferensievennote moedig alle belanghebbendes met ’n belangstelling in koalisiebestuur en Suid-Afrika se politieke landskap aan om aan hierdie geleentheid deel te neem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top