Koebaai koronamaatreëls!

  • 0
Hospitale kan die huidige druk hanteer

Die kabinet in Nederland het besluit om vanaf volgende week Woensdag alle verpligte koronamaatreëls af te skaf, berig die NOS. Slegs adviese soos gereeld hande was en isolasie in geval van besmetting sal nog van krag bly, aldus die minister van Volksgesondheid, Ernst Kuipers. Die aankondiging volg presies twee jaar ná die aankondiging van die eerste inperking. Volgens die nuwe versoepelinge sal maskers in openbare vervoer ook nie meer nodig wees nie. Kuipers sê wel die advies bly om dit steeds te doen. “Je helpt je omgeving beschermen als je besluit om het nog steeds te blijven gebruiken.” Besoekers aan byeenkomste van meer as 500 mense hoef ook nie meer ’n toetsbewys te toon nie. Dit is vanaf volgende week ook nie meer verplig om in kwarantyn te gaan indien jy in kontak was met iemand wat positief getoets het nie. Die advies om tuis te bly werk, verval ook vandeesweek al. Die goeie nuus vir Suid-Afrikaners wat na Nederland wil reis, is dat daar vanaf volgende week geen beperkings meer is om na Nederland te reis nie.

Die minister se aankondiging volg ondanks die styging in besmettings ná die vorige versoepelinge en na karnaval vir die eerste keer in twee jaar toegelaat is. Kuipers sê egter hospitale kan die huidige druk hanteer.

België het verlede week al aangekondig dat ’n koronapas nie meer nodig is as ’n mens ’n restaurant of teater wil besoek nie. Maskers is ook nie meer nodig nie, behalwe in openbare vervoer en sorginstellings.

Nederland stem

Die stemlokale het Maandag geopen vir die drie dae lange plaaslikeregeringsverkiesing, of gemeenteraadsverkiezingen soos dit hier bekend staan. Die meeste stemburo’s het om 07:30 geopen en weer om 21:00 gesluit. Die publiek het nog tot Woensdagaand om te stem. Die doel om die verkiesing oor drie dae te versprei is om drukte by stemlokale te verminder. Hoewel die meeste koronamaatreëls nie meer van toepassing is nie, is stemlokale so ingerig dat die publiek maklik afstand kan hou indien nodig, berig die NOS. Elf munisipaliteite gaan nie aan die verkiesing deelneem nie, omdat verkiesings daar weens samesmeltings of om ander redes reeds gehou is. Enigiemand wat 18 jaar of ouer is en in Nederland woon, mag aan die verkiesing deelneem. Inwoners wat van buite die EU afkomstig is, moet egter al minstens vyf jaar in Nederland woon voordat hulle mag stem.

Verligting vir verbruikers

Een van die gevolge van die oorlog in Oekraïne is die rekordstyging in energiepryse in Europa. Om te keer dat veral mense met ’n beperkte inkomste in die moeilikheid beland, het die kabinet in Nederland bekend gemaak dat aksyns op brandstof vanaf 1 April verlaag word, berig die NOS. Mense met ’n minimum inkomste wat voorheen kompensasie van €200 sou kry, gaan nou €800 kry. “Het is belangrijk dat deze mensen zo snel mogelijk hun geld krijgen zodat ze hun energierekening kunnen betalen,” sê minister Karien van Gennip van Maatskaplike Sake en Werkgeleenthede. Ongeveer die helfte van die petrolprys bestaan uit aksyns en BTW. Vir diesel is dit ongeveer 40%. Vanaf 1 April word die aksyns met 17 eurosent per liter verlaag (R2,66). Vir diesel word dit 11 eurosent (R1,83). Op 1 Julie word die BTW op gas en elektrisiteit van 21% tot 9% verlaag.

In België het die Federale Overheidsdienst Economie aangekondig dat die maksimum prys van diesel met 20,7 eurosent (R3,44) verlaag word tot €2,08 (R34,52). Dit laat die Suid-Afrikaanse prys van sowat R19,91 per liter na ’n winskopie lyk! Intussen het die gaspryse in Europa ook effens begin asemskep na berigte dat Rusland en Oekraïne oor ’n skietstilstand onderhandel. Die prys het met sowat 10% gedaal tot €118 per megawattuur. Dit volg ná die rekordhoogtepunt van €345 weens kommer dat die oorlog en sanksies teen Rusland gaslewering na Europa kan belemmer. België gaan ook vanaf April die BTW op gas en elektrisiteit van 21% na 6% verlaag, berig die NOS.

Steeds meer wegryers by vulstasies

Die skerp styging in brandstofpryse het veroorsaak dat al hoe meer motoriste volmaak sonder om te betaal, berig nu.nl. In Nederland is dit gebruiklik dat motoriste self hul petrol ingooi en dan in die winkel betaal. Aan die begin van die jaar was daar nog sowat 300 mense wat volmaak sonder om te betaal, maar dit het intussen tot sowat 370 per week gestyg, bevestig die organisasie SODA wat boetes van oortreders verhaal. “Ik denk dat er geen toename is van criminaliteit, maar van onmacht,” sê Lourens 't Hart van SODA. “Mensen willen wel betalen, maar kunnen niet betalen.” Op die internet word ’n grappie versprei wat daarop neerkom dat dit meer lonend is om weg te ry sonder om te betaal, aangesien die boete van €131 laer is as die prys wat ’n mens vir ’n vol tenk petrol betaal.

Wat die grap egter nie vertel nie, is dat jy benewens die boete nog steeds ook vir die petrol moet betaal.

Eienaars van vulstasies kla ook dat hulle al hoe meer te make kry met mense wat sê dat hulle hul beursies by die huis vergeet het, maar beloof om terug te kom om te betaal en dit dan nooit doen nie.

Waardevolle skat tydens verbouing ontdek

Eeue oue munte is tydens bouwerk aan ’n ou woning in Bronkhorst in die provinsie Gelderland gevind, berig nu.nl. Die vonds bestaande uit 14 goue en 18 silwermunte is kort ná 1620 onder die vloer versteek, meld die munisipaliteit van Zutphen. Die oudste munt dateer uit die periode 1486–1495. Die munte is agter ’n los steen gevind. Kort nadat die huidige eienaar die munte ontdek het, het hy dit by die argeologiese diens van Zutphen aangemeld. Argeoloë vermoed dat die skat weens die bedreiging van die Spanjaarde tydens die Tagtigjarige Oorlog versteek is. In dié tyd het mense dikwels muntstukke begrawe wanneer gevaar gedreig het. Honderde Spaanse soldate het in 1624 vanuit Groenlo, naby die Duitse grens, in die rigting van Bronkhorst getrek. Die destydse bewoner het vermoedelik sy geld versteek, maar dit toe nooit weer verwyder nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top