Koeëls fluit, papiergeld fladder oor strate, lyke lê gestrooi ‒ die nuwe generasie rooftogte

  • 0

In minder as 120 dae is 159 transitorooftogte in Suid-Afrika uitgevoer. Transito dui op sekuriteitsvoertuie wat geld van sake-instansies na banke vervoer, op Engels cash-in-transit.

Hierdie moderne struikrowers het ’n skrikbewind begin voer wat die beste krimi-skrywer sou verstom. Die verskynsel word al as nuwe-generasie heists bestempel vanweë die onverskrokke toename in die waagsaamheid en organisasie agter hierdie rooftogte.

Videomateriaal (dikwels deur lede van die publiek geneem) toon skoktonele van rookwolke om voertuie, papiergeld wat oor die strate tussen stukke metaal van die brandende trokke gestrooi word, terwyl koeëls van polisiegewere en rowers s’n knetter. Die lyke van geskiete rowers word gesien asook hoe omstanders probeer wegkom van die toneel.

Sulke tonele speel nie in agterpaaie af nie. In besige stadstrate, selfs helder oordag. Vrae ontstaan reeds oor die paraatheid van beide die sekuriteitswagte in die geteikende voertuie sowel as die polisie.

’n Onlangse boek Heist, deur die ondersoekende joernalis Anneliese Burgess wys op die ontwikkeling van binne-inligting wat die rowers help in hul aanvalle. Daar word beweer dat die tentakels van die operasies dui op kriminele samewerking van die polisie, sowel as samewerking van die sekuriteitsbeamptes wat die geldwaens beman.

Hierdie soort rooftogte het al jare gelede begin in die onwettige sigarethandel van oor die Zimbabwiese grens tot in Suid-Afrika. Ondersoeke dui op die samewerking van hoë amptenare in die erg korrupte presidensie van Jacob Zuma. Sy seun Edward word veral genoem in bewerings oor groot kriminele sigarethandel.

’n Glurende Bheki Cele begin skoonmaak 

In sy “skoonmaak”-beleid het president Cyril Ramaphosa nie net ’n nuwe polisieminister nie, maar ook ’n oorhoofse polisiekommissaris aangestel sowel as ’n aantal  verskuiwings op hoë polisievlak gemaak.

’n “Ou hand” in die polisie, Bheki Cele, is as minister aangestel. Bheki Cele is ’n  karakter. Hy dra altyd ’n hoed en dikwels ’n trench coat. Hy het ’n kwaai uitdrukking. Hy laat nie met hom mors nie. Hy het die land belowe dat misdaad ingekort gaan word. Kriminele gaan gevang word. Die polisie gaan vir niks stuit nie. Die land gaan skoongemaak word. Bheki Cele het klaar gepraat.

Die minister het ’n reusetaak vorentoe. ’n Onderbemande en oorgewig-polisiemag waar opleiding nie altyd die eerste prioriteit was nie, is al wesenlik aan die verander. Die beeld van vet, lustelose polisiemanne kouend aan pakkies kos, is aan’t verdwyn.

Staatsekuriteit het onder die vorige regime sinister begin word. Pas het Ramaphosa ’n kommissie aangestel om ongerymdhede te ondersoek in die sekuriteitsafdelings waar tenderbedrog hoogty begin vier het. Dis ’n gedugte ondersoekspan.

Blitssnel het Ramaphosa reeds van die gedugte en baie berugte sekuriteitsbaas Arthur Fraser ontslae geraak deur hom in die Gevangenisdepartement te ontplooi. Kennelik het Ramaphosa nie van Fraser totaal ontslae geraak nie. In sy opspraakwekkende boek The President’s Keepers het die ondersoekende joernalis Jacques Pauw bewerings oor die uitkringende bedrywighede van Fraser gemaak, wat volgens hom plaasvind binne ’n verstommende omvangryke netwerk van misdadigheid.

Minister Bheki Cele gluur nie net vir die kameras nie, ook vir sy manskappe.

Die vele operasies teen transito-roof getuig van ’n nuwe vasberadenheid in die polisie. Maar die skoonmaakoperasie word beduiwel deur mense wat binne-inligting het van die plekke waar groot somme geld opgelaai word tot die teikengebied waar die geld vinnig afgelaai word. Die rowers beplan die rooftogte soos oorlogsoperasies. Dikwels word werklose jongmanne ingetrek om dan uiteindelik as voer vir die polisie te kan dien. Een heist kan tot dertig lede van ’n bende betrek.

Die polisiemag moet ook tans ’n van vlaag kindermishandeling, ontvoering en moord hanteer. Boere, plaaswerkers en kleinboere word steeds deur rowers geteiken en die moordsyfer styg onrusbarend.

Kriminoloë en sielkundiges word toenemend ingetrek in grootskaalse ondersoeke na die oorsake van die toename in die misdadigheid. Bykomend is ’n vlaag moorde op politici aanduidend van die onrus voor ’n groot verkiesing wat aanstaande jaar gehou gaan word.

Navorsing dui daarop dat kinders wat self mishandel is in hul jeug dikwels as volwassenes ander mense, veral kinders, mishandel. Dwelmverspreiding speel stellig die grootste rol in straat- en huisrooftogte. Veral in die Wes-Kaap is bendes baie bekend en gevrees soos The Hard Living Boys, Sexy Boys en die magtige tronkbendes (die Nommers 26, 27 en 28) wat vanuit tronke bendebedrywighede lei.

Suid-Afrikaners is meer versigtig as hulle op straat loop; hulle weet hoe om “omkyk-omkyk” te loop. Is bly om polisiemanne op straat te sien. Knik bevestigend as hulle ’n maer polisieman sien. Hoop dat Ramaphosa die ernstige faksie-probleem in sy regering en regeringsparty hanteer. Dankbaar vir Bheki Cele met sy gluur. Dankbaar vir elke hoofopskrif wat gevange misdadigers toon.

Maar misdaad bly steeds die grootste daaglikse nuus.

  • Foto's: YouTube
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top