Die sluiting van ’n aantal koerante in die Media24-stal hou ’n beduiende gevaar in vir die mediabedryf, die lewensbestaan van talle joernaliste en redakteurs en uiteindelik vir die demokratiese struktuur van ons samelewing.
So waarsku die voorsitter van die mediamaatskappy Caxton, Paul Jenkins, in ’n betaalde verklaring wat in Beeld, Rapport en City Press verskyn het.
Dit volg nadat Media24 verlede maand aangekondig het dat hulle beoog om die gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma, asook die digitale (PDF-) uitgawes van Volksblad, Die Burger Oos-Kaap en Rapport te sluit.
#NOVUS #MEDIA24 #NASPERS
Naspers’s Media24 unit in South Africa is considering closing the print editions of five newspapers and selling its media logistics business and community paper portfolio, reducing headcount by as much as 800 positions, News24 reported.The restructuring… pic.twitter.com/T6cCJ2TmQz
— Marco Olevano, CFA (@MarcoOlevano) June 19, 2024
Jenkins waarsku dat die situasie ’n eksistensiële krisis vir die Suid-Afrikaanse pers verteenwoordig.
Riquadeu Jacobs, die voorsitter van Capital Newspapers (Edms) Bpk, wat Suid-Afrika se oudste dagblad van 178 jaar oud, The Witness, uitgee, sê in dieselfde betaalde advertensie wat in die koerante verskyn het, hulle is baie bekommerd oor Media24 se onlangse aankondiging om die koerante te sluit en op te hou om gedrukte koerante te publiseer.
Hy sê in demokrasieë soos Suid-Afrika speel die media ’n noodsaaklike rol om maghebbers aanspreeklik te hou, korrupsie te bekamp en outoritarisme teen te staan. Volgens The Witness sal die voorgestelde sluiting van Media24 se koerante hierdie demokratiese funksies ’n ernstige knou toedien.
Boonop meen The Witness dat die stap mededingingsimplikasies inhou. Dit skep glo dwingende omstandighede vir ander groot uitgewersgroepe om ook hul gedrukte koerante te sluit en algeheel na die digitale nuusmark te migreer waar Media24 ’n dominante posisie beklee indien Media24 se koerante toemaak.
The Witness meen dat dit met die regte ondersteuning en ingryping moontlik is om ’n oplossing te vind waardeur werksgeleenthede behoue bly en ’n diverse mededingende medialandskap en die beginsels van demokrasie gehandhaaf word.
The Witness Newspaper, Capital Newspapers (Efms) Bpk en Caxton en CTP Publishers and Printers (Edms) Bpk sê hulle het reeds voorleggings aan die Mededingingskommissie oor hierdie aangeleentheid gemaak. Hulle sê dit is ’n saak van nasionale belang en hulle sal aan hierdie proses deelneem sover as wat wetlik toegelaat word.
The newspaper closures are part of a complex transaction involving Media24’s printer, #Novus Holdings, and the sale of its distribution arm, On The Dot.#Moneyweb https://t.co/z08uuulpWP
— Moneyweb News (@Moneyweb) July 2, 2024
Jenkins van Caxton sê die geskiedenis sal streng oordeel oor diegene wat niks doen nie, terwyl ’n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse Grondwet vertrap word. “In die woorde van die digter Dylan Thomas: Moenie saggies in daardie goeie nag ingaan nie. ‘Veg, veg teen die dood van die lig.’”
Volgens Jenkins het Caxton en sy vennote probeer om verskeie alternatiewe aan Media24 voor te stel om ten minste sommige van die koerante in stand te hou en diverse stemme in die media te behou.
Volgens hom is dit verwerp omdat Media24 verkies om die koeranthandelsmerke te sluit en oënskynlik in hul kampioenhandelsmerke van News/Netwerk24 te inkorporeer, ten koste van diverse en kostedoeltreffende demokratiese toegang tot nuus vir die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse lesers. Beeld maak summier toe.
“Media24 het gekies om lewesvatbare alternatiewe wat aan hulle voorgehou is en wat werksgeleenthede kon bewaar en die integriteit van Suid-Afrika se joernalistieke ekosisteem kon behou het, geïgnoreer,” sê Jenkins.
Hy sê pleks daarvan staar honderde joernaliste en personeel nou die harde werklikheid van artikel 189-kennisgewings in die gesig, aangesien Media24 beoog om oor afleggings te konsulteer. “Die uitwerking op indirekte en informele indiensneming soos koerantverkopers is geweldig.”
Intussen het altesame 14 oudredakteurs van Afrikaanse koerante in die Meda24-stal ook reeds ’n brief aan die voorsitter van Media24 se direksie, Rachel Jafta, gestuur. Daarin spreek hulle kommer uit oor die maatskappy se voorstelle oor die sluiting en afskaling van koerante.
Altesame 14 oudredakteurs van Afrikaanse koerante het Saterdag ’n brief aan prof. Rachel Jafta, voorsitter van Media24 se direksie, gestuur. Daarin spreek hulle kommer uit oor die maatskappy se voorstelle oor die sluit van koerante. Lees Maandag in Beeld. pic.twitter.com/dxOUaWWu4b
— Beeld (@Beeld_Nuus) June 30, 2024
Die oudredakteurs sê hulle boekstaaf daarmee hulle teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van die besonder drastiese ingryping, nie net vir gehaltejoernalistiek in Afrikaans nie, maar ook vir die breë Afrikaanse gemeenskap.
Hulle versoek in hulle brief dat die Media24-direksie die besluit heroorweeg om geleentheid vir wye oorlegpleging en besinning te bied.