Die Independent Media-groep sal hulle bewering dat die Thembisa-tienling wel gebore is, asook ernstige bewerings van sogenaamde mensehandel met babas in van die land se staatshospitale, in die hof moet bewys.
Die koerantgroep het die hele land Woensdag na hul asems laat snak toe hulle tydens ’n nuuskonferensie volgehou het dat die tienling wel gebore is. En hulle beweer daar word in staatshospitale handel gedryf met babas, van wie sommige selfs gebruik word om moetie mee te maak.
Independent Media se uitvoerende voorsitter, Iqbal Survé, beweer hulle beskik oor bewyse dat Sithole wel geboorte aan die babas geskenk het. Agt van hulle het volgens hom oorleef en twee is tydens die geboorte dood.
Independent Media sê hulle gaan oor die volgende vyf weke ’n videoreeks vrystel waarin die name van die dokters, verpleegsters en hospitale genoem sal word wat by die saak betrokke was. Hulle sal glo ook kliniese rekords wys om hulle bewerings te staaf en beloof om kykers deur die reis te neem van wat met die babas gebeur het, asook oor die mensehandelsindikaat.
Tembisa 10: A 10-part series detailing evidence found during investigation to be launched https://t.co/bRt8UQipKI
— IOL News (@IOL) October 27, 2021
By die meeste ander mediahuise, ’n groot deel van die publiek en die owerhede heers daar groot skeptisisme oor die ernstige bewerings wat deur die Independent-groep gemaak word en die wyse waarop hulle joernalistiek bedryf.
Die Gautengse provinsiale regering het reeds die staatsprokureur opdrag gegee om regstappe teen die mediagroep in te stel. Hulle sê in ’n verklaring hulle neem kennis van ’n verslag wat Woensdag deur die groep vrygestel is waarin "baie ernstige bewerings teen mediese praktisyns, verpleegpersoneel en hospitaalbestuur gemaak word sonder enige stukkie bewyse om sulke bewerings te staaf".
Gauteng government will be taking legal action against the Independent Media Group pic.twitter.com/uckovxu2xf
— GautengGov (@GautengProvince) October 27, 2021
Die mediagroep beweer dat staatshospitale in Gauteng in die episentrum van mense- en kinderhandel is – wat die rede was waarom Sithole se tienling nooit ontdek is nie.
Die Gautengse woordvoerder, Vuyo Mhanga, het gesê die provinsiale regering kan nie net toekyk terwyl sulke ernstige bewerings gemaak word nie.
"Dit is vroue en mans van integriteit wat elke dag onbaatsugtig en eerlik werk om lewens te red en soms selfs hul eie lewens in gevaar stel. Die regering is verplig om die integriteit van alle staatsamptenare sowel as dié van openbare instellings te beskerm," het Mhanga gesê.
’n Senior advokaat is reeds ingelig om hofstukke voor te berei wat mettertyd aan die groep beteken sal word.
Die Gautengse regering sê hulle het destyds ’n deeglike ondersoek by alle hospitale in die provinsie gedoen om die waarheid al dan nie van die berigte vas te stel. Nie een van die hospitale in die provinsie, publiek en privaat, het enige rekords van sulke geboortes by hul fasiliteite nie.
Ten spyte hiervan het die Pretoria News daarop aangedring dat die storie waar is en dat die babas by die Steve Biko Akademiese Hospitaal gebore is. Volgens die koerant wou die regering en die hospitaalbestuur hulle mediese nalatigheid probeer toesmeer.
Die betrokke moeder is op 18 Junie 2021 in die Thembisa-hospitaal opgeneem. Verskeie mediese toetse is op haar gedoen om haar gesondheidstoestand te bepaal. Die dokters het vasgestel dat sy aan geen babas geboorte gegee het nie en ook nie die afgelope tyd swanger was nie.
Die nasionale Departement van Gesondheid het ook hulle woede oor “die verdoemende en ongegronde bewerings” in die mediagroep se verslag uitgespreek.
Foster Mohale, woordvoerder van die departement, het gesê: “Ons sluit aan by die Gautengse provinsiale regering om enigiemand uit te daag wat glo dat hulle enige stukkie bewyse het wat dui op onetiese praktyke deur enige van ons gesondheidsorgwerkers om ’n formele klag by die relevante openbare instellings soos die Kantoor van Gesondheidsombud [of] Openbare Beskermer in te dien, of om ’n kriminele saak by die wetstoepassingsagentskappe te open vir ondersoek en vervolging."