Een van die NG Kerk se senior predikante, André Bartlett, is deur ’n afgetrede senior kollega daarvan aangekla dat hy valse getuienis gelewer het.
Die NG Kerk se amptelike koerant, Kerkbode, het bevestig dat ’n ondersoekliggaam uit lidmate van die NG Kerk in die Vrystaat saamgestel is om die klag te ondersoek. Die klag is ingedien deur Tokkie Ernst, wat beweer dat Bartlett die negende gebod oortree het, wat lui dat jy nie vals getuienis teen ’n ander mag lewer nie.
’n Voormalige Kerkbode-redakteur, Neels Jackson, het egter op Facebook geskryf die ironie is dat die eintlike, beweerde leuens vermoedelik nie aan Bartlett se kant lê nie.
Bartlett is ook moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode en lid van die NG Kerk se moderamen, wat die hoogste besluitnemingsliggaam van die kerk tussen algemene sinodes is.
Ernst en Bartlett is al geruime tyd in ’n stryd gewikkel oor die NG Kerk se besluit dat homoseksuele paartjies mag trou. Bartlett is ten gunste daarvan en Ernst is sterk daarteen gekant.
Die ondersoekliggaam wou geen besonderhede bekendmaak oor die klag nie. Dit is egter alombekend dat dit onder meer verband hou met Bartlett se uitlatings in die media toe ’n Oos-Kaapse predikant, Chris van Wyk, gesê het as die NG Kerk homoseksualiteit as ’n gawe van God aanvaar, hulle pedofilie op ’n soortgelyke wyse sal moet aanvaar.
Bartlett het verlede jaar aan die Sondagkoerant Rapport gesê Van Wyk is besig met guerrilla-oorlogvoering op sosiale media, saai verdeeldheid en ondermyn die kerk se leierskap terwyl hy deel daarvan is.
Ondanks verskeie pleidooie vanuit kerkgeledere dat daar groter deursigtigheid moet wees oor die klag teen Bartlett, weier die kerk om die presiese inhoud daarvan openbaar te maak.
Die hoof van die ondersoekliggaam, Bertus Celliers, het by navraag namens die ondersoekliggaam aan Kerkbode gesê ter wille van ál die persone wat betrokke is en die billike verloop van die ondersoek wil hulle geen verdere inligting verskaf nie.
Die ondersoek het reeds in Desember begin, maar moes om Covid-verwante redes twee keer uitgestel word. Dit word nou van 10 tot 12 Maart 2021 in Bloemfontein voortgesit.
Die teoloog Chris Jones het in Januarie in ’n meningsartikel op Netwerk24 gesê die geheimsinnigheid oor Bartlett se verhoor is nie in die openbare belang nie. Volgens hom wek hierdie soort geheimhouding agterdog en wantroue, veral as dit oor ’n saak van openbare belang gaan.
Bartlett het hom tot dusver ook van kommentaar weerhou. Hy het egter Kerkbode se berig op sy Facebook-blad gedeel, waar dit groot reaksie uitgelok het van vriende en kollegas wat hom ondersteun.
Bartlett het vroeër op navraag aan Netwerk24 gesê hy weier om enige ooreenkoms te teken wat sy mond vermoedelik verder snoer, behalwe die vertroulikheid wat die kerkorde van die NG Kerk reeds van hom verwag.
Hy het toegegee dat die saak gaan oor dinge wat hy in die openbaar gesê het en waaroor daar in die media geskryf is. Hy het geen probleem daarmee as die inhoud van die klag teen hom in die openbaar bekend gemaak word nie, het Bartlett aan die media gesê.
Volgens ’n inskrywing op Facebook sê Bartlett hy wil dit onomwonde stel dat hy nie deur die NG Kerk aangekla word soos wat baie mense veronderstel nie, maar deur ’n lidmaat van die NG Kerk. “Die ondersoekliggaam wat die klag hanteer, het nie ’n keuse of hulle die saak wil hanteer of nie. Ek het ook volle vertroue dat hulle hulle bes doen om met billikheid en regverdigheid te handel.”
Kerkbode berig dat die ondersoekliggaam volgens die bepalings in die tugreglement na afloop van die ondersoek aan die Ring van Johannesburg, die kerkraad van die Johannesburg-gemeente, die kuratorium van Pretoria, die regskommissie van die Hoëveld-sinode en die Algemene Taakspan Predikantesake verslag sal doen oor die bevindings wat gemaak is.