Anthoni van Nieuwkerk, Jaco Kleynhans, Francois Vreÿ en Gert van der Westhuizen. (Foto: Jean Oosthuizen)
Die heersende wêreldorde is besig om te verander en konflik neem wêreldwyd toe, maar dit beteken nie ’n derde wêreldoorlog is op pad nie.
Dit was die mening van ’n paneel politieke kenners tydens ’n bespreking as deel van Netwerk24 se gespreksreeks by die Woordfees in Stellenbosch.
Die deelnemers was Anthoni van Nieuwkerk, verbonde aan Unisa en ’n kenner van die internasionale politiek, Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, en Francois Vreÿ, emeritus professor by die Militêre Akademie op Saldanha. Die gespreksleier was Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se politieke redakteur.
Die gesprek het plaasgevind teen die agtergrond van die oorlog in Oekraïne, die konflik in die Midde-Ooste wat by die dag erger word, en omtrent die helfte van Afrika wat in oorloë gewikkel is.
Dit laat baie mense wonder wat Suid-Afrika se rol op die wêreldverhoog is in ’n tyd waar die wêreld nog nooit so onstuimig en onseker was sedert die Tweede Wêreldoorlog en die einde van die Koue Oorlog nie.
Van Nieuwkerk sê hy twyfel of ons onsself moet voorberei vir ’n derde wêreldoorlog waar al die groot moondhede en hulle bondgenote betrokke gaan raak in ’n konflik waarin miljoene mense sterf en kernwapens gebruik gaan word.
Hy sê die wêreld bevind hom wel te midde van ’n oorgang tussen ’n ou wêreldorde en ’n nuwe een. In die proses kom daar ’n klomp konflik en spanning los. Die tradisionele na-Tweede Wêreldoorlogse liberale Westerse wêreldorde met Amerika aan die voorpunt word nou uitgedaag deur ’n toenemend invloedryke groep lande in die ontwikkelende wêreld of die Ooste met China op die voorpunt.
Die idee van die Brics-alliansie is volgens Van Nieuwkerk nie om oorlog te maak teen die Westerse alliansie nie. Die idee is om die wêreldorde volgens sekere norme en waardes te herskep. Die Amerikaners word nou uitgedaag en in die proses is daar konflik wat uitspeel.
Kleynhans stem saam en sê mens kan nie vergelykings tref tussen wat vandag gebeur en die Eerste en Tweede Wêreldoorlog nie, omdat die omstandighede soveel anders is.
Die volgende groot konflik is nie noodwendig ’n derde wêreldoorlog soos wat ons dink aan wêreldoorloë binne die historiese konteks nie. Mens moet egter nie die wyse waarop verskillende konfliksituasies in die wêreld tans wel met mekaar verbind is, onderskat nie.
Hy sê dit is duidelik dat konflik wêreldwyd besig is om toe neem, en dit is deel van ’n komplekse magstryd wat die hele wêreldorde deurmekaarkrap.
Die Midde-Oosterse konflik sal volgens Kleynhans uiteindelik bygelê word deur die belange van groepe wat nie in die Midde-Ooste is nie, soos die Amerikaners, die Russe en Chinese, wat almal op een of ander manier ’n rol daar speel.
Hy sê dit alles dui op die behoefte aan ’n herskikking van die globale invloed wat interessante rolspelers na vore gaan laat tree. Die Golf-lande, soos Saoedi-Arabië en ander, is besig om hulle stem dik te maak. Dit mag dalk net wees dat daar ’n goeie scenario kan uitspeel waar daar wel ’n herskikking van globale magsrolle kan wees. Dit kan dalk gesonder wees as dit nie meer net ’n situasie is van Amerika en Europa aan die een kant en Rusland en China aan die ander kant nie.
Vreÿ sê owerhede sukkel om by te bly met die kompleksiteite wat hulle moet hanteer. Hulle veroorsaak konflik en dan het hulle nie goeie antwoorde op die konflik wat hulle geskep het nie. Dit is ’n katalisator wat veroorsaak dat konflikte eskaleer en nuwe rolspelers toetree.
Van Nieuwkerk sê die saak van die Palestyne kan net deur die Israeli’s en die Palestyne en hulle bure, naamlik die Arabiese state, opgelos word. ’n Neutrale bemiddelaar is nog nie op die toneel nie. Hy sê dit is ’n tragedie dat die Verenigde Nasies nie daartoe in staat is om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig nie.