Die DA gaan aan die speaker van die nasionale vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, skryf om ’n debat in die parlement aan te vra oor die hoë leerderuitvalsyfers regoor Suid-Afrikaanse skole.
Derduisende Suid-Afrikaanse kinders wat skool toe begin gaan, haal nooit matriek nie.
Altesaam 897 163 leerders het verlede jaar die matriekeksamen geskryf, maar die graad 10-inskrywings in 2019 was 1 045 424. Dit beteken dat minstens 148 261 leerders binne slegs twee jaar uit die stelsel uitgeval het en nie matriek voltooi het nie.
Die DA glo dit is as gevolg van die streng inperkingsregulasies wat deur die departement geïmplementeer is. Hulle sê hierdie beleid is irrasioneel en onregverdigbaar. Om hierdie rede stel die DA hofstukke saam om ’n dringende interdik te bring om skole te beveel om ten volle oop te maak.
Volgens die DA is die matriekslaagsyfer wat minister Angie Motshekga aangekondig het, ’n opgeblase 76,4% wat nie die werklikheid weerspieël nie. Die party sê die departement verreken nie die aantal leerders wat tussen graad 10 en matriek uitgeval het nie. Die werklike slaagsyfer is volgens hulle 51,4% insluitende uitsakkers.
The matric pass rate announced by Minister, Angie Motshekga, is an inflated 76.4% that does not reflect the reality.
The Department does not account for the number of learners who dropped out between grade 10 and matric. The real pass rate is 51.4% including dropouts. pic.twitter.com/5dSc6US15g
— Democratic Alliance (@Our_DA) January 23, 2022
Sedert 2010 het 5 904 999 leerders uit die stelsel geval. Hierdie getal word bereken deur die aantal matrieks wat hul eindeksamen geskryf het van dieselfde groep wat in graad 10 ingeskryf het, elke jaar sedert 2010 af te trek.
Navorsers het reeds verlede jaar bevind soveel as ’n halfmiljoen meer kinders as wat verwag is, het tydens die pandemie die skool verlaat. Skooluitval het moontlik verdriedubbel van 230 000 leerders prepandemie tot ongeveer 750 000 in Mei 2021.
Sowat 10% van die respondente het verlede jaar aangedui dat minstens een leerder in hul huishouding sedert die begin van die jaar nie teruggekeer het skool toe nie.
Dit is volgens bevindinge van die National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM). Die NIDS-CRAM-opname dek die impak van COVID-19 en die inperkings op Suid-Afrikaanse huishoudings.
Gebaseer op antwoorde deur 5 862 persone tussen 6 April en 11 Mei 2021, en met behulp van data van al vyf NIDS-CRAM-opnames, het die verslag gekyk na leerderuitval, leerverliese, kinderhonger en toegang tot skoolmaaltye.
Tydens ’n vergadering van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys het die Departement van Basiese Onderwys (DBO) die afgelope week onthul dat daar geen meganismes is om leerders op te spoor of in die skool te hou of om hulle aan te moedig om terug te keer skool toe nie. Gegewe die hoë aantal uitsakkers moet die DBO dringend strategieë en oplossings begin implementeer om leerderbehoud in Suid-Afrika se openbare skole te verbeter.
Die DA sê in ʼn verklaring Suid-Afrika het vernuwende oplossings nodig om hierdie groot uitsakkrisis aan te spreek. Die DA het ’n aantal voorstelle om die krisis te bestuur.
Die party se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile “Bax” Nodada, sê die oorsake is veelsydig en vereis die politieke wil om ’n holistiese oplossing te implementeer.
“Ons kan nie toelaat dat hierdie leerders die skool verlaat as gevolg van faktore buite hul beheer nie. Dit is die verantwoordelikheid van die DBO om hulle van die nodige fondamente te voorsien om in die stelsel te slaag.”
Van die voorstelle wat die DA aan die hand doen om die krisis te bestuur, sluit in:
- Ontwikkel en implementeer ’n vernuwende tuisonderrigbeleid. Dit sal baie druk van ’n oorbelaste departement verwyder en ’n verskeidenheid uitdagings oplos, soos onderwysertekorte, leerdervervoertekorte en jaarlikse plasingsprobleme.
- Werk saam met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om leerders op te spoor wat die skool verlaat het, asook om leerders te vind en te plaas wat nog nooit skool bygewoon het nie.
- Implementeer leerderbehoudstrategieë wat leerders motiveer om skool toe te gaan en te bly skoolgaan.
In die Wes-Kaap het die provinsie hul Perform to Transform-strategie geïmplementeer, wat ’n Growth Mindset-program vir leerders insluit om hul geloof in hul eie vermoëns te verbeter. Die strategie bevat ook ’n Change Mindset-program vir onderwysers om meer gewillig te wees om te eksperimenteer, te vernuwe en meer veerkragtig te wees in hul druk omstandighede, wat in beter uitkomste vir leerders weerspieël sal word.
Die DA sê baie leerders het ook nie die voldoende finansiële ondersteuning om op skool te bly nie. Dit is belangrik om hierdie leerders te identifiseer en hulle te verbind met weë waardeur hulle die finansiële ondersteuning kan kry wat hulle nodig het. Dit kan wees deur ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag, die private sektor, maatskaplikewelsynsnetwerke of uitreik na die plaaslike gemeenskap om leerders te ondersteun wat dit nodig het.