Kommer oor persvryheid in Mosambiek ná betogings oor verkiesingsuitslag

  • 0

Die Mosambiekse afdeling van die streekspersvryheidsliggaam MISA (Media Institute of Southern Africa) het sy ernstige kommer uitgespreek oor die uitsetting uit Mosambiek van twee Portugese joernaliste wat verslag gedoen het oor die huidige vlaag betogings teen die voorlopige uitslae van die algemene verkiesing op 9 Oktober.

Die joernaliste Alfredo Leite en Marc Ricardo Silva, spesiale gesante van die Correio de Manha- (CM-) groep, wat verlede week uit Portugal na Mosambiek gestuur is om die betogings te dek, is Sondag na die lughawe begelei om die land te verlaat en na Lissabon terug te keer.

Volgens Leite word die uitsetting geregverdig op grond daarvan dat hulle met toeristevisums pleks van werksvisums gereis het.

’n MISA-verklaring het die uitsetting van die twee joernaliste “in die heftigste terme” veroordeel. Die twee joernaliste, het volgens die verklaring bloot hulle werk gedoen, naamlik om inligting in te samel wat universeel in demokrasieë erken word, aangesien dit ’n waarborg is van die reg op inligting wat alle burgers veronderstel is om te geniet.

MISA “betreur dit dat die Mosambiekse owerhede, in plaas daarvan om op doeltreffende oplossings vir die naverkiesingskrisis te konsentreer, aandring op die verkeerde strategie om joernaliste te teister”.

Hulle het voorgestel dat “in plaas daarvan om joernaliste en ander boodskappers van die huidige krisis te teister, die owerhede moet konsentreer op die oplossing van die probleem wat voortgespruit het uit ’n verkiesingsproses wat nie deursigtig of eerlik was nie”.

MISA sê die aandrang op ’n werksvisum om ’n spesifieke gebeurtenis te dek is net ’n verskoning om joernaliste te teiken wat die onreëlmatighede van die Mosambiekse owerhede tydens die betogings blootlê.

Die twee Portugese joernaliste hou vol dat die gebruik van toeristevisums ’n algemene praktyk is wanneer krisissituasies gedek word en verslaggewers vinnig moet optree om visums te bekom. Hulle het onlangse gevalle soos die oorloë in Oekraïne en Libanon as voorbeelde aangehaal.

MISA sê sulke optrede doen nie Mosambiek se naam in de buitewêreld goed nie en kan die land, wat alreeds ’n slegte reputasie het wanneer dit oor mediavryheid gaan, nog verder skaad. 

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het reeds ’n buitengewone beraad belê om die nasionale krisis in Mosambiek te bespreek. Die beraad word van 16 November in Harare gehou.

’n Zimbabwiese menseregteaktivis en regsgeleerde, Talent Rusere, het volgens die SAUK gesê daar is met ’n ondersoek begin na die onlangse verkiesing in Mosambiek. Wydverspreide betogings kom sedert die verkiesing in Mosambiek voor, en opposisiepartye hou vol dat verkiesingsknoeiery plaasgevind het.

Volgens die amptelike uitslag het Daniel Chapo van Frelimo 71 persent van die stemme gekry. Rusere sê egter daar is aanduidings dat die Zimbabwiese president en dié land se regerende party by die verkiesing ingemeng het. Hy sê die gebeure in Mosambiek is ’n belediging vir die demokrasie en vir die streek.

Reisigers is gewaarsku om “versigtig te bly en op hoogte te bly van die jongste reisregulasies wanneer hulle reise na Mosambiek beplan”.

Die grensbestuursowerheid BMA het intussen aangekondig dat vragbedrywighede by die Lebombo-grenspos die naweek hervat is nadat dit verlede week gesluit is.

Die grenspos is gesluit ná betogings weens politieke spanning in Mosambiek, wat aanleiding gegee het tot berigte van voertuie wat aan die Mosambiekse kant van die grens verbrand is.

Meer as 1 200 vragvragmotors is sedert Sondag by die Lebombo-grenspos geprosesseer.

Die BMA-kommissaris, Michael Masiapato, het gesê dit baan die weg vir ’n volledige heropening van daardie grenspos.

Duisende opposisie-ondersteuners het verlede week die strate ingevaar om hul ontevredenheid uit te spreek nadat die regerende party, Frelimo, as wenner van die Oktober-verkiesing aangewys is.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top