Die oupa en ma van ’n jong dogtertjie van Brits in Noordwes gaan saam met nog ’n man vervolg word op verskeie aanklagte van verkragting nadat daar aanvanklik ’n onwilligheid was om hulle te vervolg.
Die dogtertjie was net ses jaar oud toe sy na bewering in 2018 verskeie kere gewelddadig verkrag is.
Die aanklaer in Brits het sonder konsultasie met die huidige pleegouers aangedui dat sy nie dink dat daar ’n goeie kans op ’n suksesvolle vervolging is nie. Sy het die saak na die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Pretoria verwys vir oorweging.
Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid daarvan te hore gekom en vertoë aan die DOV gerig het, het die DOV bevestig dat daar wel ’n prima facie-saak teen die beskuldigdes is en dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hulle gaan vervolg.
“Die verbystering van die privaatvervolgingseenheid oor die aanvanklike onwilligheid om te vervolg, word gerugsteun deur die duidelike mediese getuienis wat op erge seksuele geweld dui. Die dogtertjie het, na bewering, beskryf hoe die oortreders ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het tydens die verkragtings en seksuele molestering om te keer dat sy enige geraas maak. Die drie beskuldigdes is aangekla nadat die eenheid op 29 Junie 2021 by die saak betrokke geraak het, maar twee ander verdagtes wat deur die dogtertjie geïdentifiseer is, insluitend die ouma, is nog nie gearresteer nie,” sê Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.
𝐒𝐮𝐤𝐬𝐞𝐬@AfriForum se Privaatvervolgingseenheid behaal oorwinning vir slagoffer van seksuele mishandeling aan begin van 16 dae van aktivisme https://t.co/tvKOAN7vuK
— AfriForum (@afriforum) November 25, 2021
Hy sê die DOV in Pretoria, adv S Mzinyathi, moet gekomplimenteer word vir sy insig om die saak vir verhoor van Brits na Pretoria-Noord oor te plaas.
“Ons weet dat daar aanklaers is wat wondere verrig in sake waar vroue en kinders die slagoffers is, maar ons sal nie skroom om betrokke te raak indien ons sien dat dit nié die geval is nie,” sê Nel. Hy sê die NVG is dit aan die gemeenskap verskuldig om hierdie tipe sake te prioritiseer en toe te sien dat spesialisaanklaers sulke sake hanteer.
Die internasionale veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het Donderdag begin. AfriForum sê in ’n verklaring alhoewel hulle die DOV se besluit om wel vervolging in te stel, verwelkom, is dit kommerwekkend om te dink dat hierdie saak, asook ander sake van geweld teen vrouens en kinders waarin die privaatvervolgingseenheid bystand bied, waarskynlik net sou verdwyn het as hulle nie ingegryp het nie.
For assistance and counselling on #GBVF matters, call the GBV Command Centre on 0800 428 428.
You can also request a social worker from the Command Centre to contact you by dialling *120*7867# (free) from any cell phone. pic.twitter.com/GiA9jOCpeU
— South African Government (@GovernmentZA) November 25, 2021
AfriForum sê hy bly bekommerd oor die hantering van sake van geweld teen kinders in die Brits-streekhof.
Die ma en pa van ’n babadogtertjie is ook onlangs in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind nadat die NVG deur die privaatvervolgingseenheid se toetrede genoop was om te vervolg. Die babadogtertjie se lewensgevaarlike beserings is toegedien nadat die NVG geweier het om die ouers te vervolg op grond van die eerste klagte wat by die SAPD aanhangig gemaak is.
In ’n verdere saak van kindermishandeling, ook in Brits, is daar klaarblyklik besluit om die pa en ma van ’n baba in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria te vervolg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui het dat hulle namens belanghebbendes privaat wil vervolg toe die NVG aanvanklik die saak teen die beskuldigdes teruggetrek het.
Die NVG het egter weer vervolging teen die baba se ouers ingestel nadat AfriForum vertoë aan die DOV gerig het. In hierdie geval het die biologiese ma van die slagoffer, wat op daardie stadium slegs sewe weke oud was, na bewering aan ’n kleuterskooljuffrou erken dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het. Die bewering word gemaak dat die baba brandwonde opgedoen het omdat hy vir lang periodes in die vrieskas gelos is. Daar is ‘n verdere lys van 12 beserings. Hierdie saak sal van 24 tot 28 Januarie 2022 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor word.
Nel sê alhoewel sake teen kinders moeilik is om te bewys, kan dit gedoen word indien die aanklaer met toewyding aan die sake aandag gee
- Die kabinet het Donderdag ook in ’n verklaring kommer uitgespreek oor die veiligheid van kinders na onlangse sporadiese gevalle van kinderontvoerings in verskillende dele van die land. Die kabinet sê in ’n verklaring gedurende die komende feesseisoen moet ouers en versorgers ekstra waaksaam wees oor die veiligheid en verblyfplek van kinders in hul sorg.
During this year's #16DayOfActivism campaign, we call on men to take accountability and to play a
greater role in preventing Gender-Based Violence and Femicide (#GBVF).#16Days #16DaysofActivism2021 pic.twitter.com/E88sFgcUn4— South African Government (@GovernmentZA) November 25, 2021