Kommer oor skole se veiligheid na brugtragedie

  • 0

Foto: YouTube

Die departemente van onderwys en openbare werke behoort onmiddellik strukturele ingenieurs te ontplooi om ondersoek in te stel na die veiligheid en toestand van alle skole in die land.

So sê die onderwyskenner en Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersontwikkelingstrust, Danie van Wyk.

Van Wyk sê die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waarin vier leerders gesterf en verskeie ander ernstig beseer is, mag nie in isolasie gesien word nie.

Hy sê skoolgeboue is in ’n swak fisiese toestand en hou groot gevaar in vir leerders en onderwysers. “Van die skole is asbes- en houtstrukture en is tussen 40 tot 50 jaar gelede opgerig. Skoolbeheerliggame beskik nie oor fondse om groot verbeterings aan te bring of te herstel nie.”

Van Wyk het op navraag aan Voertaal gesê hy is bekommerd oor die fisiese toestand van baie van die openbare skole. “In die Wes-Kaap bestaan daar 31 skole wat totaal vervang moet word. Na navrae en vertoë tot die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is ek ingelig dat die departement slegs drie per jaar kan vervang. Dit sal dus 10 jaar neem om daardie skole te vervang. Ek kan vir jou talle skole noem wat reeds ongelukke is wat net wag om te gebeur,” het ’n bekommerde van Wyk aan Voertaal gesê.

“Die ineenstorting van die loopvlak by Hoërskool Driehoek is ’n tragedie wat mense se lewens in ’n oogwink permanent verander het,” het Van Wyk op sy Facebook-blad geskryf.

Hy is een van talle Suid-Afrikaners wat sy meegevoel betuig het aan die ouers en naasbestaandes van die kinders wat in die voorval omgekom en beseer is. “Ons kan nie weer ’n tragedie van hierdie omvang ervaar nie.” Van Wyk was onder andere verbonde aan verskeie skole in die Wes-Kaap as prinsipaal, waarna hy heeltyds by die onderwysvakbonde betrokke geraak het. Hy was ook hoofonderhandelaar in die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys asook die Staatsdiensbedingingsraad.

Sy kommer oor die veiligheid by skole word deur verskeie ander mense gedeel. Freda Theron het op haar Facebook-blad skryf leerders word in Upington en oral al vir 50 jaar en meer in asbesgeboue onderrig. “Ons het al beloftes gekry van steengeboue wat opgerig sal word, maar dit word net elke keer agterweë gelaat.”

Lyrice Trussell beaam dit: “Jy sal nooit weet hoe kwaad is ek vir die onderwysdepartement nie. Ek weet hoe skole sukkel met geboue wat uitmekaar val. Hoe hulle vertoë op dowe ore val. Jaar in en jaar uit. It's all so damn phuqqed up man! Prioriteit-spandering is heeltemal skeef. Die besluitnemers ploeter net voort om politici tevrede te stel. En dan gebeur Hoërskool Driehoek.”

Rapport het die naweek berig twee leerders van die Hoërskool Driehoek het twee dae voor die brug se ineenstorting gevoel die brug skud toe hulle daaroor loop. Dit was so erg dat hulle weggehardloop het, het een van die leerders aan die koerant gesê. ’n Seun wat saam met haar was toe dit gebeur het, sê dit het geklink of ’n rugbybal die brug tref. Die leerders sê hulle het nie daaraan gedink om die voorval aan te meld nie, want hulle het gekyk maar niks gesien nie.

Die skoolhoof, Hein Knoetze, het aan Netwerk24 gesê hy het gereeld oor die brug gestap en nooit enige fout gesien nie. Knoetze sê die gebou is 42 jaar oud en daar word gereeld instandhouding by die betrokke skool gedoen.

Volgens Netwerk24 is die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) ook bewus van verskeie skole wat al jare wag dat die departement reageer op hul versoeke vir ekstra opknappingswerk.

In een geval het ’n skoolhoof glo jare gelede al die departement per brief gevra vir hulp met die skool se dak. “Ons voorsien ’n ramp,” het hy geskryf maar tot vandag toe is daar nog geen hulp aangebied nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top