Daar heers groot kommer onder politieke partye en belangegroepe oor die styging in gewelddadige plaasaanvalle die afgelope maande in Suid-Afrika.
Die landbou-organisasie Agri SA en die Vryheidsfront Plus het albei in afsonderlike verklarings gesê hulle is diep bekommerd oor die styging in geweldsmisdaad wat volgens aanduidings oor die algemeen aan die toeneem is, asook die kommerwekkende toename in plaasaanvalle wat boere en plaaswerkers in vrees laat leef.
Agri SA sê in hulle verklaring na afloop van die Landelike Veiligheidsberaad wat in Junie gehou is, dat hierdie tendens dui op ’n dringende behoefte aan die implementering van die Landelike Veiligheidstrategie en die resolusies wat by die beraad aangeneem is.
MEDIA RELEASE | Minister Cele must fast-track Rural Safety Summit interventions to combat rising farm attacks
Read more: https://t.co/PnwHMIp9Xi#farm #attacks #rising #foodsecurity #ruralsafetysummit— Agri SA (@AgriSA1904) October 11, 2022
’n Sleuteluitkoms van die beraad was die vorming van ’n geïntegreerde taakspan om prioriteite in landelike veiligheid aan te spreek. Hierdie span het sleutelingrepe geïdentifiseer wat geprioritiseer moet word om landelike veiligheid te verhoog.
Die voorlegging van hierdie ingrypings vir aanvaarding deur die kabinet is volgens Agri SA se uitvoerende hoofbeampte, Christo van der Rheede, lankal uitstaande. Hy het ’n beroep gedoen op die minister van polisie, Bheki Cele, om hierdie proses te versnel en om landelike veiligheid nou aan te spreek.
Geweldsmisdaad was onlangs in die kollig, insluitend die moord op ’n Duitse toeris in Mpumalanga. Veral daardie provinsie het ’n buitensporige toename in gewelddadige plaasaanvalle ondervind, insluitend die wrede panga-aanval op ’n boer op sy plaas. Die opwaartse neiging in hierdie aanvalle is nou al maande duidelik, en dringende optrede is nodig, sê Agri SA.
“Ons kan nie toelaat dat ongebreidelde geweld voortgaan om die lewens van lede van Suid-Afrikaanse boerderygemeenskappe te bedreig nie. Daar kan ook nie toegelaat word dat ’n algemene klimaat van wetteloosheid landelike lewensbestaan en plaaslike voedselproduksie in gevaar stel nie. Dit is jammer dat die minister van polisie versuim het om landelike veiligheid in sy begrotingsrede vroeër vanjaar aan te spreek. Boeregemeenskappe dra nou die gevolge van hierdie gebrek aan klem op landelike veiligheid. Die regering moet onmiddellik stappe doen om hierdie oplewing in geweld die hoof te bied, aangesien Suid-Afrika se plaaslike voedselproduksie en voedselsekerheid in die weegskaal hang,” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid en Landelike Veiligheid.
Van der Rheede sê die nasionale ontwikkelingsplan plaas ’n premie op landbou-ontwikkeling en werkskepping, wat op sy beurt aansluit by die sektor se verantwoordelikheid om voldoende en bekostigbare voedsel te produseer.
Hy sê Suid-Afrika se vermoë om plaaslik voedsel te produseer, moet nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. “Dit is broos en afhanklik van die skepping van veilige en stabiele boerderygemeenskappe. Hierdie imperatief sal Agri SA se kongres later vandeesweek ondersteun waar die sektor se belanghebbendes, insluitend die regering, onder die tema ‘Growing local’ sal saamkom om die uitdagings wat die land se landbousektor in die gesig staar aan te pak,” het Van der Rheede gesê.
Hy sê kleinskaalse en kommersiële boere moet saam met plaaswerkers erken en beskerm word as ’n deurslaggewende bate vir die land. Die verbetering van hulle veiligheid deur die effektiewe implementering van die nasionale Landelike Veiligheidstrategie behoort ’n saak van nasionale belang en dringendheid te wees.
“Gegewe die bekende tekortkominge van polisiëring in boerderygemeenskappe, doen ons ’n beroep op boerderygemeenskappe om bykomende veiligheidsmaatreëls te tref. Gemeenskappe moet waaksaam wees en hul sekuriteit opskerp. Ten spyte van die ondoeltreffendheid in die stelsel, rapporteer alle verdagte mense, aktiwiteite en misdade by jou naaste polisiestasie. Dit is noodsaaklik om goeie kommunikasie met die plaaslike polisie te handhaaf.”
Die VF Plus het ook die plaasaanvalle ten sterkste veroordeel waarin Nicky Janse van Rensburg gedood en twee ander mense, ’n vrou en ’n seun, beseer is.
Die party sê in hulle verklaring met hierdie toevoegings tot die plaasmoordstatistiek is daar geen twyfel dat die aanslag op boere ná die hofuitspraak oor die struggle-lied “Kill the boer" in felheid toegeneem het nie.
Marcelle Maritz, VF Plus-LPW en provinsiale leier, het besoek afgelê by die slagoffer se woning en het verneem dat mnr. Janse van Rensburg koelbloedig in die huis geskiet is. https://t.co/ob9qYOktG7
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) October 10, 2022
Janse van Rensburg is vermoedelik Vrydagmiddag 7 Oktober tussen 17:00 en 18:00 aangeval op ’n plaas by Roedtan in Limpopo.
Marcelle Maritz, VF Plus-LPW en provinsiale leier, het besoek afgelê by die slagoffer se woning en het verneem dat Janse van Rensburg koelbloedig in die huis geskiet is.
Die huishulp het die vrou en die seun Saterdagoggend, teen mekaar vasgebind, in een van die vertrekke gevind.
Die erns van die situasie verg dat die regering nou gedwing moet word om plaasaanvalle en plaasmoorde tot prioriteitmisdaad te verklaar, sê die VF Plus.
“Nog leë woorde en ’n duidelike gebrek aan politieke wil om hierdie soort misdaad te prioritiseer, gaan moontlik lei tot ’n situasie waar landelike gemeenskappe geregtigheid in hul eie hande gaan neem,” lui die party se verklaring.
Hulle sê die aanslag op boere is nie net tot nadeel van die boere, hul naasbestaandes en werkers nie, maar van die hele Suid-Afrika.
Die party het ’n ernstige beroep op landelike gemeenskappe gedoen om self ook beheer oor hul veiligheid te neem en aan te sluit by georganiseerde veiligheidstrukture in hul omgewing om hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en te verdedig.