Kommissies, korrupsie en (staats)kaping

  • 0

Dit sou nie verbaas as ’n besoeker aan Suid-Afrika wonder of die land ’n vreemde voorliefde vir kommissies van ondersoek het nie.

Moontlik sou die besoeker ook kopkrap oor of dié kommissies meermale ’n aanduiding is van hoe baie in die land verkeerd is (of was), of ’n teken is van goeie regering: dat iets gedoen word aan dit wat reggestel (herstel, omgekeer) moet word.

In die afgelope klompie jare was daar kommissies van ondersoek na onder meer politieke moorde in KwaZulu-Natal, die Marikana-slagting van mynwerkers en die Life Esidimeni-tragedie wat die lewe van psigiatriese pasiënte geëis het. Dit is alles nog vars in die geheue, laasgenoemde bepaald omdat die amptelike opposisie, die DA, pas in sy 2019-verkiesingsveldtog die aandag weer daarop gevestig het.

’n Meer onlangse kommissie was dié na die agteruitgang by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens onder die leierskap van Tom Moyane, wat byvoorbeeld die internasionale bestuurskonsultasiemaatskappy Bain&Co gebruik het om dié kritieke staatsinstelling nie te verbeter nie, maar byna te laat ontspoor.

Tans word die plaaslike nuus oorheers deur die werksaamhede van drie kommissies van ondersoek: dié na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie, die geskiktheid van twee senior amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag, en (seker die vernaamste) beweerde staatskaping, gelei deur die land se adjunkhoofregter Raymond Zondo.

“Staatskaping” was LitNet se Afrikaanse woord van 2016. Dit kom neer op die “kaping” van die staat, of die grootskaalse diefstal van staatsgeld en –hulpbronne, deur gierige politici en skelm sakelui en individue. Die volle omvang daarvan is nog nie bekend nie, maar dit waaroor die media reeds berig het, en die getuienis wat sover by die Zondo-kommissie gelewer is, gee ’n voldoende goeie aanduiding van hoe skokkend erg dit was.

Dit is sekerlik nie ’n verskynsel wat uniek is aan Suid-Afrika of sogenaamde Derde Wêreld-lande nie. Miskien word dit nie oral staatskaping genoem nie; dalk is die bekende(r) weergawe, naamlik “omkopery” of kamstige “fasiliteringsgelde”, elders in sogenaamde ontwikkelde ekonomieë of Eerste Wêreld-lande die gebruik.

Maar dit kom nogtans op dieselfde neer: die “koop” van invloed en staatskontrakte.

Sou jy hierby ook die samespanning of sameswering deur private maatskappye kon voeg waardeur hulle ooreenkom om pryse op ’n sekere vlak vas te stel of om mekaar om die beurt “toe te laat” om tenders of kontrakte te wen?

En hoe vergelyk die probleme in Suid-Afrika in die algemeen met dié in ander lande? Dit is nou as ’n mens enigsins dié soort vergelykings durf tref. Wel, om maar een te noem: die Britte beleef slapelose nagte oor wat die uiteinde sal wees van sy Brexit-onderhandelings oor onttrekking uit die Europese Unie; in ’n ander supermoondheid, die VSA, het die regering vir meer as ’n maand ’n “shutdown” beleef omdat Donald Trump nie sy sin kon kry met die befondsing van ’n anti-immigrante-muur nie.

En in sowel Venezuela as Zimbabwe het die ekonomieë ineengestort, maar terwyl die VSA en Europese lande haastig ingespring het in die krisis in eersgenoemde, is daar geen sulke sprake wat laasgenoemde betref nie, selfs nie eens deur Zimbabwe se eensmalige koloniale heersers (Brittanje) nie.

Strategiese belang is uiteraard hier ter sprake: Venezuela het olie; daarteenoor verwag Zimbabwe dat internasionale mynmaatskappye aansienlike (selfs beherende) aandeelhouding aan plaaslike burgers beskikbaar moet stel.

Die genoemde lande, hetsy Brittanje, Venezuela of Zimbabwe, sou seker ook kommissies van ondersoek na hul eie interne krisisse kon aanstel. In dié geval is die VSA die uitsondering met die Mueller-ondersoek na Russiese betrokkenheid by die 2016-verkiesing. Dit sou na bewering gehelp het om Trump tot president verkies te kry, wat sy sleepvoetende en vyandige houding jeens die ondersoek verklaar.

In Suid-Afrika was die eerste kommissie waarvan die ganse bevolking behóórlik kennis geneem het, en waarby almal sonder uitsondering ’n belang gehad het, die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK). Dié moes die menseregtevergrype gedurende die apartheidsjare ondersoek – aan alle kante van die konflik van die verlede: sowel die ou regering as die vryheidsbewegings (ANC, PAC, Azapo en dies meer).

Die ooreenkoms was dat oortreders amnestie sou ontvang indien hulle die volle waarheid praat; in gevalle waar dit nie gedoen is nie, sou dit tot tronkstraf en ander vonnisse kon lei.

Dit is met hierdie wete in die agtergrond dat ek luister na die aandrang deur sommige opposisiepartye en samelewingswaarnemers dat daar onmiddellik opgetree moet word teen diegene oor wie daar by die Zondo-kommissie getuig word, asook teen die oortreders wat kom getuig en hulself in staatskapingsvoorvalle impliseer.

Ook Cyril Ramaphosa word nie die roede gespaar nie: Hoewel hy aangedui het dat hy onbewus was van ’n omstrede “skenking” van die maatskappy Bosasa en dat hy dit intussen terugbetaal het, maak die aantygings voor die Zondo-kommissie teen dié maatskappy dat hy deur sommige oor dieselfde kam van korrupsie geskeer word.

Maar Ramaphosa volhard met sy aandrang op onskuld (onkunde?) en het dit ook so aan die Openbare Beskermer gestel. Dit was met dieselfde selfversekerdheid dat hy dit aan beleggers by die onlangse Wêreld Ekonomiese Forum in Davos onomwonde gestel het dat sy hande skoon is – en ook sy gewete.

Waarop hy sekerlik nie voorbereid kon gewees het nie, is dat vyf handelsvennote aan hom sou skryf, soos wat onlangs in die Sunday Times berig is, om ook aan te dring op spoedige en daadwerklike optrede (“tasbaar” is die woord wat hulle gebruik het) teen onder meer die oortreders van staatskaping en korrupsie.

Dié lande is Duitsland, Brittanje, Nederland, die VSA en Switserland.

Soos ook met plaaslike rolspelers wat aksie eis, weet ’n mens nie of hulle tronkstraf as die enigste gepaste optrede beskou en of hulle te vinde sou wees vir ’n ander soort straf nie. Waarop ek afstuur, is die moontlikheid dat mense wat by die Zondo-kommissie getuig, behoort te kan kwalifiseer vir ’n soort amnestie, soortgelyk aan dié wat deel van die WVK-proses was; dieselfde behoort te geld vir oortreders wat bereid is om te kom getuig of hul eie betrokkenheid volledig en eerlik bloot te lê.

Maar dit is gevaarlike terrein hierdie, want wie onder ons is by magte om te besluit watter gewig korrupsie (of staatskaping) dra teenoor moord en ander menseregtevergrype wat by die WVK ter sprake was?

Hoe gou vergeet ons nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top