Koning van die diereryk slaap in sel

  • 0

Nóg ’n koning van die diereryk het die afgelope week sy rieme styfgeloop en moes ’n nag in die polisieselle agter tralies deurbring nadat hy amok gemaak het.

Die jong leeumannetjie, Mufasa, het op 15 Februarie uit die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes ontsnap. Hy is Woensdag naby Sutherland in die Noord-Kaap aangekeer en moes in die polisiekantoor se selle slaap.

Dit is nie die eerste keer dat ’n leeu moeg geword het vir die lewe in die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes en elders groener weivelde wou gaan verken nie. ’n Paar jaar gelede het ’n leeu ook landwyd opslae gemaak toe hy twee keer óók uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap het. Die eerste keer was in 2015 en toe weer in 2016.

Die leeu wat later Sylvester gedoop is, het meer as 370 km buite die park rondgeloop. Nadat hy die tweede keer ontsnap en weer gevang is, is hy na die Kuzuko Private Natuurpark net noord van die Addo Olifantpark in Oos-Kaap, verskuif. Sylvester het intussen vrou gevat. Hy en sy leeuwyfie Angel het twee welpies.

SANParke het die nuus van Mufusa se “inhegtenisname” Woensdag op Twitter aangekondig.

Mufusa wat langer as die beroemde Sylvester soek was, het vir 27 dae lank spoorsnyers en helikopters ontduik voordat hy in die polisiesel beland het.

“Hy is hier. Hy het die aanhoudingselle vir homself. Hy is besig om sy roes af te slaap,” het ’n polisiebeampte aan Netwerk24 gesê nadat hy aangekeer en per helikopter na die selle geneem is.

Die joernalis Julius Janse van Rapport het ’n video van Mufusa se tronklewe op Twitter  gedeel.

Die avontuurlustige leeu sou gister sy tweede helikoptervlug onderneem wanneer hy teruggeneem sou word na die Karoo Nasionale Park in Beaufort-Wes.

’n Video van die ontsnapte leeu se terugreis Karoo Nasionale Park toe is ook op Twitter gedeel.

Of hy nou soos sy voorganger Sylvester weer ’n ontsnappingspoging gaan aanwend of tevrede gaan wees met sy ou koninkryk, is ’n ope vraag. Dit wil voorkom of die gras tog groener is aan die ander kant van die draad.

Kort na sy aankoms by sy nuwe blyplek drie jaar gelede het Sylvester maats gemaak met ’n jong leeu Fielies wat saam met hom in die kamp was. Hy en Fielies het boesemvriende geword en RSG het onlangs berig Sylvester en sy maanhaar-vriend is nou die rustige heersers van dié gebied. Sylvester het ook met sy vaderskap gewys dat hy 100% geïntegreer is in die natuur.

“Die twee mannetjies het met twee leeuwyfies in die park ’n sterk band gevorm,” het Gerhard de Lange, algemene parkbestuurder van Kuzuko, lid van die Legacy Hotels & Resorts aan RSG gesê. Al was albei leeuwyfies eintlik op voorbehoeding, het Sylvester se leeuwyfie, Angel, tussen 15 en 20 Junie geboorte geskenk aan twee welpies.

Sosialemediagebruikers was vinnig om die humor van die situasie raak te sien en het die hoop uitgespreek dat die nuwe rondloperleeu Mufusa spoedig in die hof sal verskyn nadat hy in die selle opgesluit is.

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top