Koninklike slaapplek vir vlugtelinge, skoon energie, musiek en motorongelukke

  • 0
Koningshuise bied onderdak aan Oekraïense vlugtelinge

Die Nederlandse koningshuis het bekend gemaak dat Slot ‘t Oude Loo vanaf middel-April gebruik gaan word om Oekraïense vlugtelinge te herberg. Die ou jagkasteel is geleë in die Paleispark naby Apeldoorn en dateer uit die 1400’s. Die kasteel is gewoonlik nie vir die publiek toeganklik nie. Die gebou behoort sedert die jare ’70 aan die staat, maar word deur die koninklike familie gehuur en gebruik.

“Die afspraak is gemaakt in opdracht van Zijne Majesteit de Koning, de huurder van het Slot, tussen de Dienst van het Koninklijk Huis, het Rijksvastgoedbedrijf (als eigenaar), het Centraal Orgaan opvang asielzoekers, de veiligheidsregio Noord- en Oost-Gelderland en de gemeente Apeldoorn” staan daar op die webwerf van die koningshuis.

Daar word verwag dat ses tot agt gesinne in die kasteel sal kan bly.

Die NOS berig die Japanse kroonprins Nahurito en sy vrou Masako het in 2006 vir ’n wyle in die kasteel vertoef om aan te sterk en weg te kom van die streng etiket van die Japanse hof.

Intussen het koning Filip van België ook bekend gemaak dat hy via die Koninklijke Schenking onderdak aan Oekraïense vlugtelinge in koninklike geboue gaan bied. Die twee geboue, een in Brussel en een in Wallonië, word op die oomblik gereed gemaak vir die aankomelinge, berig VRTNWS, en sal ook in April gereed wees. "Het oorspronkelijke doel van deze accommodaties was om ze ter beschikking te stellen aan sociale instanties om mensen met een laag inkomen te huisvesten, een missie die goed aansluit bij wat we met de Koninklijke Schenking willen bereiken," sê die voorsitter van die Koninklijke Schenking, Jan Smets.

Besonderse energiepark begin krag opwek

Die nuwe Haringvliet-energiepark in Middelharnis, is Dinsdag amptelik geopen, berig die NOS. Die park bestaan uit ses windturbines, 115 000 sonpanele en 12 houers met batterye wat alles saam dmv een aansluiting aan die kragnetwerk gekoppel is. Die park, die grootste in Nederland, is die enigste waar wind, son en batterye gekombineer word om gesamentlik krag aan die netwerk te voorsien en kan genoeg elektrisiteit vir sowat 40 000 huishoudings opwek. Die uitvoerende hoof van sonenergie by die kragvoorsiener Vattenfall, Margit Deimel, sê: “Hiermee maken we efficiënt gebruik van onze aansluiting op het net, want als het hard waait, is het meestal niet zonnig, en als het zonnig is, waait het meestal niet zo hard.” Die park oorkom dus die probleem dat sonpanele in die winter en saans geen krag opwek nie, maar dit is juis die beste tye vir windmeulens om krag op te wek. Deur die opwekkingsbronne en batterye saam te voeg skep ’n mens meer konstante kragvoorsiening. Omdat die sonpanele om die windturbines aangebring is, neem dit minder plek in beslag. “De invloed op de omgeving is beperkter,” sê Deimel.

Motor ploeg deur skare – talle dood

Ses mense is dood toe ’n motor omstreeks vyfuur Sondagoggend teen ’n hoë spoed in ’n groep mense vasgery het wat besig was met karnavalvieringe, berig VRTNWS. Tien mense is erg beseer en nog 27 is lig beseer. Volgens die polisie was daar geen sprake van terreur nie. Die voorval het in die Belgiese dorp Strépy-Bracquegnies plaasgevind. Die bestuurder, ’n 34-jarige man, is aangekeer. Hy het intussen erken dat hy te vinnig gery het. Hy beweer dat hy ongeveer 90 km/h gery het toe hy in die groep inry. Die maksimum snelheid vir die omgewing is 50 km/h. Hy sê egter dat hy gerem het. Kringtelevisiekameras bevestig dit. Die man bly in aanhouding vir beweerde strafbare manslag, wat in België tronkstraf van tussen drie maande en vyf jaar kan beteken. Intussen blyk dit dat die man ook te veel gedrink het, hoewel sy bloedalkoholvlak net bokant die perk was. Sy passasier was ook dronk.

Intussen is ’n vrou van Ede in Nederland in hegtenis geneem nadat sy na bewering Saterdag met opset ’n man omgery en weggery het, berig die NOS. Die slagoffer, ’n 64-jarige man uit Gaanderen, het ná die voorval aan sy beserings beswyk. Die vrou word van moord verdink. Volgens die polisie was ’n botsing op ’n parkeerterrein die moontlike oorsaak van die voorval. Die polisie het danksy ’n wenk van die publiek die motor van die dader opgespoor. Die vrou van 36 bly in aanhouding. Die polisie het mense met inligting gevra om na vore te kom om met die ondersoek te help.

Strandrestaurant in Zandvoort verwoes

’n Brand het Dinsdagoggend omstreeks 05:00 in ’n restaurant aan die boulevard van Zandvoort naby Haarlem uitgebreek, berig die NOS. Die brand was teen 08:00 geblus, maar die perseel het heeltemal uitgebrand. Dit was die nag redelik windstil, wat verhoed het dat die brand na nabygeleë persele versprei. Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Teen die tyd dat die brandweer op die toneel opgedaag het, was dit nie meer moontlik om te sien waar die brand ontstaan het nie. ’n Woordvoerder van die Veiligheidsdistrik Kennermerland, Dick Kol, sê: “In zo’n geval kan het van alles zijn, dus naar de oorzaak is het gissen.” Niemand is in die voorval beseer nie.

Arvo Pärt-fees word luisterryk afgeskop

Arvo Pärt is sekerlik een van die mees geliefde eietydse komponiste. Sy werk word as minimalisties bestempel. Ander eietydse komponiste wat in die genre skryf, is Philip Glass en Steve Reich. Om hulde te bring aan die gevierde komponis hou die Muziekgebouw aan ‘t IJ vandeesmaand ’n reeks konserte gewy aan die musiek van Pärt. Die openingskonsert word geopen met ’n geskal van 144 skeepshorings deur die klankkunstenaar Christof Schläger oor die IJ-rivier. Schläger beskryf die geskal as “een spel met de landschappelijke ruimte”. Die instrumente is versprei oor die terras voor die Muziekgebouw. Die klank van die skeepshorings trek tot 1 km ver – deur die geboue in die omgewing en selfs die water. Afhangend van waar die luisteraar na die uitvoering luister, verskil die klank. ’n Besonderse ervaring. Die fees loop nog tot 27 Maart, maar byna alle kaartjies is reeds uitverkoop.

Die werk wat hier bo gerepeteer word, is ’n deel uit Pärt se Pari intervallo.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top