Die Konstitusionele Hof het Maandag ’n ernstige terugslag toegedien aan die regering se planne vir groter staatsbeheer oor gesondheidsorg toe dit bepalings van die Wet op Nasionale Gesondheid wat dokters se praktyke sou reguleer, ongrondwetlik verklaar het.
Die eenparige uitspraak word reeds beskryf as ’n moontlike keerpunt in die stryd oor die toekoms van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).
Vir dokters en private hospitale bring die uitspraak onmiddellike verligting. Hulle kan nou voortgaan om praktyke oop te maak of uit te brei sonder die bedreiging van staatsgoedkeuring op grond van “behoefte”. Dit kan volgens kenners help om die groeiende uitvloei van mediese personeel na die buiteland te beperk.
Die hof het artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid van 2003 geskrap. Hierdie bepalings het die sogenaamde sertifikaat van behoefte ingestel – ’n stelsel waarvolgens dokters, spesialiste, verpleegkundiges en private hospitale eers toestemming van die minister van gesondheid sou moes kry voordat hulle ’n nuwe praktyk kon oopmaak, ’n bestaande een kon uitbrei of selfs na ’n ander gebied kon verskuif.
The top court has struck down the certificate-of-need provisions in the National Health Act. The reasoning may have bearing on the bigger fight to come over NHI itself.
Tap the 🔗 for details from @tim_cohen.https://t.co/6E7G6CNSnM
— Currency (@currencynewsza) May 19, 2026
Volgens die staat was die doel om gesondheidsdienste meer eweredig oor Suid-Afrika te versprei, veral na arm en onderbediende gebiede soos landelike streke en townships. Kritici het egter gewaarsku dat dit die regering buitensporige mag sou gee om te bepaal waar mediese personeel mag werk en watter dienste hulle mag aanbied.
Die Konstitusionele Hof het bevind dat die bepalings irrasioneel is en onregverdig inbreuk maak op artikel 22 van die Grondwet, wat die reg beskerm om vryelik ’n beroep te kies en uit te oefen. Die hof het verder bevind dat die wet te veel diskresionêre mag aan die Departement van Gesondheid en sy direkteur-generaal gegee het sonder voldoende waarborge teen misbruik.
Die saak is oorspronklik deur Solidariteit saam met verskeie gesondheidsorganisasies, waaronder die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (HASA) en die Alliansie van Onafhanklike Praktisynsverenigings, hof toe geneem. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het die bepalings reeds in 2024 ongrondwetlik verklaar, maar die Konstitusionele Hof moes die uitspraak bevestig voordat dit finaal kon geld.
Solidariteit het die uitspraak as ’n “nekslag vir ’n sentrale pilaar van die NGV” beskryf. Volgens die vakbond was die sertifikaatstelsel een van die belangrikste instrumente waarmee die staat beheer oor die private gesondheidsektor wou verkry.
“Hierdie uitspraak beskerm die professionele vryheid van dokters en voorkom dat mediese praktisyns soos staatsamptenare behandel word,” het Solidariteit gesê.
'n Groot NGV-pilaar het pas in die Grondwethof geval! Danksy Solidariteit se volgehoue druk mag die regering nie meer vir jou sê na watter dokter jy mag gaan en waar dokters mag werk nie. Anton van der Bijl vertel ons meer. pic.twitter.com/SmjhPXp7oh
— Solidariteit (@solidariteit) May 18, 2026
Die DA het die uitspraak ook in ’n verklaring verwelkom en aangevoer dat dit ’n belangrike grondwetlike presedent skep teen oormatige sentralisering van gesondheidsorg. Volgens die party wys die uitspraak dat die NGV in sy huidige vorm nie die regte voertuig is om universele gesondheidsorg te bereik nie.
ActionSA sê in hulle verklaring die uitspraak is ’n beduidende oorwinning teen staatsoorskryding en skep 'n belangrike grondwetlike presedent namate verdere regsuitdagings teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV-wet) voortduur.
We welcome the Constitutional Court's landmark ruling declaring key provisions of the NHI Act unconstitutional.
These provisions sought to grant the Health Minister sweeping powers to determine where healthcare professionals may practise.https://t.co/Qxl7ZNEjyB
— ActionSA (@Action4SA) May 18, 2026
Sakeliga het intussen gesê die hof het bevestig dat die staat nie onbeperkte mag kan kry om die private sektor te beheer nie en dat gesondheidsbeleid steeds binne grondwetlike perke moet funksioneer. Sakeliga sê hulle sal voortgaan om die NGV-wet en enige ander pogings deur die staat om beheer oor gesondheidsorg te verkry, te weerstaan.
🔴 Sakeliga welcomes Concourt judgment in Solidarity case against "central pillar" of the NHI Act
The Court recognised the professional freedom of medical practitioners, the operational realities and rights of private health establishments, and the importance of patient care. 🧵 pic.twitter.com/43i0CxF3pO
— Sakeliga (@Sakeliga) May 19, 2026
Die Departement van Gesondheid probeer egter die impak van die uitspraak afskaal. Die departement het beklemtoon dat die beslissing niks aan die NGV-wet self verander nie, aangesien die sertifikaatbepalings deel van die ouer Nasionale Gesondheidswet was en nooit formeel in werking gestel is nie.
“Geen afdeling van die NGV-wet is ongrondwetlik verklaar nie,” het die departement gesê. “Voorbereidings vir die implementering van NGV gaan voort.”
Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, Faith Muthambi, het gesê die komitee respekteer die uitspraak en sal nou die minister en senior departementele amptenare ontbied om die implikasies daarvan te verduidelik. Sy het beklemtoon dat die staat steeds ’n grondwetlike plig het om ongelykhede in toegang tot gesondheidsorg aan te spreek.
MEDIA STATEMENT: COMMITTEE ON HEALTH NOTES CONSTITUTIONAL COURT JUDGMENT ON NATIONAL HEALTH ACT https://t.co/WvTuNr6KKd@ParliamentofRSA @faithmuthambi @eNCA @SABCNews @Powerfm987 @Newzroom405 @IOL @TheCitizen_News @News24 @HealthZA @GovernanceClus1 @FinanceCluster pic.twitter.com/D1TYOUNfWt
— Health-and-social-Cluster (@HealthSocClust) May 18, 2026
Kenners meen egter die uitspraak het veel groter simboliese en strategiese betekenis vir die NGV as wat die regering bereid is om te erken. Hoewel die sertifikaat van behoefte nie direk deel van die NGV-wet was nie, is dit wyd beskou as ’n belangrike meganisme om die staat groter beheer oor die verspreiding van private gesondheidsdienste te gee.
Die groter debat oor hoe Suid-Afrika universele toegang tot kwaliteitgesondheidsorg moet bereik, is egter nog lank nie verby nie. Wat die hof nou duidelik gemaak het, is dat selfs goedbedoelde hervormings steeds aan die Grondwet moet voldoen.

