Die grondwetlikheid van die omstrede voorgestelde Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersmisdrywe (Aarto) sal op 15 November deur die Konstitusionele Hof aangehoor word.
Die regering wil met die wet ’n enkele nasionale stelsel skep om padverkeer te reguleer, wat die eksklusiewe wetgewende bevoegdheid van provinsies om dit te doen sal wegneem.
Die meeste van die Aarto-wetgewing is reeds van toepassing in Johannesburg en Tshwane, maar nie in die res van Suid-Afrika nie. Kaapstad stem saam dat die wetgewing ongrondwetlik is.
Kaapstad wil ook hê Aarto moet omvergewerp word en tree op as ’n vriend van die hof. Die Stad sê die wet beïnvloed ook sy finansiële en fiskale magte as plaaslike regering nadelig deur sy inkomste uit verkeersboetes te beperk en bykomende bedryfsuitgawes daarop op te lê.
Die Hooggeregshof het in Januarie die Aarto-wet ongrondwetlik verklaar, maar die minister van vervoer, die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) staan dit teen.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) is die applikant in die hoofaansoek, wat vra vir die bevestiging van die Hooggeregshof se bevel van ongrondwetlikheid.
Outa se argument is dat die Aarto-wet ongrondwetlik en ongeldig verklaar moet word omdat dit die uitvoerende gesag van plaaslike en provinsiale regerings oor verkeersake op munisipale en provinsiale paaie sal oorneem.
READ: #OUTA's #Concourt case is a follow-up to the case which we won in PTA High Court in January, when that court declared the #AARTO Act + the AARTOAmendmentAct to be #unconstitutional. RT
The Concourt will hear OUTA’s case against AARTO on 15 November. https://t.co/HPJukyJua6— OUTA (@OUTASA) November 2, 2022
Suid-Afrika se padsterftesyfer is van die hoogste ter wêreld en daar word algemeen aanvaar dat dit ’n ernstige probleem is.
Outa sê in hulle verklaring padveiligheid is ’n ernstige kwessie wat nie die aandag en hulpbronne kry wat nodig is nie. Aarto is volgens hulle egter nie die oplossing nie, aangesien dit gefokus is op inkomste-invordering eerder as padveiligheid.
Outa glo dat die regering padveiligheid aansienlik moet verbeter deur internasionale beste praktyke aan te neem, dit te monitor en bewysgebaseerde besluite te neem.
Verkeerswette op sigself het volgens Outa min waarde tensy dit geïmplementeer word, en hulle sê huidige implementering is ontoereikend.
Outa het verskeie kwessie geïdentifiseer wat volgens hulle tot die land se padverkeersprobleme bydra.
Volgens die Internasionale Vervoerforum het Suid-Afrika in 2018 22,4 verkeersterftes per 100 000 inwoners gehad het, vergeleke met die Europese Unie se 4,9 sterftes per 100 000 inwoners.
Die RTMC raam die koste van ongelukke (menslike-ongevalle-koste, voertuigherstelkoste en voorvalverwante koste) vir 2021 op R188,31 miljard, insluitend die koste van 10 611 ongelukke waarin 12 545 mense gesterf het.
Oor die afgelope sewe jaar het die RTMC 89 003 padsterftes aangeteken, wat bygedra het tot die geraamde totale koste van ongelukke vir daardie tydperk van R1 151,52 miljard. Daar is geen skattings van ernstige beserings nie.
Outa sê die Padongelukkefonds is gestig om bystand aan padongelukslagoffers en hul gesinne te verleen, maar dit word eerder deur prokureurs en korruptes gemelk.
In Oktober 2022 het die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) massiewe korrupsie in die rybewys- en voertuiglisensiestelsels gevind. Die SOE het 190 190 rybewyse vir kansellasie verwys weens korrupsie en nog 190 173 wat aan oorlede motoriste gekoppel was. Sulke probleme het uiteraard ’n ernstige impak op padveiligheid.
Outa glo ook dat die statistieke oor ongelukke onvoldoende is. Dit lyk byvoorbeeld nie of daar enige statistieke oor beserings of permanente gestremdhede is nie. Data moet nie net van die polisie ingesamel word nie, maar ook van gesondheidsfasiliteite. ’n Databasis is nodig wat ongevallesyfers, padgebruikersgedrag en afdwinging insluit, om noodsaaklikhede soos risikokartering, vorderingsmonitering en internasionale maatstawwe moontlik te maak, sê Outa.
Van die gebiede wat volgens Outa verdere optrede benodig, is: verkeerswetstoepassing en -nakoming, die padwaardigheid van voertuie, bestuursbevoegdheid, infrastruktuur, bestuur- en inligtingstelsels en beter kommunikasie, asook behoorlike openbare opvoeding oor padgedrag.