Die vereenvoudigde aanname dat Afrikaans die taal van wit mense en onderdrukkers is, berus geheel en al op waninligting wat indruis teen die ware geskiedenis van die taal se oorsprong en ontwikkeling.
So het die Konstitusionele Hof in ’n eenparige uitspraak bevind oor die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Die hof het Woensdag bevind dat Unisa se 2016 taalbeleid wat Afrikaans afgeskaf het, ongrondwetlik en onwettig was.
Volgens die hof het Unisa nie daarin geslaag om te bewys dat dit nie redelik en prakties is om voort te gaan met Afrikaans as een van die tale van onderrig aan die universiteit nie.
(2/2) Judgment on Wednesday, 22 September, at 15h00: The University failed to demonstrate that it is not reasonably practicable to continue with Afrikaans as one of the languages of instruction. pic.twitter.com/3SXGH2joZm
— Constitutional Court (@ConCourtSA) September 22, 2021
Die regters sê in hulle uitspraak dat Afrikaans se “swart” geskiedenis aandui dat Afrikaans meer as bloot die taal van “rassiste, onderdrukkers en ongekorrigeerde nasionaliste” is. Dit dra eerder die “indruk van ’n vurige tradisie” van antiimperialisme, antikolonialisme en ’n “alles omvattende menswees en anti-apartheid aktivisme”.
“Alhoewel Afrikaans ontstaan het uit onderdrukking en ’n voortgesette instrument van onderdrukking was, het sy latere ontwikkeling gelei tot ’n heterogene, reënboogtaal wat vandag gebesig word deur meer swart mense as wit mense, ’n wonderlike paradoks van menslike ondernemendheid en kreatiwiteit,” lui die uitspraak verder.
Die Afrikaanse Taalraad sê hulle is verheug oor die uitspraak oor die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by Unisa. Die vraag is egter wat die universiteit nou gaan doen om te sorg dat Afrikaans as onderrigtaal daar bly voortbestaan, het die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp aan Voertaal gesê.
Steenkamp sê die Taalraad sal met afwagting kyk hoe die universiteit op die hofuitspraak gaan reageer. Die Taalraad het AfriForum gelukgewens met hulle oorwinning in die hof oor “die ondeurdagte afskaf van Afrikaans as onderrigtaal aan Unisa”.
Die Taalraad wens Afriforum geluk met hulle oorwinning in die grondwetlike hof oor die ondeurdagte afskaf van Afrikaans as onderrigtaal aan UNISA. Ons hoop die universiteit sal toegang deur Afrikaans vinnig weer in werking stel.
— Afrikaanse Taalraad (@Taalraad) September 22, 2021
Die hof sê in hulle uitspraak van 87 bladsye, wat volledig in beide Engels en Afrikaans gelewer is, vorige beslissings van die hof is glad nie aanduidend van ’n aanvaarding dat Afrikaans onafwendbaar afgeskaal moet word as ’n taal van onderrig en leer in ons land se hoëronderwysinstellings nie.
“Buiten die beginsel dat elke saak op sy eie feite beoordeel moet word, kan Afrikaans se rol in ons instellings en gemeenskapslewe nie bloot verminder word tot ’n vereenvoudigde weergawe van oorheersing en agteruitgang nie. Ons moet waak teen sulke vereenvoudigde weergawes, baie waarvan ontaard uit valse mites aangaande die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse taal,” lui die hof se uitspraak.
AfriForum, wat die saak aanhangig gemaak het, sê in ’n verklaring die hofuitspraak is ’n reuseoorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en ook taalregte in die land.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
Uitspraak in AfriForum-saak oor Unisa-taalbeleid reuseoorwinning vir Afrikaans https://t.co/Yw3ZleNRT5
— AfriForum (@afriforum) September 22, 2021
Die saak is op 20 Mei 2021 deur dié hof aangehoor en uitspraak is voorbehou. Dit het gevolg nadat die Hoogste Hof van Appèl in 2020 ten gunste van AfriForum uitspraak gelewer het oor dié kwessie, met die bevinding dat Unisa se taalbeleid nie in ooreenstemming met grondwetlike voorskrifte aanvaar en geïmplementeer is nie.
Volgens Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, is die uitspraak ná ’n stryd van meer as vyf jaar van reusebelang vir alle Afrikaanssprekende studente in die land, maar ook vir die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal.
Die DA se woordvoerder vir hoër onderwys, Chantel King, het ’n beroep op die rektor van Unisa, Puleng LenkaBula, sowel as die volle raad van die universiteit, gedoen om onmiddellik te bedank weens die hofuitspraak dat Unisa se 2016-taalbeleid wat Afrikaans afgeskaf het, ongrondwetlik en onwettig was.
Sy sê in ’n verklaring terwyl die DA verheug is oor die uitspraak en hulle dank uitspreek teenoor AfriForum en alle rolspelers wat hierdie belangrike sege vir moedertaalonderrig beklink het, dring die party daarop aan dat LenkaBula en die res van Unisa se raad verantwoordbaar gehou word vir die wyse waarop hul die grondwetlike regte van Afrikaanssprekende studente vertrap het.
“Alhoewel LenkaBula eers in 2021 as rektor en visekanselier aangestel is, is dit onder haar leiding dat die universiteit besluit het om te appelleer teen die vroeëre uitspraak van die Appèlhof dat die 2016-beleid ongrondwetlik was,” het King gesê
Die Konstitusionele Hof se volledige uitspraak kan hier gelees word.