Die Konstitusionele Hof, Zuma en Zondo

  • 0

Oudpresident Jacob Zuma het Donderdag vir die soveelste keer ’n bloutjie in die hof geloop. Die Konstitusionele Hof het hom naamlik verplig om voor die Zondo-kommissie te verskyn en getuienis te lewer in die ondersoek na staatskaping.

Die Konstitusionele Hof het beslis dat Zuma antwoorde moet verskaf op die bewerings van 30 getuies wat hom by verskeie oortredings betrek. Die kommissie het in Desember verlede jaar die hoogste hof genader nadat Zuma tydens ’n sitting in November, nog voordat hy moes getuig, saam met sy regspan uitgestap het, wat ’n oortreding is.

Zuma en sy regspan was ontevrede omdat die kommissie se voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo, ’n aansoek dat hy hom as voorsittende beampte onttrek, van die hand gewys het. Die Konstitusionele Hof-regter Chris Jafta het egter Donderdag beslis dat Zuma wel voor die kommissie moet gaan getuig en het ook ’n kostebevel teen Zuma gemaak.

Regter Zondo het vroeër gesê Zuma is deur meer as 30 getuies geïmpliseer en hy kan dit hogeneaamd nie net daar laat nie. Die enigste manier waarop Zuma sou kon aanspraak maak om nie te getuig nie, sou volgens Zondo wees as hy glad nie deur enige van die getuies geïmpliseer was nie.

Hoewel Zuma nou geen ander keuse meer het as om voor die kommissie te verskyn nie, beteken dit nie noodwendig dat hy sy samewerking sal gee nie. Hy sal waarskynlik steeds alles in sy vermoë doen om die ondersoek te bemoeilik. Indien hy nie weer siek pleit nie - soos wat hy al in die verlede gedoen het wanneer hy in die hof moes verskyn – is dit onwaarskynlik dat hy die talle vrae wat aan hom gestel gaan word, sal beantwoord.

Daar word algemeen verwag dat hy sal weier om op die vrae te antwoord en sal aanvoer dat dit hom kan inkrimineer aangesien daar ook hofsake teen hom hangende is wat daarmee verband hou. In so ’n geval is daar niks wat die kommissie kan doen wat Zuma verplig om op die vrae te antwoord nie.

Regskenners meen Zuma se weiering om vrae te beantwoord kan hom wel benadeel in die sin dat regter Zondo sy bevindings sal moet maak op grond van die getuienis wat wel voor hom gedien het. Zondo het vroeër ook aan Zuma gesê dit is tot sy eie nadeel as hy nie sy kant van die saak aan die kommissie wil stel nie.

Intussen het die getuienis die afgelope week verder opgehoop. Die voorsitter van ’n paneel wat aangestel is om die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) te ondersoek, Sydney Mufumadi, het aan die kommissie vertel hoe die agentskap vir die persoonlike gewin van Zuma misbruik is. Mufumadi het onder meer getuig dat die agentskap miljoene rande van 2015 tot 2017 aan Zuma betaal het en dat dit gebruik is om die regbank te beïnvloed in sake waarby die gewese president betrokke was.

Die kommissie het Donderdag sy verrigtinge voortgesit met die getuienis van ’n anonieme getuie, Me K, wat vertel het dat die SVA Zuma se vliegtuig bewaak het, ten spyte van die feit dat daar nie in die begroting vir dié koste voorsiening gemaak is nie. Sy verskyn voor die kommissie namens ene Meneer Y, wat weens ongesteldheid nie oor sy beëdigde verklaring kon getuig nie. Me K het ook vertel dat ’n beskermingseenheid gestig is vir die voormalige president tydens sy ampstermyn. Die getuienisleier, Paul Pretorius, het syfers verskaf wat aandui dat sowat 40 persent van die SVA se begroting herlei is vir die beskerming van Zuma.

  • 0
Top