Koppe begin rol oor Tembisa-skandaal te midde van miljarde se bedrog

  • 0

Die korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal het die afgelope week sy eerste slagoffers begin eis met die skorsing van Lesiba Arnold Malotana, hoof van die Gautengse Departement van Gesondheid en Welstand.

Intussen het die DA gister (Donderdag) kriminele klagte gelê in die Tembisa-hospitaal se korrupsieskandaal. Drie van die party se provinsialeraadslede, Solly Msimanga, Jack Bloom en Madeleine Hicklin, het by die Tembisa-polisiestasie kriminele klagte teen die voormalige Gautengse gesondheidshoof, Lerato Madyo, ingedien.

Sy het die vermoorde fluitjieblaser Babita Deokaran se waarskuwings oor R2 miljard se korrupsie by Tembisa-hospitaal geïgnoreer en nou eis die DA geregtigheid.

“Dit gaan oor aanspreeklikheid, geregtigheid en respek vir elke pasiënt wat gely het terwyl kaders hulself verryk het,” sê die party. Die DA sê hulle sal nie rus totdat elke persoon wat betrokke is by hierdie diefstal van openbare geld, aanspreeklik gehou word nie.

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, wat die grootskaalse plundering van die Tembisa-hospitaal as verdoemend en ontstellend beskryf het, het Malotana Dinsdag met onmiddellike ingang geskors.

Malotana het die eerste persoon geword wat aangetree geword weens die beweerde Tembisa-hospitaalkorrupsie wat deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ontdek is.

Minstens drie sindikate en verskeie kleiner groepe het na bewerig die hospitaal se verkrygingsbegrotings stelselmatig geplunder en aankooporders en dienskontrakte omskep in inkomstestrome vir private tussengangers en toegeeflike amptenare.

“Die Gautengse provinsiale regering herbevestig sy volle steun vir die werk van die SOE en ander wetstoepassingsagentskappe,” het Lesufi gesê. “Ons bly standvastig in ons verbintenis om wanadministrasie uit te roei en die hoogste standaarde van aanspreeklikheid en etiese leierskap te handhaaf.”

Die AmaBhungane Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek het vroeër berig dat ’n fluitblaser Malotana en twee senior amptenare daarvan beskuldig het dat hulle voorsieningskettingprosesse gemanipuleer het om te verseker dat BAS Medxpress (BAS Med) tenders in 2016 en 2017 ontvang. Destyds was Malotana die hoofdirekteur van Spesiale Projekte en uitvoerende hoof van die Gauteng Mediese Nooddienste.

Die SOE het bevind dat omkoopgeld van R122 miljoen in die geheim na korrupte amptenare gekanaliseer is om die plundering moontlik te maak. Hierdie netwerke is aanvanklik deur Babita Deokaran uitgewys, net 19 dae voor haar moord, en later deur News24 se ondersoekreeks Silenced ontbloot.

Die SOE het 15 huidige en voormalige departementele werknemers geïdentifiseer wat betrokke was by geldwassery, korrupsie, sameswering en bodmanipulasie. Tot dusver is 116 dissiplinêre verwysings teen 13 amptenare voorberei, waarvan 108 reeds aan die provinsiale gesondheidsdepartement oorhandig is.

Verskeie organisasies het die parlement en die Gautengse wetgewer gekritiseer vir hul versuim om sterk maatreëls af te dwing. Die woordvoerder van die wetgewer, Thabisile Nzuke, het egter gesê dat die Sektortoesigmodel (SOM) geïmplementeer is om toesig te verseker.

Nietemin het die SOE in hul verslag die versuim van amptenare, insluitend Lesufi en Gesondheid-LUR Nomantu Nkomo-Ralehoko, gekritiseer. Die verslag stel dit dat nie net departementele bestuur nie, maar ook hospitaalpersoneel, hul pligte versaak het, wat die plundering van miljarde rande moontlik gemaak het.

Die DA in Gauteng het teleurstelling uitgespreek oor die vordering van dissiplinêre stappe. Madeleine Hicklin, DA-woordvoerder vir Gesondheid, het gesê dat nie een van die betrokke maatskappye op ’n swartlys geplaas is nie, en dat pensioenfondse van voormalige of afgedankde amptenare nie gevries is nie.

“Lesufi hou aan om Gesondheidsdepartement-amptenare te beskerm,” het Hicklin gesê. Sy het ook beklemtoon dat van die 177 forensiese ondersoeke slegs 76 vrygestel is, waarvan die meeste swaar geredigeer is.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het soortgelyke kommer uitgespreek. Uitvoerende hoof Wayne Duvenage het gevra: “Wat weet hulle wat veroorsaak het dat hulle so lank ‘weggekyk’ het?”

Die Tembisa-skandaal is nie ’n geïsoleerde geval nie, maar ’n simptoom van ’n groter siekte in staatsinstellings. Die blatante oortredings van voorsieningskettingbeleide, die betrokkenheid van senior gesondheidspersoneel, en die politieke beskerming van verdagte amptenare dui op ’n kultuur van straffeloosheid wat dienslewering ondermyn en openbare vertroue vernietig.

Die vraag bly: Sal die koppe wat nou rol, genoeg wees om die stelsel te genees, of is dit bloot kosmetiese chirurgie op ’n terminale pasiënt?

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top